Hy was nie fisiek voorbereid vir die Grail of Trails nie – die Otter-veldwedloop in die asembenemende Tsitsikamma Nasionale Park in die Oos-Kaap.

Opdraandes en afdraandes wissel mekaar oor 43 km af, langs ’n kuslyn “wat net God kon geskape het”.
Daar is van begin tot end net sowat 5 km gelyk grond. Die res is rotse en wortels, trappies op en af, strande vol spoelklippies, sand en riviere wat jy moet oor.  

Vir stappers neem dit vyf dae om dié ikoniese wandelpad te voltooi. Die afsnytyd vir deelnemers aan die wedloop op dieselfde roete is 8 uur. Net die fiksste en taaiste atlete durf dit aan.

Dít is TV-persoonlikheid en mediese dokter Michael Mol wel. As selferkende adrenalienslaaf is geen berg vir hom te hoog en rivier te diep nie. Die vorige jaar (2010) het hy die einste Otter-veldwedloop met gemak kafgedraf.

Maar 2011 was besig, moeilik. ?Hello Doctor*, die mediese program ?op SABC3 wat hy vervaardig en aanbied, het afgeskop. Die dag voor die bekendstelling, op 16 April, het Michael van sy bergfiets afgeval en sy elmboog versplinter.

Ná chirurgie het hy steeds gesukkel om sy elmboog te roteer. Nog drie teater-prosedures later het die chirurg hom kwaai aangespreek. “Drink jou medisyne!” Anti-inflammatoriese middels, wat die genesingsproses sou aanhelp.

Hy gebruik nie graag pille nie. Maar nou móés hy. Drie weke lank, drie keer ’n dag. En toe is dit September en die moordende Grail of Trails wag. Die aand voor die wedloop het Michael met groeiende ongemak geluister na die ander ouens se praatjies oor hul voorbereiding. “Ek was intens bewus daarvan dat ek nie genoeg geoefen het nie. Ek het myself getroos: My lyf is dalk nie so fiks nie, maar my kop is reg!”

“Die eerste 4 km was vinnig en lekker. Maar toe volg die opdraand – en die besef dat jy maande lank vir so ’n wedloop voorberei; nie ’n paar kort oefensessies in die Tokai-bos [naby sy huis in Constantia, Kaapstad] om jou gewete te sus nie.

“By die 30 km-merk het ek begin sukkel, my lyf én kop. Ek sou moes wikkel om betyds klaar te maak. Maar ek het nie geweet of ek die krag het nie. Elke spier in my bene het gepyn. Ek het nog elektroliete en vloeistof gedrink en vorentoe gebeur.”

Emosioneel het iets vreemds met hom gebeur. Hy was omgekrap: Hoekom moet jy trappe klim wat jou dwing om jou knieë tot byna teen jou bors te lig? En dan kom jy aan die ander kant en dis ’n steil afdraand en pynlik. Net om dit weer en weer te moet doen. Kry die organiseerders lekker om jou so te pynig? het hy irrasioneel gedink.

“Uiteindelik is die klimmery verby en ek weet ek moet nou die verlore tyd probeer inhaal. Ek gaan om die laaste draai en Nature’s Valley lê voor my uitgestrek. Die skoonheid daarvan laat my koud. My tone is pimpel en pers van die samepersing in my nat kouse en skoene. Dis séér.

“Net voor die strand is daar ’n kort maar sielsvernietigende opdraand – dan tref ek die harde sand, dankbaar dat die einde naby is. Dat die pyn gaan ophou.

“’n Baanbeampte sê ‘nog net een kilometer’. My hart spring. Maar hy is verkeerd, dis twee. Ek vererg my bloedig, hoe kan hy jou sulke vals hoop gee?  

“Ek draf verby ’n toeskouer en blaf: Hoe ver nog? Sy sou later vertel sy was verbaas oor my kortaf houding, want ek is normaalweg vriendelik. (Ek kan niks daarvan onthou nie.)

“Die pad voel eindeloos en daar is geen teken van die oranje pyle wat aandui waar ons die brug na die eindstreep toe moet oorsteek nie. Ek begin lighoofdig voel en kry tonnelvisie ... begin loop.

“Ek is nou regtig kwaad dat ek nie die pyle kan sien nie. Ek kyk op my horlosie: Dit is 15 minute voor die afsnytyd. Ek kan dit nog maak.

Toe val ek, 300 m van die eindstreep af. Ek probeer myself op my elmboë en knieë stut en opstaan. Maar ek het geen beheer oor my bene nie. Alles om my word swart.”

Hy onthou net flarde van die res.

Stemme wat hom aanmoedig om op te staan. Twee atlete wat sy arms oor hul skouers gooi en hom ’n paar meter ver sleep. Hy wat joviaal sê: “Dis die gees van comrades, nè.” En weer sy bewussyn verloor.   
Michael het bygekom terwyl mense besig was om hom in ’n kajak te laai. Sy oë toe, het hy gevoel daar word oor die lagune geroei, hoe hande hom aan die ander kant oplig en op die oewer neersit, ’n kombers oor hom gegooi word. Ene Michelle het haar as ’n ?dokter voorgestel. Sy het energie-jel ?in sy mond geprop.

Hy het grappies probeer maak. Iemand het voorgestel dat hy hospitaal toe gaan, net om seker te maak alles is reg. Hy het teësinnig ingestem. “Ek was bewus van hoe stadig ek praat en melancholies ek voel. Ek wou nie opstaan nie en net daar onder die kombers in die stof bly lê.

“Ek het met moeite op my knieë gekom, opgestaan en by die eindstreep gaan aanmeld. My tyd was 8 uur 40 minute – hartseer. Ek wou oor die brug hardloop en die wedloop simbolies klaarmaak. Maar my bene was wankelrig en vol krampe. Ek het besef dit sal dom wees.”

Michael het gedink dis maar net uitputting en lae bloedsuiker. By die Mediclinic Plettenbergbaai het sy bloedtoets-uitslae hom verstom: akute nierversaking. Dit kan lewensgevaarlik wees. (Die simptome is aanvanklik baie subtiel. Buiten die duiseligheid, rusteloosheid en verwarring wat Michael ervaar het, kan die volgende gebeur: swelling, veral jou bene en voete, dors, droë mond, vinnige hartklop, slaperig-heid, naarheid en angstigheid.)

Hy is oornag in die George-hospitaal se waakeenheid opgeneem. Jackie, sy vrou, en Joshua (11), Rachael (8) en Naethan (3) sou hulle die volgende dag by hom aansluit vir ’n gesinsvakansie. Hy het gesê dis nie nodig dat hulle vroeër kom nie.

“Die dokter het my uitgevra oor die aanloop tot my deelname. Wat kon die nierversaking veroorsaak het?

“Ek het toe besef hoe dom ek was. Dit was die reeks anti-inflammatoriese middels. Dit het my niere aangetas. En voor dit behoorlik kon herstel, het ek die Otter gehardloop. Ek het voor die wegspring ’n anti-inflammatoriese setpil gebruik. Nes die vorige jaar. Voorsorg vir wanneer die pyn toeslaan.”

Hy het boonop vir die eerste keer drukkouse gedra wat styf om die kuite pas. Dis veronderstel om onder meer die suurstof-toevoer na jou spiere te verbeter. Dit kan egter bydra tot die afbreek van spiervesel en die vrystelling van ’n proteïen (mioglobien) wat sleg vir jou niere is.

Michael blameer ook ’n vals gevoel van selfvertroue. Hy is dalk nie fisiek voorbereid nie, maar sy kop is stérk, het hy homself vertel. Dit sal hom red. “Dit was ’n les wat ek moes leer: Jou kop kan jou net so ver bring.”

Hy was gelukkig. Ná nog bloedtoetse later die aand is hy afgegradeer na fase 3-nierversaking, wat matig is. As jy in fase 5 is, is dialise of ’n nieroorplanting jou voorland. Die nierspesialis het hom daarop gewys dat baie mense onbepaald in die fase bly waarin hy was – en maande en selfs jare lank op die randjie van nierver-saking leef. “Ek het gebid die skade aan my niere is omkeerbaar.”

Ná ’n onrustige nag is sy bloed weer getoets. Dié keer was die diagnose ?fase 2-nierversaking – sy niere was besig om te herstel. Michael is dieselfde dag ontslaan.

Hy gaan gereeld vir bloedtoetse en opvolgbesoeke by ’n nierspesialis. Maar dit lyk asof dit ’n tydelike terugslag was, die sneller die oordosis chemikalieë in sy lyf. Hy is vol energie, draf en ry fiets. Daar is geen teken van nierskade nie.

As hy terugkyk, besef hy hoe gelukkig hy was om op daardie presiese plek sy bewussyn te verloor. “Stel jou voor ek was nog op die wandelpad, dat daar niemand naby was wat my kon help nie. Of dat ek op die brug krampe gekry en my bewussyn verloor het. Ek kon verdrink het.”

Die ironie is: In sy finale mondelinge eksamen as mediese student moes hy so ’n scenario bespreek – ’n atleet wat voor die Comrades ’n anti-inflammatoriese setpil gebruik, inmekaarsak en sterf.

Sulke setpille is algemeen in lang wedlope soos die Two Oceans en Comrades, sê Michael. Maar dis gevaarlik.

En steeds het jy dit gedoen?

“Jy is ’n dokter – en jy is ’n atleet. Nee, maak dit ’n seuntjie. Daardie seuntjie wil die wedloop klaarmaak, in ’n goeie tyd. Ek het myself nog altyd daardie bietjie verder probeer druk, ek wou nog altyd méér doen. Jy bou so karakter, glo ek. En dit was die seuntjie in my wat common sense en die dokter opsygeskuif het.”  

* Sedert 6 April vanjaar heet sy program The Dr Mol Show.

MICHAEL SE BOODSKAP aan voornemende Comrades-atlete (3 Junie vanjaar)

* Voorbereiding is die belangrikste. Moenie ?’n wedloop van daardie ?formaat aanpak as jy ?nie goed voorbereid is nie.

* Moenie dit waag as jou ?liggaam nie 100% reg is nie. ?’n Bietjie verkoue, griep ... ?vergeet dit. Jy kan jou lyf ?oneindige skade aandoen.

* Vermy anti-inflammatoriese middels soos die pes. Dit kan ?lewensgevaarlik wees.

Bykomende bron: Michael se persoonlike joernaal

OM TE WEET

Oefening en pyn

Daar is die konsep dat atlete “deur die pyn moet werk”. Maar wanneer druk jy jou lyf te hard? Prof. Tim Noakes, hoof van die Universiteit van Kaapstad se navorsingseenheid vir oefeningwetenskap en sport-geneeskunde, antwoord:

Moenie oefen as jy siek is nie. Die meeste ernstige toestande gaan jou so ongemaklik laat voel dat dit nie moontlik is om te oefen nie. Jou liggaam is ontwerp om seker te maak jy oordoen dit nie. Dis gewoonlik veilig om aan te hou oefen, mits jy nie erge simptome het wat jou dwing om te stop nie. Oefening se pyn word deur jou eie brein gegenereer en is die sleutelsimptoom wat verseker jy oordoen dinge nie, dat jy ophou oefen voor jy jouself beseer.

Die gebruik van anti-inflammatoriese setpille voor ’n ?marathon is nie ’n goeie idee nie. Daar is ook geen bewyse dat dit enige voordele inhou nie. Dit verminder nie regtig pyn nie, die rede waarom jy dit in die eerste plek neem.