Soggens spring ek met ’n helder kop uit die bed ... en dis onbeskryflik wonderlik. Dit klink dalk nie na iets om oor opgewonde te raak nie, maar net ’n jaar gelede was die prentjie soveel anders: Ek in ’n donker kamer met ys op my voorkop. Elke harde geluid ’n dolksteek deur my brein. Gesmelte yswater wat van my vuurwarm voorkop afloop en meng met my trane.

Dan stoot die naar op in my keel en ek strompel badkamer toe. Kan ’n mens ooit aan iemand wat nog nooit ’n migraine gehad het nie verduidelik presies hoe dit voel? Die dowwe, swaar kop wat geleidelik of skielik ’n intense, folterende pyn word. Dit maak jou rasend. Jy kan nie fokus op wat om jou aangaan nie. Hoor en sien vergaan. Jy voel so ellendig dat jy net wil opkrul in ’n klein bondeltjie en wens jy gaan dood.

My hoofpyne het reeds op laerskool begin. Toe ek twaalf was, het die dokter gedink my oë is dalk die oorsaak, en ek moes bril dra. Ek het díe lelike bril gehaat, en toe ek later besef dit maak eintlik geen verskil nie, het ek dit ‘verloor’ - in die asblik! Tydens my tienerjare het die hoofpyne vererger. Geld vir duur pille was daar nie en ek het met my spaargeld vir my hoofpynpoeiers gekoop. Op kollege het dit dikwels tydens die lang busrit huis toe gevoel asof my kop wou ontplof. Ek het begin werk en die erge hoofpyne is as migraines geïdentifiseer. Ek is van dokter na dokter in my soektog na ’n wonderkuur. Keer op keer is ’n ander pil voorgeskryf - sonder welslae.

Oor die jare het ek alles oor migraines gelees. Ek het elke nuwe pil en raat probeer en elke moontlike opsie ondersoek: berge pille gesluk, die bitterste kruieblare gekou en die walglikste brousels gedrink. In die proses het ek deurmekaar geraak met filosofieë soos ‘mindpower’, joga en transendentale meditasie. Elkeen met die belofte van oorwinning. Ek het gegryp na enigiets wat dalk uitkoms sou bied. Niks het nie. Ek was soos ’n drenkeling wat tevergeefs na die naaste stukkie opdrifsel gegryp het met die hoop dat ek gered sou word. Ek is nie van nature iemand wat bedruk voel nie, maar dit het my moedeloos gemaak dat níks wou werk nie.

Ek onthou hoe my migraines my op my eerste oorsese reis in vreemde situasies laat beland het. Ek lag nou daaroor, maar toe was dit allermins snaaks. Dis erg as jy voel asof jy wil doodgaan en jy jou tussen mense bevind wat nie ’n idee het hoe jy voel nie (en dis onmoontlik om jouself te verskoon). Of jy is op ’n trein of bus en jy kan nêrens gaan lê nie. In ’n bank in Toulouse, Frankryk, het ek vreemd begin voel. Skielik was net die helfte van alles waarna ek gekyk het sigbaar - ’n halwe paspoort, ’n halwe geldnoot, ’n halwe kassier agter die toonbank ... Ek het gelag toe ek na die een helfte van my metgesel kyk en haar daarvan vertel, maar ek het besef iets is nie pluis nie. Dit was ’n voorloper van die verblindende migraine wat later sou toeslaan.

Ander kere het daar sulke flitsende sigsag-patrone voor my oë geswem - my sig totaal en al belemmer. Later het ek uiteindelik ’n pynstiller ontdek wat nie my maag aangetas het nie en my nie lomerig laat voel het nie. Dit het gehelp, want ek kon glad nie werk met ’n ‘kop’ nie, en ek kon nie elke keer huis toe gaan nie. Ek moes vroegtydig die pille drink sodra ek dínk ’n migraine is op pad (ek het seker dikwels onnodig medikasie geneem, want ek wou nie kanse waag nie). Soms het ek te laat pille gedrink - en as die migraine so te sê al gevestig was, het dit vinnig tot die ergste graad vererger. Dan moes die pyn homself uitwoed - wat gewoonlik sowat tien uur geneem het. Slaap het my dan heeltemal ontwyk, maar soms het ek genadiglik in die vergetelheid van skone uitputting weggesink. Die volgende dag het ek gewoonlik soos ’n uitgewaste lap gelyk en gevoel. Heeltemal uitgemergel. Daar was pille in elke handsak en beursie, in laaie, kaste en my motor - vir ingeval. Ek was nie verslaaf nie, maar ek was afhanklik (is daar ’n verskil?) en het dit gehaat.Só het die jare verbygegaan.

 

Die langste wat ek nie 'n migraine gehad het nie, was twee weke

Party vroue se migraines is hormonaal en val saam met hul maandstondes, maar ek kon nooit vasstel presies wat myne veroorsaak nie. Ander ontgroei dit soos hulle ouer word. Myne het vererger. Verlede jaar, op 62, was hoofpyne steeds deel van my lewe. Die langste wat ek nie ’n migraine gehad het nie, was twee weke. Die dokter het ’n paar jaar gelede vir my bloeddrukpille, ’n antidepressant en kalmeermiddel voorgeskryf om migraines te voorkom. Ek het lekker geslaap en soggens ’n bietjie soos ’n zombie gevoel, maar ook dít het geen verskil gemaak nie.

In Mei verlede jaar het ek geweldig naar en moeg begin voel. Sommer elke dag. Ek het dae aanmekaar kwaai migraines gekry, en dit toegeskryf aan stres. Ek het soveel pille gedrink dat ek ’n weerstand daarteen begin opbou het. Die dokter het sterker medikasie voorgeskryf. Maar hoe meer pille ek gedrink het, hoe slegter het ek gevoel. Ek het teruggedink aan hoe ek gevoel het toe ek op sestien geelsug gekry het en gewonder of die naarheid dalk lewer-verwant kon wees. ’n Soektog op die internet het my vermoede bevestig. My dokter het my gestuur vir bloedtoetse en ’n lewer-skandering. Daar was wél fout met my lewer en die pille het dit verder geaffekteer. Dit was ’n bose kringloop: hoe sieker die lewer geword het, hoe meer hoofpyn het ek gekry en hoe meer pynstillers het ek gebruik. Totdat die lewer net nie meer sy suiweringstaak kon verrig nie.

Ek het ’n alternatiewe roete probeer. My man, Arnold, het gehoor van ’n homeopaat, wat ook ’n mediese dokter is, en ek het besluit om hom te raadpleeg. Hy het ’n sg. Quantum-masjien waarmee hy onder meer jou allergieë, kosse wat ’n probleem kan wees en selfs jou emosies ‘meet’. (Jy word vir omtrent twee uur daaraan gekoppel.) Aan die hand van hierdie lys stel die dokter ’n dieet voor en skryf homeopatiese medikasie en vitamiene voor. In my geval moes my lewer eers gesuiwer word. Koringprodukte, suiwel en suiker in enige vorm was taboe. Vrugte soos spanspek, waatlemoen, druiwe, sitrus, droëvrugte en vrugtesappe moes ek ook vermy. Asook koffie en tee (behalwe rooibos). Sjoe ... alles wat lekker is! Die meeste soorte groente kon ek wel eet, behalwe sampioene en peule soos boontjies en lensies. Vir proteïene kon ek vis en hoender sonder vel eet. En rys, rys en nogmaals rys. ’n Groot opoffering, ja, maar ek was desperaat genoeg om enigiets te probeer.

En so het my streng detoksdieet begin - vier weke lank. Ek het hoofpyne gekry soos my liggaam van die gifstowwe ontslae geraak het. Ek moes elke dag tien tot twaalf glase water drink. Ek het natuurlik baie gewig begin verloor (13 kilo’s in 5 maande) en ek was nie gelukkig daaroor nie, want ek was nie voorheen oorgewig nie. Mense het begin vra of ek siek is en kommentaar gelewer oor my maer lyf. Maar daar was niks wat ek kon eet wat vetmaak nie. Op 50 kg het my gewig gestabiliseer.

Ná ’n maand het die dokter my dieet aangepas. Ek kon nou ’n bietjie lamsvleis, koeskoes, ongegeurde jogurt met natuurlike kulture, bokmelk en bokmelkkaas (dis nie suiwel nie) byvoeg. Ek bak brood met rysmeel (heel lekker) en maak rysmelk-poeier aan wat ek in my tee drink en by my hawermout- en Maltabella-pap eet.

Ek eet wat ek kan eet en gaan aan met my lewe

Dis nou amper nege maande later. Ek’s brandmaer, maar voel baie gesond. Ek het hope energie. Migraines regeer nie meer my daaglikse bestaan nie. Ek kry af en toe ’n dowwe hoofpyn, wat ek kan hanteer. Partykeer gaan dit sommer vanself weg - ’n nuutjie vir my! Ek eksperimenteer met kos, maar wyk nie veel af van die dieet nie - dis ’n leefwyse waaraan ek gewoond geraak het. Ek raak soms nog lus vir lekker brood, kaas en sjokolade - ek was mal oor soetgoed. Af en toe sal ek ’n teelepeltjie van iets verbode eet, maar oor die algemeen bly ek eerder heeltemal weg daarvan. Of ek koop nou en dan gesonde koekies by gesondheidswinkels.

Ek het nie cravings nie. Ek eet wat ek kan eet en gaan aan met my lewe. Ek voel so goed, ek wil nooit weer in my ou eetpatroon verval nie, want dan is ek weer terug waar ek was. Ja, dit ís moeite. Jy kan nie gou kitskos gaan koop nie. En uiteet sal nooit weer dieselfde wees nie. Maar etes hoef nie smaakloos te wees nie, ek kan nou al baie vindingryk heerlike kos maak. En met slaaie kan jy baie doen.

Gelukkig is my man op ’n soortgelyke dieet vir ’n mediese probleem en ons hoef dus nie aparte etes voor te berei nie. My swaer, ook ’n migraine-lyer, is getoets op die Quantum-masjien. Hy óók is verlos van sy hoofpyne. Sy hoë bloeddruk is byna weer normaal en sy erge psoriasis en artritis is baie beter. Dat ’n eenvoudige dieet en natuurlike hulpmiddels só ’n verskil kan maak! Ek het vir meer as vyftig jaar gebuk gegaan onder die juk van migraines. Dis kommerwekkend as ek dink aan hoeveel chemikalieë my liggaam oor die jare moes verwerk en die skade wat dit aangerig het. Binne ’n paar maande het ’n wonderwerk gebeur waarvoor ek die Here dankbaar is.

Ek besef nou eers ons ís wat ons eet. Dikwels eet ons verkeerde kos (nie noodwendig gemorskos nie), salig onbewus daarvan dat dit die oorsaak van die probleem is. Medikasie alleen behandel gewoonlik net die simptoom, en selfs vitamiene is nutteloos as ons nie reg eet nie, glo ek. Hierdie is nie ’n kitsoplossing nie. Die behandeling hang ook af van jou liggaam se tekorte en allergieë. Jy moet bereid wees om ’n streng dieet te volg en medikasie ’n kans te gee om geleidelik genesing te bevorder.

* In Februarie 2008 het ek my eerste verjaardag sonder koek en lekkernye beleef - en ek het dit oorleef! My grootste geskenk: die uiteindelike verlossing uit die hel van migraines.

Laat sny jou migraine weg


'n Eenvoudige chirurgiese tegniek wat deur 'n Johannesburgse kaak-gesig-en-mondchirurg ontwikkel is, kan die helfte van alle hoofpynlyers en minstens 60% van migraine-lyers help. Dr. Elliot Shevel, stigter en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Hoofpynvereniging en mediese direkteur van die Hoofpynkliniek in Johannesburg, sê jy kry hoofpyn as oppervlakkige aartjies in jou kopvel gespanne is. In die geval van migraine is meer aartjies betrokke. Hy bind dié aartjies in 'n dagkliniek af. (Koste: R5 000 tot R30 000, afhangende hoeveel are afgebind word.)

Nog 'n oorsaak van migraine is gespanne kaak- en nekspiere. Daarvoor kan jy 'n klein, binnemondse plaatjie dra wat dié spiere laat ontspan. (Koste: R3 000, alles ingesluit). Daar ís migraine-lyers soos Christine vir wie 'n dieet help, maar hulle is in die minderheid. Daar is ook baie individuele verskille: verskillende kosse en chemikalieë kan migraine by verskillende mense veroorsaak. Van die bekendstes is koffie, sjokolade en rooiwyn.

Maar kos is net 'n sneller - nie die wortel van die probleem nie. Stres is nog 'n sneller. Sommige mense se spiere is van nature gespanne. As jy gestres is, trek jou spiere nóg meer saam en dit kan jou oor die pyndrempel stoot. Dr. Shevel sê daar moet bepaal word waar jou pyn vandaan kom (een van die twee oorsake hierbo genoem). Word die onderliggende probleem behandel, kan jy eet of drink wat jy wil - sonder om hoofpyn te kry.

'n Migraine is 'n aanhoudende, kloppende hoofpyn met simptome soos naarheid, braking, lig-, klank- en soms reuksensitiwiteit. Soms sien jy vreemde patrone of flitsende ligte kort voor 'n aanval. As dit nie behandel word nie, kan dit ure of selfs dae lank aanhou. Meer vroue as mans kry dit. Daar is eers gedink net een kant van jou kop word seer. Maar sowat die helfte van migrainelyers het pyn aan albei kante. Migraine word tradisioneel met medikasie behandel: onder meer pynstillers, antidepressante, medikasie vir epilepsie en betablokkers. Dit het egter newe-effekte en help dikwels nie.* Vir meer inligting, besoek www.headacheclinic.co.za, of skakel 0861 678 911. Daar is ook takke in Kaapstad en Durban. - Lydia van der Merwe