Foliensuur-aanvullings kan 'n man se kans verdubbel om prostaatkanker te kry, volgens 'n studie in die Amerikaanse Journal of the National Cancer Institute. Dis net nog een van 'n lang ry studies wat wys jy kan nie vitamienaanvullings drink asof dit lekkergoed is nie. Een groep mans het 'n foliensuur-aanvulling (1 mg p/d) en die ander groep 'n onskadelike suikerpil (plasebo) gedrink. Ná tien jaar was die groep wat die aanvulling gedrink het, se risiko op prostaatkanker dubbel so groot as die plasebo-groep s'n.

'n Milligram foliensuur is nie baie nie. As jy daagliks 2 multivitamien-tablette drink, is die kans goed dat jy reeds sowat 1 mg (1 000 mikrogram) inkry. Heelwat produkte is boonop daarmee verryk, bv. sekere ontbytgraanvlokkies.

Foliensuur is die sintetiese vorm van folaat. Folaat is 'n natuurlike voedingstof wat belangrik vir jou selle se gesondheid is en jou onder meer teen hartsiektes beskerm. Maak seker jou man eet gereeld spinasie, broccoli, Brusselse spruite, donkergroen blaarslaai, kekerertjies, avokadopeer en selfs grondbone, natuurlike bronne van folaat, eerder as om 'n aanvulling te neem.

Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za.