Die TV-persoonlikheid Eloise Cupido is lief vir eet en maak geen geheim daarvan nie. Sy eet soetgoed en skroom nie weg van hamburgers en pasta nie. Haar geheim? Haar dagboek het ook oefensessies ingeskryf!

Hoe getrou en gereeld oefen jy?

Ek probeer vyf keer per week lekker oefen en óf twee rusdae inwerk óf twee dae met net ligte oefening sodat my spiere kan herstel.

Ek sien oefening deesdae as nie-onderhandelbaar, aangesien die voordele daarvan so baie is. Ek doen ook verskillende soorte oefening sodat ek nie verveeld raak nie.

Wat is jou motivering vir ’n gesonde en aktiewe leefstyl?

As jy eers besef dis ’n leefstyl is als makliker. Dit gee my ’n positiewe selfbeeld. Dit voel goed om te weet dat ek na myself kyk en my liefde vir myself demonstreer deur beheer uit te oefen oor wat ek eet en die oefening wat ek doen. Ek ag dit deesdae so belangrik soos asemhaal.

Eloïse en die sanger Stef Bos FOTO: Twitter Eloise en die sanger Stef Bos
FOTO: Twitter

Watter oefening doen jy?

Oefening móét vir my lekker wees. Ek kan hou baie van my vriend Willie Venter se dansklasse. Dis ideaal, want dit is ’n hengse workout en kombineer my liefde vir musiek en dans. Ek doen ook Zumba, spin, joga, bootcamp en ek draf.

Waarom oefen jy so gereeld?

Ek glo dis belangrik om jou liggaam te eer en die regte ondersteuning te gee, veral as jy so volstoom wil leef soos wat ek wil. Toe ek jonger was, was als makliker, ook om jou gewig in toom te hou. Ek is baie lief vir kos en lekker eet. Dis vir my deesdae só belangrik om gereeld te oefen dat ek dit skeduleer in my dagboek.

Eloïse by Arno Jordaan, Karlien van Jaarsveld en Franja du Plessis FOTO: Twitter Eloise by Arno Jordaan, Karlien van Jaarsveld en Franja du Plessis
FOTO: Twitter

Watter soort dieet volg jy?

Ek eet baie groente en vrugte. Wanneer ek goed beplan, eet ek murgpampoentjies, boontjies, mielies, tamaties, slaaiblare en kruie uit my eie tuin. Maar ek eet ook nou en dan ’n burger of pasta. Ek het ’n suikertand, so ek eet wel sjokolade of lekkers en koek. Ek maak net seker dis nie elke dag nie.

Het iemand vir jou ’n eet- en oefenprogram uitgewerk?

Ek is al baie blootgestel aan gesond eet, so ek weet wat om te eet en hoe. Ek eet 3 maaltye per dag (slaai, vrug, groente en proteïne) met proteïn-happies tussendeur sodat ek nie té honger raak en my aan lekkernye vergryp nie. Ek hou ook rekord van wat ek eet.

Wat oefening betref, woon ek klasse by van instrukteurs wat weet wat hulle doen en voorbereid is. Verlede jaar moes ek ’n chiropraktisyn gaan sien vir my rug (ek het van kindertyd af effe skoliose). Dié het my oefeninge gegee om my rug- en maagspiere te versterk.

Hoe laat oefening jou voel?

Ek kry meer selfvertroue. Nadat ek geoefen het, selfs ná die kere wat ek nie lus was nie, voel ek net beter oor myself.

Eloïse en Gareth Cliff FOTO: Twitter Eloise en Gareth Cliff
FOTO: Twitter

Doen dit só: Eloise se sleutel-beginsels

  • Babatreë! En maak seker jy kan die pas volhou. Om alle lekkernye op een slag uit te sny is onrealisties. Gee jouself tyd om die balans tussen eet en oefen te vind.
  • Maak jouself en jou gesondheid ’n prioriteit.
  • Moenie jouself met ander vergelyk nie. Almal se liggaame reageer en lyk anders.
  • Gebruik drie maatstawwe: skaal, maatband en jou klere.
  • Mik vir gesond en fiksheid eerder as om net maer te wees. Nie almal wat maer is, is gesond nie.
  • Dis ’n leefstyl, so die verandering gaan gevolge hê, positief én negatief. Terwyl jy aan jou liggaam aan die buitekant werk móét jy jou prentjie van jouself in jou geestesoog ook aanpas. Jy is mos ’n geheel-mens.
  • Beplan, beplan, beplan! Jy gaan nie oornag gesonde gewoontes kweek nie.
  • Vergeet van hoe dit WAS, werk met dit wat IS.
  • As die mense met wie jy jou huis deel nie jou gesonder leefstyl wil deel nie, wees lief genoeg vir jouself om vir ondersteuning te vra.