Erektiele disfunksie (ED) – nie impotensie nie, asseblief! – is sowat die helfte van mans bo vyftig se lot. Nie net tas dit jou waardigheid aan nie, meneer. Dit kan ook dui op ’n ernstige gesondheidskwessie.

Mans met ED het dikwels hoë cholesterol, diabetes of ander onderliggende probleme.

Dis ook nie net iets wat “omies” oorkom nie, het ’n wêreldwye studie bevind. Maar kom toenemend by jonger mans voor en word dikwels met hartvatsiektes verbind, volgens dr. Odion Aire, uroloog van die Urologie-hospitaal in Pretoria. (Ons is onfiks, eet net so verkeerd en is oorgewig. Voeg stres daarbý en dis slegte nuus vir jou ou tikker.)

ED kan in tot 70% van gevalle ’n vroeë waarskuwing van hartvatsiektes wees. En ’n hartaanval met ’n jaar of twee vooruitgaan. As jou bloedvate verstop raak, gaan dit baie vroeër die klein slagare in jou penis affekteer. Die eerste stap is dus ’n deeglike mediese ondersoek.

“As die gesondheidsprobleem eers behandel is, gaan alles dalk weer klopdisselboom met jou liefdeslewe,” volgens dr. Lorraine Becker van Johannesburg, een van ’n handvol plaaslike dokters met ’n kwalifikasie in seksuele medisyne.

“Ek het ’n pasiënt in sy vyftigs wat weens ED nie ’n nuwe verhouding verder kon voer nie. Toetse het gewys hy het diabetes. Ek het medikasie daarvoor voorgeskryf en ook pille om sy ereksie aan te help. Net om hom weer selfvertroue op daardie gebied te gee.” (Sowat 50% van mans met diabetes sal binne tien jaar ná hul diagnose ED hê. Hoë bloedsuikervlakke kan die senuwees beskadig wat seksuele stimulasie beheer, volgens die University of Utah Health se webtuiste, healthcare.utah.edu. Ook die bloedvate, wat genoeg bloed na die penis moet laat vloei om ’n ereksie te kry en te handhaaf.)

Dis vir haar nie vreemd om agtuur soggens ’n senuweeagtige man voor die spreekkamer te sien rondtrap nie. Lankal daar. Hy kon gisteraand nie sy ding in die bed doen nie. Dit het nog nooit voorheen gebeur nie. Wat nou? Sy weet uit ervaring min dinge maak ’n man so kriewelrig soos wanneer hy nie ’n ereksie kan kry of dit voluit ferm kan hou nie.

Hier is die ding. Jy hóéf nie paniekerig te raak as Jakobregop een keer nie op aandag spring nie. Dis normaal om jou ereksie te verloor as die motoralarm skielik begin skreeu. Jou liggaam skei dan adrenalien af om te veg of vlug en maak gereed vir oorlewing, nie bedkaperjolle nie.

Nou skreeu daar in die moderne lewe aanmekaar verskeie “motoralarms” in jou kop. Jy is angstig, jou werk maak jou depressief en daar gaan honderde goed deur jou brein. Jy hoop seks gaan jou laat ontspan, maar helaas ... Troos jou daaraan, dit gebeur een of ander tyd met almal, sê dr. Becker.

As dit egter ’n gereelde ding is en ’n maand of wat jou sekslewe kortwiek, verander die prentjie. Soek dan hulp.

Dr. Becker weet teen hierdie tyd daar is twee groepe mans: Dié wat hulle na haar toe haas as hulle een keer nie die mas opkom nie. En dié wat ontken daar is ’n probleem. Laasgenoemdes soek gemiddeld eers ná twee jaar hulp.

In ’n studie in The Journal for Sexual Medicine het sowat die helfte van mans met ED (van alle ouderdomme) dit glad nie met ’n dokter bespreek nie. “Jy dink dit sal regkom, dit is net stres ... Of dis normaal wanneer jy ouer raak. As jy in ’n langtermynverhouding is, probeer jy seksuele intimiteit vermy. Jy soek verskonings: ‘Ek is net so moeg!’ Of gaan laat bed toe, wanneer jou vrou reeds slaap.”

Is dit nie maar ’n normale deel van oudword nie?

Nee, sê sy beslis. Dis meer algemeen by ouer mans, maar daar is geen rede waarom jy nie op 100 nog seksueel aktief kan wees nie.

In ’n Amerikaanse peiling onder sowat 5 000 mense tussen 50 en 100 het die meeste nog in seks belang gestel. Sowat 70% het steeds seks gehad of masturbeer.

Sy besoek eendag ’n 88-jarige tannie by ’n tehuis vir bejaardes. Klop aan die deur, hoor ’n geskuifel en gegiggel. ’n Omie maak die deur oop en sê doodluiters: “Ons het net ons middagslapie gehad!”

Dr. Becker se boodskap: Seksualiteit is deel van jou persoonlikheid.

As jou maat dit vermy, moet daar ’n oorsaak wees. Sommige pare is heel tevrede daarsonder. Maar vir ander is dit ’n belangrike deel van ’n verhouding. Vermy hy dit, kan sy dalk dink sy is nie meer vir hom aantreklik nie. Of daar is iemand anders. Groot moeilikheid!

ED het ook ’n uitwerking op ’n man se verhouding met sy vriende en kollegas. Selfs sy produktiwiteit by die werk kan afneem, weens ’n gebrek aan selfvertroue en eiewaarde, volgens medscape.com.

Oorsaak

Daar is baie moontlike oorsake vir ED.

Dit kan insluit:

* Vaskulêre toestande

* Hoë bloeddruk

* Verhoogde cholesterol

* Hartvatsiektes

* Diabetes

* Trauma

* Besering van die ruggraat of bekken

* Neurologiese toestand

* Beroerte

* Parkinson se siekte

* Alzheimer se siekte

* Hormone

* Lae testosteroonvlakke

* Hoë prolaktienvlakke (hiperprolaktinemie)

* Newe-effekte van medikasie

* Antidepressante

Soms kan daar meer as een onderliggende oorsaak wees, volgens dr. Odion Aire. “Dis dus belangrik om jou verleentheid in die sak te steek en ’n uroloog te besoek.”

Behandeling

Dit kan so eenvoudig soos ’n leefstyl-verandering wees. As jy rook, oorgewig is of nie oefen nie, kan dit ED veroorsaak. Begin daagliks 30 minute stap. Jy verloor dalk gewig, voel en lyk beter en het dus meer selfvertroue. (Voor jy begin oefen, besoek jou dokter om die moontlikheid van hartprobleme uit te skakel.)

Stadig met alkohol. As jy saans 5-6 glase whisky wegslaan en voor die TV aan die slaap raak, voorspel dit niks goeds vir jou sekslewe nie, sê dr. Becker.

Medikasie

As Molly in die bui vir vry is, sê sy vir ou Wors: “Ek het jou blou pilletjie oor jou kos gerasper.” Hy is altyd lus vir pret tussen die lakens, maar kan nie meer die mas so lekker opkom nie. Viagra, die blou pilletjie vir ED, is sedert 1999 op die mark en het die behandeling daarvan ligjare vooruit gestoot.

Daar is ook nou ’n generiese ekwivalent van Viagra. Ander, soos Levitra, het gevolg. ’n Nadeel van Viagra en kie is dat jy dit sowat 90 minute voor die aksie begin, moet neem. Vrydagaand is dalk vryaand en hy drink sesuur vol afwagting sy pil. En dan baklei hy en vroulief en dis als verniet!

As jy boonop vooraf ’n vetterige maaltyd eet, beïnvloed dit die pil se werking, sê dr. Becker.

Nog een, Cialis, wat die naweektablet genoem word, is veronderstel om 36 uur lank aktief te wees. Dit werk egter net 18 uur, volgens haar. As jy en jou vrou baklei, kan julle altyd Saterdag weer probeer. Cialis is nou ook in kleiner dosisse beskikbaar vir daaglikse gebruik. Almal behoort aan dieselfde groep medikasie, die enigste verskil is die duur van aksie. Levitra en Viagra 8 uur, Cialis 18 uur.

Het jy geweet? 

’n Groot persentasie van die Viagra en ander tablette vir ED wat aanlyn verkoop word, is namaaksels. (Tot sowat 80% van Viagra, volgens ’n studie deur die farmaseutiese maatskappy Pfizer.)

Sommige kenners reken die syfer is laer.

Nagebootste Viagra kan gevaarlik wees, dís seker. Onder meer weens partikels van swaar metale en ander onbekende bestanddele wat daarin kan voorkom. Daar is ook ’n gevaar van infeksies deur fungi en bakterieë as dit in ’n nie-sanitêre omgewing vervaardig word. Van die bestanddele wat al daarin gekry is: Blou drukkersink, die dwelm Speed (amfetamien) en Antibiotika Pleister.

Bron: forbes.com

Inspuitings in die penis

Net as alle ander behandelings misluk. Mans hou nie daarvan nie en sal enigiets anders probeer, sê dr. Becker. Vibrator Viberect is ’n vibrator vir mans met ED, ’n rugmurgbesering of iemand wat ’n radikale prostatektomie (verwydering van die prostaatklier) gehad het waar die senuwees behoue gebly het. Dis deur die Amerikaanse FDA goedgekeur en lyk soos ’n kleinerige krultang. Ook plaaslik beskikbaar.

Penisinplanting

Dit is ’n mediese toestel wat permanent ingeplant word, volgens dr. Laurie Blake, uroloog van die Urologie-hospitaal. Dit bestaan uit ’n reservoir (ballon met steriele water), pomp en twee silinders. Die silinders word binne-in die penis geplant, die reservoir in die buik en pompie in die skrotum. Wanneer jy ’n ereksie wil hê, word die silinders opgepomp (daar is darem nog plek vir romanse ook) en jy het meer beheer oor die proses. Die toestel is nie opsigtelik nie. Die nadeel: Dis duur (die koste sal deur elke individu bepaal word).

Junie is Manlike Gesondheidsbewustheidsmaand.