"Ek lewe in ’n borrel. My dogtertjie se graad 4-huiswerk is vir my te moeilik. My hande voel asof hulle wil afskeur van die pyn. Ek is vol bloukolle en skrape soos ek val en in mure, deure en meubels vasloop. Ek verdwaal in ons klein dorpie en vergeet waar ek my motor geparkeer het. Ek is so moeg. Só moeg.”

Annie Bartie (48) van Somerset-Wes was in 1995/1996 ’n finalis in SARIE se Sakevrou van die Jaar-wedstryd. Sy was ’n adrenalienverslaafde en haar werk was haar kos. Totdat die onverklaarbare simptome twee en ’n half jaar gelede begin het – dokters kon dit maar net nie vasvat nie.

Ná talle doktersbesoeke en toetse het dit wel ’n naam gekry: Fibromialgiesindroom (FMS). Daar is baie mense met soortgelyke simptome, sê kenners. Nie altyd in dieselfde graad nie – Annie se simptome is ekstreem.

FMS kom egter by 3% tot 5% van mense voor, meestal vroue. Jou lyf pyn oraloor. Jou spiere voel of dit oorwerk of verrek is. Dis gevoelig as daar aan spesifieke teer punte op jou lyf geraak word: rondom jou nek, skouers, rug, elmboë en knie- en heup-gewrigte (die illustrasie dui dit aan). Jy is dodelik moeg, selfs wanneer jy soggens opstaan. Jy slaap sleg. Dalk is jy ook depressief. En jou kop: Dit voel of daar ’n pingpong-balletjie in jou brein los is terwyl jy stoei om die regte woorde raak te vat. Jy het probleme met jou geheue en konsentrasie. Dit het ’n naam: FMS-mis (fog).

Dis alles vae simptome wat jy nie regtig kan verduidelik nie. Die toestand word boonop gereeld misverstaan en verkeerd gediagnoseer, hoewel algemene praktisyns deesdae meer bedag daarop is. In Amerika is dit ’n nuwe gonswoord nadat die Food and Drug Administration (FDA) drie middels spesifiek daarvoor goedgekeur het. Twee van hulle is in Suid-Afrika beskikbaar, maar is nog nie by die Medisyne Beheerraad spesifiek vir behandeling van FMS geregistreer nie. FMS is die mees algemene artritis-verwante siekte naas osteoartritis. Die naam is ’n samestelling van Griekse en Latynse woorde vir vesel, spier en pyn. Dit ry dikwels op die rug van toestande soos osteoen rumatoïede artritis, lupus, Crohn-siekte en ander outo-immuunsiektes. Dit kan selfs ’n vroeë voorspeller van ’n outoimmuunsiekte wees, volgens die joernaal van die Israelse mediese vereniging. (Lees meer)

Nog simptome

* Maagpyn

* Angs en depressie

* Chroniese hoofpyn

* Hipersensitiwiteit vir koue/hitte

* Inkontinensie

* Spastiese kolon

* Pynlike menstruele krampe

 
DIE OORSAKE
Navorsing met nuwegenerasiebreinskanderings wys FMS-lyers verwerk pyn anders as ander mense en is meer sensitief daarvoor, sê prof. Helgard Meyer van die departement huisartskunde by die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria. Vroue is tien keer meer geneig om daaraan te ly as mans. Volgens www.webmd.com wys studies vroue het sowat sewe keer minder serotonien,’n breinoordragstof, as mans. Lae vlakke daarvan kan dalk jou pyndrumpel verlaag. Nog teorieë oor oorsake:

  • Hormonale wanbalanse soos tydens die menopous
  • Trauma aan jou sentrale senuweestelsel, soos ná ’n ongeluk, besering, siekte of emosionele stres.
  • Moontlik oorerflikheid

Daar is egter maar skrale bewyse vir dié teorieë. FMS is waarskynlik ’n kombinasie van fisieke oorsake en emosionele faktore wat tot die ontwikkeling daarvan bydra, volgens www.fibromyalgiasymptoms.org.

Die volgende faktore vererger simptome,volgens ’n aanlyn-studie waaraan 2 596 fibromialgielyers deelgeneem het: Emosionele probleme (83%), weerveranderinge (80%), slaapprobleme (79%), inspannende aktiwiteite (70%), stres (68%), kommer (60%), reis per motor (57%), familiekonflik (52%), fisieke beserings (50%) en fisieke onaktiwiteit (50%). Ander faktore sluit in infeksies, allergieë, gebrek aan emosionele ondersteuning, perfeksionisme, neweeffekte van medikasie en blootstelling aan chemikalieë. (nog inligting oor die studie)

DIE DIAGNOSE

Daar is nie spesifieke laboratorium-toetse nie. Jou dokter sal jou ondersoek, jou mediese geskiedenis nagaan en na jou simptome luister. X-strale en bloedtoetse word gebruik om ander toestande met soortgelyke simptome uit te skakel.

Lees Deel 2: Alles oor die behandeling, die verband met stres en meer.