Terug na Deel 1: alles oor die oorsake, simptome en diagnose

DIE BEHANDELING

Daar is geen kuur nie, en nie een behandeling wat ál die simptome aanspreek nie. Prof. Helmuth Reuter, ’n rumatoloog van Stellenbosch, gebruik ’n kombinasie van middels: Medikasie om jou beter te laat slaap, ’n soort antidepressant wat nie net jou gemoed lig nie, maar ook die pyn verminder en jou konsentrasie verbeter, en dalk ’n anti-epilepsie-middel wat vir die pyn help. Enige onderliggende siekte, soos lupus of osteoartritis, moet ook so goed moontlik beheer word, sê hy.

Navorsing wys jou simptome kan baie verbeter met sekere holistiese behandelings, hoewel die simptome meestal nie heeltemal verdwyn nie, sê prof. Meyer.

WERK AAN JOU LEEFWYSE

OEFEN GEREELD
Baie mense met FMS word onfiks omdat hulle te seer, moeg en styf is om te oefen. Volgens prof. Helgard Meyer van die UP lê internasionale riglyne baie klem op gereelde lae-impak aërobiese oefeninge (soos stap), strek- en geleidelike spierversterkingsoefeninge.

ONTSPAN
Visualisasie, meditasie, self-hipnose, asemhalingstegnieke en progressiewe spierontspanning – daar is vele ontspanningstegnieke wat stres, angs en pyn kan verlig. Jou liggaam kry dan jou “toestemming” om van die “veg-of-vlug”-respons na ’n kalm en ontspanne bui oor te skakel.
VOLG 'N SLAAPROETINE
Gaan slaap elke aand op dieselfde tyd. Neem vooraf ’n warm bad. Maak seker jou kamer is donker, stil en koel. Prof. Meyer waarsku jy moet veral oppas vir kafeïen en alkohol laataand. Dit kan jou slaapritme versteur.
ANDER 

Prof. Meyer sê ook verskeie fisioterapeutiese tegnieke kan help. Die waarde van hidroterapie (die gebruik van water om pyn te verminder) is byvoorbeeld wetenskaplik bewys. Sommige lyers kan baat vind by akupunktuur en manipulasie deur chiropraktisyns. Kognitiewe gedragsterapie om negatiewe (en katastrofiese) denkpatrone te verander is waardevol, wys navorsing. Dit help jou ook om stres beter te hanteer, én as jy ’n perfeksionis is wat te hoë eise aan jouself stel, sê hy. Besoek egter net kundige en ervare terapeute. Pasop vir webblaaie wat wonderwerke belowe.

 

ANNIE BARTIE SE STORIE

“Ek is ’n gekwalifiseerde regsgeleerde, een van die eerste vroue-eienaars van ’n sekuriteitsmaatskappy. Later het ek ’n nis in die mark gesien om die intellektuele eiendom van bekende handelsmerke te beskerm. Dis wat ek wíl doen.

Maar nou kan ek niks meer doen nie. My brein is te deurmekaar. Ek is vasgevang in ’n borrel. Alles is seer, van my hande tot my rug. Daar’s ’n tinteling in my voetsole en vingerpunte. Soms val ek oor my voete, loop ek in goed vas. My hande is dom. Ek kan nie meer bottels oopmaak nie, nie hare vleg nie. My handskrif is verskriklik. Ek kan nie meer sekere dagtake verrig nie, soos motor bestuur. (Ek ry in goed vas.)

Dis skrikwekkend om uit te gaan. Alle geluide is so hard. Die lig is skerp. Al lyk jy gesond, voel dit of jy enige oomblik kan sterf van pyn.

Soggens is ek so styf dat Braam (Jordaan), my man, my moet ophelp. Hy gee my pille en wag dat ek dit drink, anders vergeet ek. Buiten FMS het ek ook Crohn-siekte, ’n outo-immuunsiekte waar segmente van jou spysverteringskanaal laat ontsteek, verdik en vol sere raak.

Sommige dae is die FMS erger. Ek verloor dan beheer oor my liggaamsfunksies. Ek weet nie wat die dag en datum is nie. Ek kan soms opstaan en my kop is helder. Dan sak ’n mistigheid egter toe en ek kan nie eens verstaanbaar praat nie.

En ek het altyd pyn: dag en nag. Van dowwe spierpyn tot verlammende, allesoorheersende pyn. Dis veral vir my kinders moeilik om te aanvaar dat hul ma, wat alles kon doen, nou om hulp moet vra. Ek kon van kleinkoekies bak tot ’n enorme saketransaksie beding, ingewikkelde kontrakte en regswerk hanteer en was pynlik netjies.

My versekeringspolisse betaal nie uit hiervoor nie. Hulle het lang stories dat ek nie siek genoeg is nie. Hulle reken ek kan beter word met ’n paar sessies by ’n sielkundige en ’n bietjie arbeidsterapie. Toe ek die eis indien, het een maatskappy summier my polis gekanselleer. Hulle meen ek het op die aansoekvorm gelieg.

Ek kon nog altyd alles wegwerk: ’n Egskeiding. My tweede man se dood. Stakings. Geldelike onsekerheid. Werk was ’n welkome heenkome.

Verlede Januarie het ek probeer teruggaan werk toe, maar ’n fout gemaak wat die maatskappy byna R1 miljoen gekos het. Nou wil hulle my nie meer daar hê nie. Ek het van ’n intelligente, selfversekerde vrou verander in iemand wat onseker oor die toekoms is. Maar ek het steeds hoop. FMS is ’n siekte waarvoor jy respek moet hê. Dit kan jou lewe steel as jy dit toelaat. Dit kan jou in ’n depressie laat verval wat jou vernietig – weer eens as jy dit sou toelaat. Gelukkig is ek ’n positiewe mens. Ek weier om siek te lyk, maar luister na my liggaam. As ek vrot voel, bly ek in die bed. As ek deurmekaar voel, hou ek my stil. Ek baklei nie meer teen die simptome nie. Ná meer as twee jaar van doktersbesoeke en toetse weet ek uiteindelik wat dit is. Soms is dit moeilik om te dink dat ek in ’n oogwink van hero tot zero oorgegaan het. Maar ek bly dankbaar. Vir die liefde van my man, my ma, Maja van der Merwe, my skoonma, Dale Jordaan, en my kinders, Nikki (10), Clarissa (28), Mary Ann (25) en Samantha (22). Ek is dankbaar dat ek my kleinseun, Liam (2), ken en met hom kan speel, al sit hy my ore aan. En as ek die dag goed voel, trek ek my hoëhakskoene aan en gaan drink tee in die mall saam met my dogters.

Die verband tussen fibromialgie, stres en depressie

Depressie: Baie studies verbind fms met depressie. een uit elke 10 mense met fms ly ook aan depressie. sommige navorsers glo dis omdat depressie jou breinchemikalieë aantas. ander ondersoek afwykings van die simpatiese senuwees – die deel van jou senuweestelsel wat bepaal hoe jy stres en noodgevalle hanteer. Dit kan lei tot die afskei van stowwe wat jou meer sensitief vir pyn maak, voer hulle aan.

Stres: Daar word gespekuleer stres is ’n belangrike sneller vir fms. baie mense voel angstig, senuweeagtig en paniekerig rondom die tyd wat die fms-simptome opvlam. sommige kenners vind as jy minder stres, verminder jou depressie, angs en moegheid ook.

‘EK HET LEER CHILL’ - Lydia van der Merwe SARIE-gesondheidsredakteur en skrywer van hierdie artikel

Lydia van der Merwe SARIE-gesondheidsredakteur
“Ek is ’n haastige, ongeduldige perfeksionis. Toe ek agt jaar gelede met FMS gediagnoseer is, het dit vir my so half sin gemaak. My spiere is immers permanent gereed vir aksie – soos ’n wafferse atleet in die wegspringblokke. Dus het ek besluit om te probeer chill. Meer flegmaties te raak. Ek het joga begin doen – al was dit aanvanklik vir my ’n bietjie té rustig. (Waar is die tromme?) En voortvloeiend daaruit het ek geleer om op my asemhaling te konsentreer. Ek het elke dag ’n halfuur lank diepasemhalingoefeninge begin doen. Ná ses maande het ek agtergekom woedende mans in groot 4x4’s probeer my nie meer van die pad af druk nie. My FMS is onder beheer. Dis lastig, maar beïnvloed nie my lewensgehalte nie. Ja, in die winter ís my lyf soggens soms styf en ek kom sukkel-sukkel uit die bed. My vroegoggend-stappie op die strand help – dis dus ’n móét. Ek weet my simptome is lig.’n Kop-verskuiwing gaan dalk nie vir almal in dieselfde mate help nie. Maar dis beslis ’n wegspringplek.”