'n Wittebrood-baba. ?Só het Janine en Tony Beaufort van ?Somerset-Wes voor hul troue besluit. ?Maar uiteindelik moes hulle langer as ses jaar wag. Die natuur se manier wou ?nie werk nie. En drie kunsmatige inseminasies ook nie. Vrugbaarheidstoetse kon nie fout kry nie, nie met Janine of Tony nie; sy het gereeld geovuleer, sy spermtelling was piekfyn.

Janine, altyd klein en skraal, het in 2005 skielik 20 kg aangesit. Sy het terselfdertyd siek begin voel. “Ek het waterretensie gehad en was dikwels naar. Later het ek ná ete opgegooi. Dit ?was nie duidelik watter kossoort ’n probleem was nie. Ek het gluten uitgesny, maar dit het nie gehelp nie.” Sy het met moeite sowat 10 kg vir haar troue afgeskud.

En toe begin die gesukkel om swanger te raak. In die begin van 2010 ?het sy by prof. Patrick Bouic, immunoloog aan die Universiteit Stellenbosch en hoof-tegniese beampte by Synexa Life Sciences, aangeklop. Sy het gehoor hy is suksesvol met diagnoses vir onverklaarbare onvrugbaarheid.
Toetse het gewys sy is laktose-intolerant. Binne ’n maand nadat sy sekere ?kosse uitgesny het, het sy 5 kg verloor.

Sy moes die volgende uitsny:
* Alle suiwel, behalwe Bulgaarse jogurt, maas- en bloukaas en camembert.
* Gis. Ook suiker, pynappel, mango en druiwe, want dis natuurlike gismiddels. ?En brood met gis in.

Haar aanvullings:
* Multivitamiene, sink, vitamien B-?kompleks, omega 3, wilde-oreganum-olie, olyfblaar-ekstrak, L-glutamien, probiotika. (Alles beskikbaar by groot apteke en gesondheidswinkels.)

En ’n maand en ’n half nadat sy haar nuwe dieet begin volg het, was sy swanger. Dit het in ’n vroeë miskraam geëindig. ’n Tweede swangerskap was ook vroeg verby. “Ek was egter positief, want ten minste kon ek swanger raak!”

Vyf dae voor hulle in hul nuwe huis sou intrek, het ’n tuistoets gewys sy is weer swanger. Dié keer het alles sonder probleme verloop. Klein Joshua David maak op 29 November sy lang verwagte opwagting.  

“Ek het nie waterretensie, oggendnaarheid of cravings nie. En in die eerste trimester het ek gewig verloor,” vertel Janine terwyl sy sonarfoto’s van die kleinding wys.

Janine se geval is nie ’n uitsondering nie. Sowat 80% van vroue wat nie swanger kan raak nie (maar sonder enige klaarblyklike rede), het probleme met hul spysvertering, sê prof. Bouic.

Die oorsaak van dié soort onvrugbaarheid, asook kardiovaskulêre siektes, tipe 2-diabetes, kanker en vetsug, is ’n lae graad van chroniese inflammasie, verduidelik hy. Dié inflammasie woed buite beheer weens ons leefstyl, dieet, besoedeling en stres. Deel ?van die probleem is die mikroflora (die ?bakterieë in ons ingewande) wat versteur is. Só ’n wanbalans kan ook bydra tot toestande soos prikkelbarederm-sindroom, allergieë, ekseem en aknee.

Dit speel dalk ook ’n rol by die groot toename in outo-immuunsiektes, soos tipe 1-diabetes en veelvuldige sklerose, lui ’n artikel in die tydskrif Scientific American. Navorsing begin inderdaad wys ?’n gesonde immuniteit hang af ?van die konstante ingryping van “vriendelike” bakterieë.

Die mikrobiome (jou versameling mikrobes of mikroflora) van kanker-pasiënte, wat hul “vriendelike” bakterieë tydens chemoterapie verloor, word ?selfs in sekere Amerikaanse hospitale geberg. Pasiënte wat hul mikrobes ?ná behandeling terugkry, is geneig ?om vinniger te herstel, berig die ?tydskrif Time.

Jou lyf is nie soos ’n selfonderhoudende eiland nie, sê Scientific American. Dis meer soos ’n komplekse ekostelsel – ’n sosiale netwerk – met triljoene bakterieë en ander mikroörganismes in veral ons ingewande. Die meeste selle in jou lyf is inderdaad nie menslik nie: Daar is tien bakteriële selle vir elke menslike een. Die studie van die mikrobes en ons verhouding daarmee het as navorsingsveld ontplof.

Dit help ons met basiese fisiologiese prosesse – van vertering tot groei. Dit breek gifstowwe af, vervaardig sekere vitamiene en aminosure, en vorm ’n versperring teen bakterieë wat siektes veroorsaak, beaam die tydskrif Nature.

Die ideale verhouding tussen die “vriendelike” en “onvriendelike” bakterieë is 85% en 15%. Maar in die moderne tyd het ons dié delikate balans versteur. Ons eet bv. net so verkeerd. (Sien kassie hieronder.)

Hoe weet jy as jy ’n probleem het?

Jy is altyd moeg en het ’n dowwe kop. Jou maag voel soos ’n sementmenger ?en raas aanmekaar. Dis omdat die kos gis eerder as wat dit verteer. As jy eet, voel jou maag opgeswel en seer. (Die kos is ’n sneller vir inflammasie, wat pyn veroorsaak.) Jy is hardlywig en/of het diarree.

Dit alles voorspel niks goeds vir jou gesondheid nie.

Onvrugbaarheid
Prof. Bouic se welslae met onvrugbaarheid waarvoor daar klaarblyklik geen rede is nie, maak hom die “oupa” van baie babas in die Kaapse Skiereiland, spot hy. Spysverteringsprobleme wat dalk ’n rol kan speel by jou onvermoë om swanger te raak, sluit in seliaksiekte, kos-intoleransies en prikkelbarederm-sindroom (PDS).

Seliaksiekte is ’n toestand waar die dunderm nie kos verteer en absorbeer nie. Dis weens ’n sensitiwiteit vir gluten in koring, rog en gort en jy moet dit dan uit jou dieet sny. As jy dié siekte het, veroorsaak gluten inflammasie in jou ingewande met simptome soos diarree, maagpyn en winderigheid. Dis ’n mediese feit dat vroue met seliaksiekte sukkel om swanger te raak.

Volgens onlangse navorsing is inflammasie in die ingewande dalk ’n onderliggende rede vir infertiliteit, aldus prof. Bouic. Dit kan veroorsaak dat die bevrugte eiersel nie aan die baarmoeder heg nie. Jy kan ook sukkel om die baba voltermyn te dra.

Sowat 1% van die bevolking het seliaksiekte, maar dit kan bloot die ?puntjie wees van ’n groterwordende probleem: gluten-sensitiwiteit by mense wat nie seliaksiekte het nie, volgens ’n studie in die joernaal BMC Medicine.

Behalwe probleme met jou maag, kla jy waarskynlik van moegheid en hoofpyn. (Bron: www.webmd.com)

Ander kos-intoleransies (bv. vir suiwel) neem ook toe. Solank jou mikroflora in balans is, gaan jou ?maag nie teen sekere kosse protesteer nie, sê prof. Bouic. Maar word die delikate balans versteur, kan die kos ?nie behoorlik verteer nie en dit veroorsaak inflammasie.

Daar is ’n verskil tussen ’n kos-allergie en kos-intoleransie. ’n Allergie ?hou verband met jou immuniteit en ’n intoleransie met jou spysverteringstelsel. As jy ’n allergie het vir bv. garnale, gaan jou keel dadelik toetrek as jy ’n klein bietjie eet.

By ’n intoleransie bou die teenliggaam stadig oor ’n tyd in jou lyf op. Jy kan die betrokke kos vandag nog eet en dit verteer sonder probleme. En selfs al protesteer jou liggaam môre daarteen, gaan jy eers ’n dag of wat later simptome hê, soos sooibrand, winderigheid en hoofpyn. Dis dus moeilik om te weet watter kos die probleem veroorsaak.     

Ook prikkelbare-dermsindroom kan weens ’n wanbalans in jou maagflora wees. Simptome is ’n seer of ongemaklike buik. Sommige mense is hardlywig, ander het diarree en by ’n derde groep word dit afgewissel. Jy is winderig, opgeblaas en het lae abdominale pyn. Dié simptome voel erger ná ete.

Vetsug

Die oplossing vir vetsug is nie eenvoudig nie, waarsku prof. Bouic. Maar dit wil al hoe meer lyk asof ?’n wanbalans in die mikroflora ’n rol kan speel.   

Wetenskaplikes weet nou die samestelling van die mikroörganismes in jou dermkanaal bepaal tot ’n sekere mate hoe jou liggaam kos berg, hoe maklik (of moeilik) jy gewig verloor en hoe goed jou metabolisme werk.

Navorsing toon wanneer die mikro-ekologie in muise versteur word, ontwikkel vetsug. Word die vriendelike flora teruggesit, verloor hulle weer gewig. Een moontlike verklaring is dat verskillende soorte bakterieë se uitwerking op jou eetlus en metabolisme verskil.

Volgens Nature weet navorsers nou sekere bakterieë kom meer voor in vetsugtige muise, terwyl ander weer meer algemeen is by maeres. (Dieselfde geld skynbaar vir mense.) Dit wil lyk asof sekere mikroörganismes makliker energie uit kos onttrek. (Soos ’n kar ?wat brandstofdoeltreffend is.) Dit kan deels verklaar waarom sommige mense gewig aansit, terwyl ander op dieselfde dieet maer bly.

Die samestelling van dermbakterieë kan ook insulienweerstandigheid in muise verbeter of vererger. (Ook by mense, volgens voorlopige navorsing.) Volgens Nature kan dit die koers en behandeling van ?mense met diabetes beïnvloed.

Depressie/angs

Daar is? ’n nou verband tussen jou brein en maag- en dermstelsel. Woede, angs en hartseer kan simptome in jou maag veroorsaak. Vandaar uitdrukkings soos “jy het vlinders op jou maag” en “jy is naar van spanning”. Stres kan jou dus simptome soos maagpyn gee.

Vasgelê in die muur van jou ingewande is ’n selfonderhoudende, selfregulerende senustelsel wat onafhanklik van jou brein kan funksioneer, sê Ryan Cooper, kliniese sielkundige van Johannesburg.

Maar wat van die omgekeerde? Wetenskaplikes het nou gevind probiotiese bakterieë kan dalk die potensiaal hê om brein-chemikalieë te verander en ’n uitwerking op angs en depressie te hê. In ’n Kanadese studie ?is muise ’n sekere soort mikroflora ?(L. rhamnosus) gegee. Hulle het beduidend minder stres, angs en gedrag gekoppel aan depressie gehad. Hul vlakke van kortisol, ’n streshormoon, was ook aansienlik laer.

Volgens die tydskrif Science kan ons maar nog net spekuleer of probiotika vir gemoedsversteurings by mense sal help. Die tydskrif waarsku ook mense se emosionele gedrag is meer kompleks as muise s’n. Daar gaan waarskynlik nie so ’n drastiese reaksie by mense wees nie.

Algemene gesondheid en welstand blyk dus by ’n gesonde spysvertering te begin. Dis só eenvoudig. 

KONTAK:
Prof. Bouic 021 933 9582, ?www.synexagroup.com

Ryan Cooper 082 780 7304, ?rcooper@redhill.co.za

HOEKOM SO UIT BALANS

* Ons dieet bestaan uit te ?veel verwerkte kosse, dis te laag in vesel en te hoog in suiker. Die onvriendelike bakterieë kry dan die oorhand en versteur die brose ekosisteem.

* Ons eet dieselfde kosse oor en oor. Soos hawermout vir ontbyt, ’n broodjie vir middagete en saans pasta. Jou mikroflora ?het ’n verskeidenheid kos nodig om te oorleef.

* Ons gebruik te veel medisyne wat die ingewande beskadig of normale vertering dwarsboom, soos anti-inflammatoriese middels, teensuurmiddels ?en antibiotika.

* Stres het ’n direkte invloed op gesonde spysvertering. In navorsing met muise is gevind stres lei tot die verhoogde groei van onvriendelike bakterieë en verminder terselfdertyd die ?verskeidenheid mikrobes.

Bron: Prof. Bouic

LAAT JOU MIKROFLORA BLOM

1. Beveg inflammasie

Neem omega 3 (visolie)-aanvullings. Voeg ¼ teelepel borrie by ’n eetlepel olie (olyf of sonneblom). Neem daagliks net so of sit by ?jou slaai. L-glutamien, ’n aminosuur, is ook goed vir inflammasie. (Koop by groot apteke of gesondheidswinkels.)
 
2. Verminder onvriendelike bakterieë

Sny alle vorms van suiker uit. Ook groente met baie suiker, soos pampoen en patats. Vermy alkohol en gegiste produkte ?soos Marmite, Bovril, sojasous ?en balsemasyn.

3. Voed jou ?super-bakterieë

Koop probiotika-aanvullings (verkieslik dié ?wat in die yskas gehou moet word), of gebruik natuurlike bronne soos natuurlike Bulgaarse jogurt, karringmelk en tofoe. Onthou, as jy skielik probiotika begin gebruik, kan jy ongemaklik ?en opgeblaas voel. Dis omdat daar skielik ’n “burgeroorlog” in jou ingewande woed tussen die vriendelike en onvriendelike bakterieë. Die simptome sal verdwyn sodra die vriendelikes die veldslag wen.

4. Vermy geprosesseerde, verfynde kosse

Maak seker jou dieet ?sluit genoeg vesel in deur ?kosse soos groente, bone, ?neute, sade en volgrane te eet.

5. Vind uit vir watter kos jy sensitief is

Sny moontlike probleem-kos vir ’n proeftydperk van ?twee weke uit. As jou simptome nie verbeter nie, konsentreer ?op ’n volgende moontlike sondaar. Vermy kosse wat simptome veroorsaak drie ?tot ses maande lank en voeg ?dit dan weer geleidelik by ?jou dieet. As dit steeds ?probleme veroorsaak, los ?dit weer.

Bron: Prof. Bouic

PROBIOTIKA NIE 'N WONDERKUUR

Dis nie ’n magiese oplossing nie, sê dr. Gene Elliott van die departement mediese mikrobiologie aan die Vrystaatse Universiteit. Daar is bewyse dat probiotika wel voordele vir jou gesondheid inhou.

Ons weet bepaalde kosse veroorsaak ’n reaksie by sekere mense. Ons weet ons huidige dieet, veral die verfynde kosse wat ons eet, verskaf nie genoeg voeding vir baie van die vriendelike organismes nie. Dit kan met probiotika aangevul word, maar dit gaan nie noodwendig almal se gesondheidsprobleme oplos nie, en dikwels ook nie onmiddellik nie.