Aanhangers van Binneland sub judice op M-Net kyk deesdae twee keer as Toeks Joubert, bestuurder van die koffiewinkel, op die skerm verskyn. Dit lyk dan asof sy ál kleiner word. En dis waar!

Die aktrise Franci Swanepoel (38), wat dié rol vertolk, het in agt maande 18 kg verloor.

"Ek voel soos 'n nuwe mens," vertel sy by Binneland se ateljee in Randburg. "Dis lekker om te oefen, in die buitelug te stap en te sien hoe my werksklere aan my begin hang. Toeks voel ook sommer baie goed. Haar klere moes al 'n paar keer kleiner gemaak word."

Franci voer al lank 'n stryd teen die kilogramme en was al op talle diëte.

"Ek het 'n obsessie met my gewig en diëte gehad," erken sy. "Ek was 'n reeks-diëter. Hoewel Toeks in die koffiewinkel tussen baie koek werk, het ek in jare nog nooit eens een stukkie daarvan geëet nie.

"Ek is klein gebou en voel nie gemaklik in my lyf wanneer ek oorgewig is nie. Dit was skrikwekkend om myself só op TV te sien. Ek het vir myself so lelik gelyk dat ek gewonder het hoe ek nog hoegenaamd 'n selfbeeld kan hê. Ek was anti-sosiaal en wou nie eens uitgaan nie. Ek wou ook nie nuwe klere koop of moeite doen met my voorkoms nie."

Maar nou lyk Franci fyn en klein in haar nuwe paar blou jeans.

Hier's Dag 1 uit Franci se dieet

Kry die ander dae in jou September-uitgawe van SARIE

Dag 1

Warmsjokolade (die dieet-soort) met vetvrye melk as sy wakker word.
Teen 8:00 kan sy weer 'n kafeïenvrye cappuccino met vetvrye melk drink.

Ontbyt
1 muffin met konfyt vir diabete
½ pomelo
Koffie/tee met vetvrye melk en versoeter

Peuselhappie
"As ek teen tienuur 'n bietjie honger voel, eet ek 'n handjie vol biltong of enige ander proteïen, soos 'n gekookte eier of 'n paar stukkies ham," sê Franci.

Middagete
Calamari met slaaiblare, tamatie, komkommer, 'n bietjie uie en olyfolie en balsemasyn as slaaisous
Dieet-koeldrank

Peuselhappie
Royco Lite-sop en 'n nartjie

Aandete
'n Lekker groot stuk filet
Groentegebak met byvoorbeeld uie, murgpampoentjies en sampioene
Groenslaai met fetakaas en laevetslaaisous

 

Vir nog inligting

Kry nog dae van haar dieet en kontakbesonderhede in jou September-uitgawe van SARIE.