My huwelik. Of selfs ’n hele jaar van my lewe. Dís wat mense bereid is om op te offer as hulle net maer kan wees, blyk uit ’n groot aanlyn-opname. Dalk oordrewe, maar nie vreemd nie, gegewe die samelewing se houding teenoor lywiger mense. Jy mergel jouself uit met strawwe diëte, oefen tot jou tong uithang en drink pille en poeiers. En as die gewig weer saampak, kasty jy jouself dat jy geen wilskrag het nie!

Volgens Cari Corbet-Owen, kliniese sielkundige van Kaapstad en skrywer van Mind Over Fatter: Learn to Feel Great Without Ever Dieting Again (Oshun, 2007), krap wetenskaplikes kop oor hoekom diëte so dikwels misluk. Want dikwels verloor jy gewig en sit dit net so vinnig weer aan. En in die proses benadeel jy jou gesondheid. Nie net omdat jou gewig wipplank ry nie. ’n Ander faktor speel ook ’n rol. Jou kop.

 

Die kritiek waarmee jy jouself peper, is dalk net so skadelik as vet

 

Basta met negatiewe gedagtes

Sien jouself as ’n energiebron: Alles wat jou kwaad maak en frustreer, beroof jou van energie. So asof jy (soos ’n elektriese toestel) daarby ingeprop is. Net: Die energie vloei uit, nie in nie. Gestel jy het 100 watt energie per dag. Jy bestee 20% aan kosdrange, nog 20% aan iemand wat jou irriteer, 10% aan padwoede, ens. Hoeveel bly uiteindelik oor? As jy agterkom dat jy negatief dink of reageer, trek eenvoudig die prop uit. Doen dit in jou kop: speels en met ’n elegante beweging. Jy kan ook ’n geluid in jou kop hoor, soos ’n bottel waarvan die kurkprop afskiet.

As jy ’n geestelike ingesteldheid het, kan jy selfs die prop iewers bo jou kop inprop en positiewe energie laat invloei. Bron: Shani Grové, ’n sielkundige wie se boek oor fokus en konsentrasie, Foxy Focus, later vanjaar verskyn.

 

Want uiteindelik is die kritiek waarmee jy jouself peper omdat jou figuur nie perfek is nie, dalk net so skadelik vir jou gesondheid as om oorgewig te wees. Dit geld ook as jy maer is: Jou brein ken nie die verskil tussen werklikheid en verbeelding nie. (Skanderingstegnieke wys as jy kwaad is, word ’n sekere deel van jou brein geaktiveer. Verbeel jy jou ’n gebeurtenis wat jou kwaad laat voel, word dieselfde deel gestimuleer.)

Dalk is ’n kopskuif nodig, voer Cari aan, om weg te kom van die idee dat maer noodwendig gesond en vet ongesond is. ’n Nuwe studie wat in November verlede jaar in die gerespekteerde Journal of the American Medical Association verskyn het, het behoorlik opspraak verwek. ’n Paar ekstra rolletjies kan jou dalk langer laat leef, word gesê. Dis nou teenoor jou susters wat ondergewig of vetsugtig is, asook mense wie se gewig normaal is. Let wel: die klem is op matig oorgewig. Jy moenie meer as 14 kg oor die gewig weeg wat vir jou lengte aanbeveel word nie, aldus die studie. Ons lewe in ’n kultuur waar jy gedurig hoor dis ongesond om oorgewig te wees. Maar navorsing wys as vetsugtige vroue vertel word hulle gaan ’n hartaanval weens hul gewig kry, is hul kans op een vier keer groter as ander vroue met dieselfde gewig - wat nie gehoor het hulle is in ’n risikogroep nie, sê Cari. En dís waar die knoop lê.

Tweederdes van jou selfbeeld bestaan uit jou liggaamsbeeld. Hoe positief of negatief jy jouself ervaar, word dus in ’n groot mate bepaal deur hoe jy oor jou liggaam voel. En dit beïnvloed daardie einste lyf op maniere wat wetenskaplik meetbaar is. Want jou gedagtes en emosies veroorsaak talle fisiologiese veranderings in jou lyf. Jou gedagtes is ’n sneller vir jou emosies en die gepaardgaande biochemiese dans van jou liggaam. Dié elektriese impulse trek teen die snelheid van lig deur jou selle en veroorsaak veranderings in onder meer jou immuun-, hormonale (endokriene) en spysverteringstelsel.

 

Jy kan letterlik aan (negatiewe) emosies verslaaf raak

 

Nou wat gebeur as jy aanmekaar skuldig voel omdat jy al wéér jou oefenprogram of dieet gelos het? Of as jy soos ’n slagoffer van ander se vooroordele voel omdat jy oorgewig is? As jy ’n sekere emosie ervaar, vloei daardie emosie se biochemiese boodskappers (neuropeptiede) deur jou hele lyf. Dis ’n belangrike manier hoe die immuun-, senuwee- en hormonale stelsel met mekaar “gesels”. Nou haak jy aanmekaar by dieselfde gedagtes vas: “Ek’s vet!”  Dit ontlok ’n sekere emosie, bv. skuldgevoelens. Boodskappers gekoppel aan skuldgevoelens oorspoel telkens jou liggaam - en jy kan letterlik aan dié emosie verslaaf raak.

Ons word reeds as kinders chemies “bedraad”. Op die webblad www.cassiopaea.org word die volgende voorbeeld gegee: Iets baie negatiefs het kleintyd met jou in ’n blou kamer gebeur. As jy in die toekoms in ’n blou kamer is, gaan jou brein dieselfde biochemiese boodskappers as destyds vrystel. Maar jy weet nie hoekom jy “paniekerig” of “hartseer” is nie. Jy dink dit het iets te doen met wat in die vertrek aangaan, of met wie jy op daardie oomblik gesels.

’n Stem daarteen

Moenie perspektief verloor nie, maan prof. Tessa van der Merwe, endokrinoloog van die Universiteit van Pretoria en president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Vetsug en Metabolisme. Dit is so dat ’n mens oorgewig en emosioneel gesond kan wees. Daar is vetsugtige mense wat goed aangepas is, presteer en geen probleme met hul selfbeeld het nie. Maar op lang termyn is die kanse baie skraal dat jy bruisend van gesondheid gaan wees. En as jy nie gesond is nie, gaan jou lewensgehalte afneem. As jou liggaamsmassa-indeks (LMI) meer as 30 is, verhoog jou risiko vir onder meer hartsiektes, iabetes en hoë bloeddruk.

Om jou LMI te bepaal maal jou lengte met dit self en deel jou gewig deur die antwoord.

Bv. 54 kg / (1,65 x 1,65).

Tessa sê nie almal se gesondheidsprobleme kan opgelos word deur met hul emosies te toor nie. Interessant: As jy orgewig/vetsugtig is, het dit in 30% van gevalle ’n sielkundige oorsprong. Maar dikwels is dit ’n siekte, veral as jy baie vetsugtig is. Dit kan ’n hormonale of genetiese afwyking wees, of daar skort iets met die fisiologie van jou vetselle. Depressie, angs en ’n swak selfbeeld is dan ’n uitvloeisel van die probleem, nie die oorsaak nie, sê sy.

 

Of die teenoorgestelde: Jy was kleintyd baie lief vir jou oupa en hy het dikwels ’n blou pet gedra. Jare later ontmoet jy iemand met só ’n pet en dieselfde positiewe boodskappers as destyds spoel deur jou lyf. Jy is seker jy hou van die mens. Wat hy ook al doen, jy dink steeds hy is wonderlik. Senuweebane is die “paaie” waarmee inligting tussen die senuweeselle versprei word. Dink aan ’n bospaadjie: As jy aanmekaar dieselfde pad neem, raak dit later uitgetrap en maklik om te volg. Dieselfde met jou senuweebane: Hoe meer jy ’n sekere emosie ervaar, hoe meer word die betrokke baan gebruik. Later is net een gedagte nodig om dié goed ontwikkelde, komplekse chemiese baan te aktiveer, aldus die webblad www.thebrain.mcgill.ca.

Volgens Cari word jou senuweebane ná jou geboorte gevorm en versterk. ’n Vreedsame en liefdevolle omgewing sal weer en weer positiewe emosies en hul neuropeptiede aktiveer. En senuweebane vorm wat jou geloof weerspieël - dat die wêreld ’n veilige plek is. Is daar voortdurend rusies en vyandigheid in jou ouerhuis, vorm vrees se boodskappers senuweebane. Dit word ’n bloudruk vir die drama wat hom in die toekoms herhaaldelik in jou lewe gaan afspeel. En onthou: Jy kan aan ’n spesifieke emosie “verslaaf ” raak. Dit verklaar waarom jy onbewustelik dieselfde realiteite vir jouself skep, selfs al is dit nie wat jy wil hê nie. Jy kies mense en omstandighede wat by jou bepaalde “drama” pas. (Soos om oor en oor die verkeerde mans aan te trek.)

 

Word bewus van jou negatiewe gedagtes - sodat jy jouself later uitvang - Cari Corbet-Owen, kliniese sielkundige

 

Die “waarheid” van die gemiddelde mens wat aanmekaar dieet en op haar lyf fokus, is dat niemand haar kan liefhê nie. Jy “hoor” mense sê jy is vet sonder dat die woorde gesê word. Jy “sien” mense kyk na dele van jou lyf waaroor jy selfbewus is. Jy loop by ’n vertrek in, mense hou op met praat en jy aanvaar dadelik jou gewig word bespreek. Jou “waarheid” word só onderhou en versterk. Sulke gedagtes is skadelik vir jou gesondheid. Dis wetenskaplik bewys dat gevoelens soos angs en vyandigheid jou immuunstelsel onderdruk. Terwyl positiewe gevoelens soos waardering en deernis dit ’n hupstoot gee.

Vetsug verhoog jou risiko vir hartsiektes, reg? Dis dalk nie so eenvoudig nie. Navorsing toon sowat die helfte van vetsugtige mense het hoë bloeddruk en diabetes. Jare lank is geglo dis weens jou gewig. Want gewigsverlies verlaag jou bloeddruk en bloedsuikervlakke (’n voorloper van diabetes as dit hoog is). Maar studies toon ook as jy net 25% van die verlore gewig weer aansit, styg jou bloeddruk en bloedsuiker - na die vlak waar dit vóór jou gewigsverlies was. Volgens Cari voel jy hoopvol en gelukkig as jy gewig begin verloor (emosies wat boodskappers vrystel wat gesondheid bevorder). Dit verander in skaamte en wanhoop as die dieet misluk en die skaal se naald weer begin klim. Dis dié stresvolle boodskappers wat jou bloeddruk en bloedsuiker weer laat opkruip. (Jy hoef nie eens oorgewig te wees daarvoor nie.)

 

Cari sê jy het nie beheer oor hoe jy as kind “bedraad” is nie. Maar as ’n grootmens het jy ’n keuse of jy in ’n vriendelike of vyandige wêreld wil leef. “Word bewus van jou negatiewe gedagtes - sodat jy jouself later uitvang as jy dit dink.” Probeer nou doelbewus om die ou gedagtes te stop - en vervang dit met ’n nuwe, self-koesterende een. Die reeds gevestigde senuweebaan word mettertyd swakker en ’n nuwe een word gebou. Hou daarmee vol en die nuwe een sal later outomaties geaktiveer word - nie die oue wat nou amper nooit meer gebruik word nie. Dit gaan nie oornag gebeur nie, want jy is gewoond om terug te val op jou ou gedagtepatrone. Byt vas en pluk die vrugte: ’n gesonder liggaam en gees.

Oorgewig en gesond?

In ’n Amerikaanse navorsingstudie is mense in 2 groepe verdeel. By groep 1 was die klem op dieet en by groep 2 op gesondheid. Die dieetgroep het effens minder geëet, hulself gereeld geweeg en alles neergeskryf wat hulle eet. Hulle het na praatjies geluister oor die voordele van oefening en dieet, hoe om kos-etikette te lees en “suksesvol” te dieet.
Groep 2 het geleer hoe om na hul liggaam te luister vir aanduidings wanneer hulle honger was en wanneer hulle genoeg geëet het. Hulle het na praatjies geluister oor hoe om hul groot lyf te aanvaar, gesonde kosse te kies en om van hul afkeer van oefening ontslae te raak.

  • Sowat 92% van groep 2 het die studie voltooi - teenoor 42% van die dieetgroep.
  • Groep 2 het aan die einde van die studie amper vier keer meer as voorheen geoefen. Die dieetgroep het aanvanklik meer geoefen en toe in hul ou roetine teruggeglip.
  • Die dieetgroep het aanvanklik gewig verloor, maar dit aan die einde van die studie van twee jaar weer aangesit. Groep 2 se gewig het heeltyd dieselfde gebly. (Al het hulle meer geoefen, lei dit nie noodwendig tot gewigsverlies nie. Baie mense se gewig bly dieselfde al oefen hulle gereeld, sê die navorsers.)
  • Albei groepe se bloeddruk het aanvanklik gedaal. Die dieetgroep s’n het later weer gestyg, groep 2 s’n nie.
  • Groep 2 se cholesterol het aan die einde van die studie beduidend gedaal. Daar was geen verandering by die dieetgroep s’n nie.
  • Groep 2 se selfbeeld het verbeter en hulle was minder depressief. Die dieetgroep se selfbeeld was swakker - soos te verwagte as jou dieet weer misluk.

Die navorsers se kommentaar: “Dis by ons ingeprent dat oorgewig mense net hul gesondheid kan verbeter as hulle dieet en gewig verloor. Maar dié studie toon jy kan jou liggaamlike én sielkundige gesondheid ’n hupstoot gee - sonder dat jy op die skaal klim en die kilojoules tel.” Bron: Cari Corbet-Owen

* Bykomende bron: Mind Over Fatter. Besoek Cari se webblad, www.mindoverfatter.co.za.