Op Dinsdag, 25 Augustus, kuier Marciel Hopkins saam met Donnalee Roberts op ons virtuele rusbank vir die jongste aflewering van Dinsdagdromer. Maar dis nie al RevitaHealth se dokters Ledivia Strauss en Rolene Strauss kuier saam. Hulle gesels oor gesonde leefstyl - hóé jy dit reg handaf en praat meer oor hul opwindende aanlyn-kursus Healthy Eating 101. Koop kaartjies hier.

Die Strauss-skoonsusters wil mense help om die beste weergawe van hulself te wees. Gesonde gees, gesonde vlees. FOTO Instagram / RevitaHealth

Dr. Ledivia het drie vrae van SARIE.com beantwoord:

1. Hoekom is dit dikwels so moeilik om ’n gesonde leefstyl te volhou? Watter kardinale foute word dikwels gemaak?

Ons word daagliks, op alle platforms, gekonfronteer en gebombardeer met die beskikbaarheid van kitskos en geprosesseerde voedsel. Dit het makliker en selfs goedkoper geraak om voorafbereide maaltye te koop, eerder as om dit self te maak In ons gejaagde lewens maak ons ongelukkig nie meer genoeg tyd om gesonde etes tuis te berei nie.

2. Dikwels as jy ’n nuwe dieët handaf, of gesond begin eet bly kos die heetltyd op jou voorgrond. Dis al waaroor jy dink Hoekom is dit noodsaaklik om 'n kopskuif te maak as jy 'n gesonde leefstyl aanpak en hoe verhoed jy dat jy obsessief raak oor kos?

’n Gesonde leefstyl en eetplan is byna onmoontlik sonder die nodige motivering. Ons sal altyd as eerste keuse die ongesonder peuselhappie (propvol suiker en byvoegings) bo die gesonder een verkies. Ek glo dat mens die kopskuif moet maak dat jy die leefstylveranderinge wil maak om optimaal gesond te wees en dat gewigsverlies nooit jou motivering of doelwit moet wees nie. Ons moet leer om kos te sien as die wonderlike boustene vir al die selle in ons liggaam en nie net bloot as energiebron nie.

3. Hoekom het RevitaHealth besluit om Healthy Eating 101 te ontwikkel en wat maak dit anders as ander gesonde leefstylprogramme?

Ek het agtergekom dat bitter min mense regtig weet wat dit beteken om gesond te eet. Ons word gebreinspoel met die onwaarheid dat jy net minder kaloriee moet inneem as wat jy verbrand, dan is alles wel. Ons wil mense opvoed in die beginsels van ’n gesonde leefstyl eerder as om ’n spesifieke dieet voor te stel.

4. Watter drie wenke het jy vir enigiemand wat 'n gesonde leefstyl wil aanpak?

* Begin vandag, moenie verskonings maak of verder uitstel nie

* Glo dat jy dit kan doen.

* Leer om kosetikette te lees.

Dr. Ledivia Strauss glo dat elkeen ’n gesonde leefstyl kan handaf. Maar ’n kopskuif is egter nodig. Soos sy sê: “. Ek glo dat mens die kopskuif moet maak dat jy die leefstylveranderinge wil maak om optimaal gesond te wees en dat gewigsverlies nooit jou motivering of doelwit moet wees nie.” FOTO Instagram / RevitaHealth