Kollig op goedkoper medisyne
Hoe kan ek op medisyne bespaar?

Vergelyk die pryse van oor-die-toonbank-medisyne, aanvullings en kruie. En leef gesond: só sal jy waarskynlik minder medisyne nodig hê. Of jy kan dalk mettertyd die dosis van sekere chroniese medikasie verlaag, soos vir hoë bloeddruk.

En voorskrifmedisyne?

Vra jou dokter/apteker vir die generiese ekwivalent. Dit bevat dieselfde aktiewe bestanddele, maar is goedkoper. As daar nie een is nie, vra jou dokter vir ander goedkoper medisyne met dieselfde uitwerking.

Is voorskrifmedisyne altyd nodig?
Dis nié nodig elke keer as jy hoofpyn kry of 'n spier verrek nie. Vra jou apteker of jy dokter toe moet gaan en of hy/sy sommer vir jou iets kan gee.

En het jy regtig wéér antibiotika nodig?

Jou dokter kan dalk aanbeveel dat jy eers wag en kyk of jy beter voel. Bespreek nou en dan al die medisyne wat jy neem met jou dokter. Dalk neem jy medikasie vir 'n ander pil se newe-effekte. Só kan sekere pille jou hardlywig maak, dus drink jy 'n lakseermiddel. Vra jou dokter se raad.

Bron: Lorraine Osman, woordvoerder van die Aptekersvereniging

Al doen jy dié maand net een nuwe ding . . .

Begin stap! En doen dit reg.

  • Moenie stadiger stap teen die opdraandes nie.
  • Kyk op en swaai jou arms energiek. Só verbrand jy tot 10% meer kilojoules (kJ). dit dwing ook jou bene om vinniger te beweeg. Buig jou elmboë teen ’n 90º-hoek en ontspan jou skouers.
  • Oefen met gewigte. Soos jy ouer word, verloor jy spiermassa wat jou krag en energie verminder en die rolletjies laat saampak. Gewigte keer dié proses om.
  • Moenie te gou te veel verwag nie. Tensy jy elke dag ’n uur lank stap, gaan jy stadig (maar seker) vorder.

Bron: Stap jouself slank deur Andrew Cate, Struik, 2007

Altyd energiek


Eet vir Volgehoue Energie 3


In Eet vir volgehoue energie 3 gee dieetkundiges Liesbet Delport en Gabi Steenkamp nog maklike maniere om koolhidrate wat stadig vrygestel word (lae GI) in jou maaltye te gebruik. Dít word aanbeveel vir diabete, verslankers, kinders met konsentrasie-probleme, mense met hoë cholesterol en hoë bloeddruk - én almal wat gesonder wil leef. Selfs meer prakties en aptytwekkend as die boek se 2 voorgangers. Beslis die beste een nog! (Tafelberg-Uitgewers, R150)