Grondboontjiebotter -- goed vir jou

Grondboontjiebotter is propvol monoonversadigde vette - góéd vir jou hart. 'n Studie wys mense wat insulien-weerstandig is en meer sulke vette eet, het minder maagvet. Dis teenoor mense wat meer koolhidrate, bv. verfynde meel en suiker, of versadigde vette, bv. vetterige vleisprodukte soos spek en wors, inkry. As jy gewig wil verloor, moet jy egter jou porsies dophou.

1 porsie grondboontjiebotter = 2 eetlepels = sowat 760 kJ.

Bron: www.prevention.com

'n Lawaai en jou hart

'n Chroniese geraas, hard genoeg dat jy jou stem moet verhef om gehoor te word, kan jou kans op 'n hartaanval met tot 5% verhoog, veral as jy tuis én by die werk daaraan blootgestel word.

Bron: You Staying Young deur Michael F. Roizen en Mehmet C. Oz, HarperCollins, 2007.

Grond laat jou goedvoel

Woel met jou hande in die grond. Wetenskaplikes het 'n "vriendelike" bakterie daarin ontdek wat jou breinselle aanspoor om serotonien te vervaardig. Dis jou brein se eie goedvoel-middel, wat baie soos 'n antidepressant werk.

Bron: www.medicalnewstoday.com

Kitskos - daarom eet jy dit

Of gemorskos. Die naam sê alles. Tog eet baie mense dit steeds. Die redes, volgens 'n Amerikaanse opname, is:

*Dis vinnig 92,3%

*Die eetplek is maklik bereikbaar 80,1%

*Ek hou van die smaak 69,2%

*Dis goedkoop 63,6%

*Ek is te besig om te kook 53,2%

*Ek bederf myself 50,1%

*Ek hou nie van kosmaak nie 44,3%

*My familie hou daarvan 41,8%

*Dis 'n manier om te sosialiseer 33,1%

*Die betrokke eetplek verkoop ook voedsame kos 20,6%

*Die betrokke eetplek bied vermaak aan 11,7%

*Bron: Priya Seetal, dieetkundige: SA Suikervereniging