(die selle wat deur die virus aangeval  word) het die hoogte ingeskiet.

“Die proses van selfontdekking is egter ’n reis, daar is nie ’n kitsresep nie.

“Ek het sowat drie jaar gelede ’n groot verlies gehad. Ek was emosioneel platgeslaan,my immuunstelsel kapot.
Ek was besig om te sterf.

“Om antwoorde te vind het ek met kruie geëksperimenteer, wat die bewussyn verander. Op een van my ‘reise’ het ek my Siel ervaar. Ek het besef ek is nie my kop, lyf, naam, geslag, verlede, toekoms, vaardighede, opvoeding, loopbaan, godsdiens of MIV-infeksie nie. Ek ís eenvoudig net. Skielik het dit nie saak gemaak of ek lewe of dood is nie - en my immuniteit het boedel oorgegee.

“Ek moes veg omweer by ’n punt te komwaar ek wóú leef. En daarna het ek anti-retrovirale middels begin gebruik.

Ek is net so gesond soos vyf jaar gelede.

“Ek glo dis omdat ek dit neem, nié omdat ek bang is om dood te gaan nie. My begeerte is om te bly leef. Daar is ’n verskil.”

David waarsku teen “positiewe ontkenning”: As jy die knop in jou bors ignoreer, sal dit dalk weggaan. En intussen word die kwaadaardige gewas net groter.

“Ek weet ek het ’n siekte wat potensieel lewensgevaarlik is. My begrafnisrede is geskryf. Maar ek het ook planne om my huis te verbeter. Ek het vir die ergste beplan - maar het doelwitte vir die toekoms. Wat glo jý? Gee dit jou vreugde en vrede? Ek hou nét aan sulke oortuigings vas. My gunsteling is: God het my lief.“

* * *

Selfs die mediese wêreld verander ... Jy bestudeer die dokter se voorskrif:Mediteer elke dag. Besoek ou vriende. Lees spirituele boeke. Hoe nou? Want ’n geneesheer konsentreer mos op jou lyf. Hy/sy het niks uit te waai met wat jy glo nie. Maar die kurrikulumvan talle buitelandse mediese skole sluit deesdae ook spirituele geneeskunde in. Want navorsing stapel op: As jy spiritueel/godsdienstig is, kan dit baie chroniese toestande afweer.

Soos hoë bloeddruk en hartsiektes. Jy kan vinniger ná ’n operasie herstel. En méér ... Dis nie nuut nie.

Spirituele leiers se “pligte” het duisende jare lank ook dié van geneser ingesluit. Die mediese wetenskap het egter in die negentiende eeu van spiritualiteit losgebreek - en die kloof het gou wyd gegaap. Nou swaai die pendulum.

’n Onlangse peiling onder ’n groot getal dokters het getoon sowat 96% van hulle glo dat spirituele welstand belangrik vir gesondheid is, skryf Linda Friedland, mediese dokter van Johannesburg, in Self, die essensiële gesondheids- en lewensgids vir vandag se vrou (Tafelberg, 2005).

Spiritualiteit? Dis nie noodwendig sinoniem met godsdienstigheid nie. Dis wel die geloof in iets groters as jyself. Dat die lewe ’n hoër doel het waarby jy inpas - en dat alles fyn beplan is. Só verduidelik Hantie Olivier van Roodepoort, wat wyd oor spiritualiteit lees.

Hoekomdie mediese belangstelling in spirituele gesondheid? Linda sê dis hoofsaaklik vanweë ’n toenemende aantal studies wat op ’n verband tussen spiritualiteit en beter gesondheid dui. Ook tussen spiritualiteit en langslewendheid, beter hanteringstegnieke en lewensgehalte (selfs as jy terminaal siek is). En ’n vermindering van angs, depressie en selfmoord.