Jy kan vanjaar gesonder wees én steeds lekker eet! Kies net jou peuselhappies slim, sê geregistreerde dieetkundige Mariza van Zyl van BeterEet.

Jy eet gewoonlik ...

Salticrax met roomkaas-doopsous

Kies eerder ...

Mielie-nacho-skyfies met avokado-doopsous en salsa

• Nacho-skyfies bevat sowat 20% minder vet as Salticrax en avokado is propvol gesonde onversadigde (goeie) vette vergeleke met die roomkaas-doopsous.

Designed by FreepikDesigned by Freepik

Jy eet gewoonlik ...

Aartappelskyfies

Kies eerder ...

Mikrogolf-springmielies

• Jy kou heelwat langer aan 2 koppies springmielies as ’n klein bakkie aartappelskyfies. Mikrogolfspringmielies is boonop nie so hoog in vet soos aartappelskyfies nie. Kies jy die sout opsie, spring jy ook allerhande kunsmatige geur-, kleur- en preserveermiddels vry. Kyk uit vir ’n handelsnaam sonder gehidrogeneerde (hydrogenated) vet, of nog beter: maak dit self in ’n kastrol met olyfolie!

FOTO UnsplashFOTO Unsplash

Jy eet gewoonlik ...

Chinese rolletjies (spring rolls)

Kies eerder ...

Pastrami gesmeer met mosterd, om ’n agurkie gerol

• ’n Vinnige, maklike en elegante versnapering – sonder die diepvet-slaggat. Mosterd bevat voedingstowwe wat as antioksidante optree en jou liggaam dus help beskerm.

Onthou

• Besluit vooraf: Is dit ’n maaltyd, of wil jy peusel? Peuselkos moet liefs nie meer as 500 – 800 kJ per keer bevat nie. En kombineer dit met ’n vrug.

• Onthou! Jou maag moet versadig voel om die boodskap na jou brein te stuur dat jy genoeg gehad het. Iets baie vetterigs maar klein – dit het dus baie kJ, maar is nie besonder groot nie – kan jou laat aanhou eet. Kombineer etes en peuselgoed met ’n glas water of ’n beker rooibostee.

• Moenie eet terwyl jy werk/lees/loop nie – jou aandag is elders en voor jy jou oë uitvee, is die pak leeg.

Probeer om nie elke dag verfynde kos (witmeel, witbrood, muffins) te eet nie. Vrugte, neute en jogurt is ’n voedsame, kJ-vriendelike maaltyd of peuselhappie.

*Kry nog wenke in Mariza se boek Dik vir Dieet (Naledi). Besoek haar webblad.