Die internet het tot baie positiewe dinge gelei. Jy kan enige tyd aanlyn vir nuwe skoene soek; daar is ’n eindelose voorraad kat-video’s, of honde, as dit jou ding is . . .

En ja, dit kan ’n goeie bron wees van dieetwenke en hoe om gesond te leef. Mits jy op geloofwaardige (mediese) webtuistes daarna soek. Maar daar is ook belaglike gesondheidsmites, veral oor kos, wat vastrapplek kry.

Koffie-enema vir ’n blinker en flinker derm

Koffie, solank nie in oormaat nie, kan goed vir jou gesondheid wees. Maar net as jy jou koppie boeretroos op die konvensionele manier geniet. Goop, aktrise Gwyneth Paltrow se leefstyl-blog, het onlangs met ’n koffie-enema-apparaat gesmous. Enemas speel glo ’n rol in “gesondheid, detoksifikasie en langlewendheid”. Dink egter twee keer voor jy koffie (en ander vloeistowwe) in jou ingewande spuit, wys studies. Daar is ’n handvol gevallestudies van rektale perforasies en brandplekke weens warm koffie- enemas. Selfs al het dit afgekoel, kan dit inflammasie laer af in die ingewande veroorsaak.

Water, selfs teen liggaamstemperatuur, kan ook nadelig wees. Dit kan die natuurlike balans van dermbakterieë omver werp en ’n elektroliet-wanbalans veroorsaak, net soos wanneer jy diarree gehad het. En selfs gaatjies in die derm maak. Dis boonop onnodig om jou ingewande skoon te maak (oftewel te cleanse), jou liggaam doen dit self, volgens dr. Jen Gunter, Amerikaanse verloskundige en ginekoloog, op haar blog by drjengunter.wordpress.com.

Onderbroke vas beter vir gewigsverlies

’n Tendens genoem onderbroke vas (intermittent fasting) is tans baie gewild. Dit behels afwisselende siklusse van vas en eet. Dit skryf nie voor watter kosse jy kan eet nie, maar eerder wanneer jy dit moet doen. Daar is verskillende metodes, wat almal die dag of week in tye van eet/vas verdeel.

Ons almal “vas” daagliks terwyl ons slaap. Onderbroke vas kan so eenvoudig wees soos om die vastyd effens te verleng. Jy slaan dan ontbyt oor en eet die eerste keer met middagete en jou laaste maaltyd agtuur saans. Jy vas dan tegnies 16 uur ’n dag en eet in ’n 8-uur-tydgleuf. Dis die gewildste manier van onderbroke vas, bekend as die 16/8-metode. Hollywood-hunk Hugh Jackman het sy Wolverine-lyf glo onder meer daaraan te danke. (En ure in die gimnasium!)

Verskeie blitsverkoper-boeke besing die voordele daarvan vir gewigsverlies, asook die feit dat dit risikofaktore verminder wat tot diabetes tipe 2 en hartsiektes bydra. Maar nee, ’n magiese nuwe manier om gewig af te skud is dit nie. ’n Oorsig van studies langer as ses maande in die interna-sionale joernaal Nutrients vind geen bewyse dat dit beter as ander diëte is nie. Die navorsers het gereken groter studies oor ’n langer tydperk is nodig om te bepaal hoe lank jy die gewig afhou wat jy só afskud.

Só ’n studie is verlede jaar in JAMA Internal Medicine gepubliseer. Navorsing is ’n jaar lank met 100 vetsugtige deelnemers gedoen – ses maande om gewig te verloor en ses maande om te sien of dit afbly. Groep 1 het elke tweede dag (vasdag) 25% van hul daaglikse kJ geëet en die alternatiewe dag (feesdag) 125%. Groep 2 het bloot hul kJ-inname verminder en groep 3 het gewoonweg geëet.

Dit was moeiliker vir dié wat onderbroke gevas het om by hul dieet te hou, is bevind. Gewigsverlies (en die “terugkruip” daarvan daarna) was soortgelyk tussen die dieetgroepe. So ook veranderinge tussen vet en spierweefsel. (Een van die aannames van onderbroke vas is dat jy minder spiere verloor as met tradisionele diëte.) Die vermindering van risikofaktore vir hartsiektes, soos bloeddruk, cholesterol en trigliseriede (’n tipe vet in jou bloed), was ook dieselfde.

Die gevolgtrekking? Dis nie beter (of slegter) as ’n gewone dieet waar jy bloot minder eet nie. (Interessant: Die studie se mede-outeur, dr. Krista Varady, is jare lank al ’n onwrikbare voorstander van onderbroke vas.)

Nog ’n studie, in die Europese joernaal Clinical Nutrition, het bevind nie een van die twee metodes verminder die liggaam se manier om te kompenseer vir wat hy as hongersnood ervaar nie: Die metabolisme raak stadiger en die sogenaamde hongerhormoon, ghrelien, se vlakke vermeerder.

“Ek raai kliënte aan om nie tussen agtuur saans en agtuur soggens te eet nie, dus twaalf uur se vas. As jy egter voor dit honger is, is dit nie sinvol om voort te beur nie,” sê Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl. “Ons verskil almal. As dit vir jou werk om later soggens te eet, doen dit. Maar is dit vir jou beter vroeër, is daar niks mee verkeerd nie – mits jy ’n gesonde eetpatroon volg.” Bykomende bron: The Washington Post

Glutenvry is gesonder

Eers het jy dit net in gesondheidswinkels gekry. Nou is glutenvrye kosse oral. Vir mense wat sensitief is vir gluten, ’n proteïen in koring, rog en gort, is dit ’n seën. (Sowat 1 uit 100 mense, volgens Mariza in haar boek Dik vir Dieet, Naledi.) Maar deesdae is dit byna mode om gluten te vermy. Mense gaan op glutenvrye diëte om gewig te verloor, vir ’n energie-skop, as behandeling vir outisme of om net gesonder te voel.

’n Mors van geld as jy nie gluten-sensitief is of seliaksiekte het nie, volgens ’n blog op Harvard Health (www.health.harvard.edu). Seliaksiekte is ’n outo-immuunsiekte wat deur ’n bloedtoets gediagnoseer word. Simptome is wyd uiteenlopend, soos derm-ongemak, stoelgang-abnormaliteite, ’n ystergebrek en ander voedingsgebreke weens die wanopname van voedingstowwe.

Sweedse navorsing het wel ’n sterk verband gevind tussen outisme en die voorkoms van gluten-teenliggame. Dit dui op ’n immuun-reaksie teen die proteïen, en sommige kinders met outisme baat dan ook by ’n glutenvrye (en kaseïenvrye) dieet. (Kaseïen is ’n proteïen in melk.)

Die afwesigheid van gluten in kos maak dit nie outomaties gesonder nie. Glutenvrye brood word dikwels van verfynde stysel gemaak, wat nie ’n beter gesondheidskeuse is nie.

Margarien een molekule verwyder van plastiek

Dis nie duidelik waar die mite vandaan kom nie, dalk die ewigdurende margarien-versus-botter-debat. Die “ou” proses waarvolgens margarien vervaardig is (hidrogenasie), was vergelykbaar met die vervaardiging van plastiek en het transvette tot gevolg gehad, volgens Mariza. Dis baie sleg vir jou hart. Deesdae word ’n ander proses (interesterifikasie) meestal gebruik, wat nie tot transvette lei nie. Daar is egter min navorsing gedoen oor ander moontlike nadelige gevolge, soos insulienweerstandigheid.

Botter, of margarien? Wat jy kies, is jou keuse, mits dit deel van ’n gebalanseerde dieet is, sê sy. Maar oppas, alle margarien is nie dieselfde nie. Die “harde” margarien wat jy koop as jy nie die duurder, sagte smere kan bekostig nie, het dikwels net so veel versadigde vet as botter. Juis dié versadigde vet speel by baie mense ’n rol in die ontwikkeling van hartsiektes, insulienweerstandigheid en inflammasie.

Navorsing wys, ja, die sg. “goeie” margarien kan jou cholesterol help verlaag. Dis meestal die soorte waarby aktiewe plantbestanddele (sterole) gevoeg is. Dis die sterole wat jou cholesterol verlaag, nie margarien as sodanig nie. Jy moet baie margarien eet, 25 g per dag, vir die beskermende effek daarvan. (’n Groot hap uit jou daaglikse vetvoorraad.) En selfs by die “goeie” margarien is die balans tussen die omega 3- en omega 6-vetsure dikwels versteur. Dit hel na omega 6-vette toe oor. Margarien bevat ook preserveermiddels, deesdae ’n belangrike gesondheidskwessie, sê Mariza.

Kanker voed op suiker

Een van die internet se mees wydverspreide fop-e-pos-kettings word genoem “Cancer Update from John (sic) Hopkins”. Johns Hopkins, een van die voorste navorsing-universiteite in Amerika, ontken ten sterkste dat hulle daarvoor verantwoordelik is. Die e-pos beskryf alternatiewe maniere om kanker te voorkom en te behandel, wat glo meer doeltreffend as chemoterapie, bestraling en chirurgie is. Kanker “voed” op sekere kosse, soos suiker, word beweer. Op die internet is daar waarskuwings teen die “wit dood” en dat suiker kanker se gunstelingkos is.

Nie so nie, volgens www.cancerresearchuk.org. Wat wel waar is, is dat ’n verhoogde inname van verfynde suiker vir seker bydra tot ’n milieu in die liggaam wat jou risiko vir verskeie siektes (nie net kanker nie) verhoog, volgens Mariza. Die gereelde inname van te veel suiker dra by tot ’n wanordelike suiker-metabolisme, oorgewig en insulien-weerstandigheid, toestande geassosieer met ’n verhoogde risiko vir kanker. Die impak is selfs groter as suiker belangrike voedingstowwe in die dieet vervang, wat dikwels gebeur, sê sy.

Kanola-olie van giftige raapsaad gemaak

Kanola-olie kom van die kanola-plant se gestampte/gebreekte sade, nie raapsaad nie. Die twee plante is verwant, maar verskil wat voeding en samestelling betref. Raapsaad-olie bevat hoë vlakke van erukasuur, wat aan hartsiektes gekoppel word.

In die sestigs het boere kweekmetodes gebruik om die erukasuur uit die kanola-plant te verwyder. Kanola-olie moet nou minder as 2% daarvan bevat. Dus: kanola-olie is nie giftig nie. Dis ook goed vir jou hart: met min versadigde en baie onversadigde (“goeie”) vette, wat insluit omega 3-vetsure, waarvan die moderne mens hopeloos te min inkry. Bronne: webmd.com, Prevention.com

Ek raai kliënte aan om nie tussen agtuur saans en agtuur soggens te eet nie Mariza van Zyl, dieetkundige

En ’n tikkie waarheid

Appelasyn maak (dalk) maerder

“Apple cider vinegar weight loss diet” – een van die gewildste gesondheidsonderwerpe waarvoor mense verlede jaar gegoogle het, volgens Harvard Health. Appelasyn (gefermenteerde appels) word al eeue lank medisinaal gebruik – vir seerkeel, verkoue, sooibrand, detoksifikasie en in ’n stadium selfs as antibiotika. Die gesondheidsvoordele is dalk danksy die hoë vlakke asynsuur en miskien ander bestanddele. Gewigsverlies?

In ’n Japanse studie met 175 mense moes een groep daagliks 1-2 eetlepels appelasyn (verdun met ’n bietjie water) drink. Ná drie maande het hulle sowat 1-2 kg verloor en laer trigliseriede-vlakke gehad as die groep wat nie asyn gedrink het nie. Vier weke ná voltooiing van die studie het hulle egter feitlik al die gewig weer aangesit.

“Suur – soos appelasyn maar ook suurlemoen – kan die verteringsproses beïnvloed deurdat dit die tyd verleng wat kos in die maag bly,” volgens Mariza. “Dié effek kan teoreties dus jou liggaam se respons op ’n maaltyd – veral die bloedsuiker-respons – voordelig beïnvloed: suurheid kan inderwaarheid die glisemiese lading van die maaltyd verminder.”

Is dit nodig om die appelasyn te drink?

Geensins, dis veel beter om ’n klein hoeveelheid deel van jou ete te maak. ’n Tuisgemaakte slaaisous met olyfolie, ’n knertsie heuning en appelasyn is nie net lekker nie, maar het ook potensiële gesondheidsvoordele. Sonder die gevaar dat jy te veel gebruik, volgens haar.

Onthou Verdun appelasyn, want onverdun kan dit jou tandemalje beskadig. Maak dit byvoorbeeld deel van ’n slaaisous, soos Mariza aanbeveel.

Dit kan lae kaliumvlakke veroorsaak of vererger: Belangrik as jy medikasie gebruik wat kaliumvlakke kan verlaag. Soos algemene ontwateringsmiddels vir hoë bloeddruk.

Dit kan insulienvlakke verander. Diabete moet veral versigtig wees vir ’n dieet met baie asyn, volgens Harvard Health se blog.