.

Dis heerlike lente . . . maar nie vir allergie-lyers nie. Want baie van die dinge wat allergieë veroorsaak, is dié tyd van die jaar in oorvloed. Maar daar is ook diegene wat heeljaar sukkel met tranerige oë en ’n loopneus. Boonop neem allergieë wat asemhaling belemmer (soos asma en rinitis - inflammasie van jou neus se slymvlies) wêreldwyd toe - veral by jong kinders. Wetenskaplikes krap nog kop oor die rede hiervoor. Teorieë wissel van aardverwarming tot die moderne neiging om kinders “kiemvry” groot te maak - deur onder meer té veel anti-bakteriële produkte te gebruik. Hul immuunstelsels bou dus nie ’n natuurlike weerstand teen kieme op nie.

Dis wel duidelik dat die Westerse leefwyse ’n rol speel. Volgens prof. Paul Potter, wat verbonde is aan die diagnostiese en kliniese navorsingseenheid oor allergieë by die Universiteit van Kaapstad se long-instituut, het allergieë in die verlede nie so algemeen in landelike gemeenskappe voorgekom nie. Maar dis besig om te verander namate die Westerse leefwyse ook daar toeneem. Die ou opvatting dat babas wat ses maande en langer geborsvoed is, minder allergieë het, is nou ook op sy kop gekeer. Dit geld net as die ouer sélf nie allergies is nie en daar nie ’n familiegeskiedenis van allergieë is nie. Jou gene is in dié geval sterker as omgewingsfaktore, sê hy.

Het jy geweet?

  • 20% van mense ly aan die een of ander allergie.
  • ’n Minimum van 240 allergene is geïdentifiseer.
  • 2% van volwassenes is allergies vir sekere kosse.
  • 2% tot 8% van kinders is allergies vir sekere kosse.
  • 1/44 000 is die fraksie in ’n grondboontjie wat ’n allergiese reaksie kan veroorsaak by mense wat baie allergies daarvoor is. (www.webmd.com)

Allergies vir Kiets?

Jammer, daar is geen kuur nie. Dit maak nie saak of jou kat kort of lang hare het nie: Jy reageer op die proteïene in sy speeksel. Was jou hande nadat jy aan hom gevat het. Maar die proteïen-stof is só fyn dat dit oral versprei word. Die nuwer soorte anti-histamien sal jou verligting gee. Inspuitings (immuno-terapie) sal help as jy nét vir een ding (bv.katte) allergies is. (Die meeste mense is allergies vir meer as een ding.) Voor jy begin wroeg: Laat eers ’n veltoets doen om te bepaal of jy wel allergies vir jou beste “vriend” is. (Allsa)

Wat is ’n allergie?

Jou liggaam reageer op ’n onskadelike stof (soos kos, katte, stuifmeel of stofmyte) en skei stowwe (soos histamien) af om daarvan ontslae te raak. Die reaksie op dié onwelkome “indringer” kan ’n gehoes, genies, loopneus, geïrriteerde en tranerige oë of ’n veluitslag wees. Nog simptome is ’n jeukende en/of toe neus, post-nasale afskeiding, effense doofheid, kortasemrigheid,’n benoude bors en hoofpyn.

(Bron: Reken af met allergieë deur drs. François en Esther Retief, Lapauitgewers, 2004)

Die volgende toestande hou met ’n allergie verband

  • Asma: ’n Siekte van die asemhalingstelsel met ’n sterk allergiese komponent. Sowat 99% van kinders met asma het die een of ander allergie. Simptome sluit in kortasemrigheid,’n droë hoesie en benoudheid. Sowat 1 uit 10 (10%) van Suid-Afrikaners het asma, aldus www.health24.com.
  • Ekseem: ’n Veltoestand wat een van die algemeenste vorms van allergieë is. Die simptome is ’n gejeuk en rooi uitslag, dikwels saam met klein blasies wat korse vorm.
  • Rinitis: Inflammasie van die neus se slymvlies. Dit kan seisoenaal (hooikoors) of reg deur die jaar voorkom. Veral in die lente, vroeë somer en met seisoenwisselinge sukkel lyers met hooikoors. In Suid-Afrika het sowat 2 uit 10 mense (of 20%) rinitis, volgens die Allergie-vereniging van Suid-Afrika (Allsa). (Besoek www.allergysa. org.) Die simptome is ’n genies, lopende of verstopte neus, waterige oë en ’n jeukende neus, keel en oë. Mense met dié toestand het ’n tipiese voorkoms wat as “allergiese gesigte” bekend is. Jy is dikwels bleek met donker kringe onder jou oë en droë lippe - omdat jy so baie deur jou mond moet asemhaal. Baie mense het ook ’n duidelike plooi oor hul neus. Dis weens die sg. allergiese “saluut”: Wanneer jy jou jeukende neus voortdurend met jou wysvinger opdruk en heen en weer beweeg.

Maak jou huis allergeen-vry

Seisoenale allergiese rinitis word deur grassade en stuifmeel veroorsaak. Chroniese rinitis weer deur onder meer huisstof, kakkerlakke, troeteldiere se velselle, droë speeksel en urine, muf en swamme, en irriterende chemiese stowwe.

  • Bad jou troeteldiere gereeld en verban hulle uit die slaapkamer: Jy bring die meeste van jou tyd by die huis daar deur.
  • Verwyder potplante (veral varings), wat spore en swamme berg. Swamme groei ook op droë rangskikkings (gooi uit!), in lugversorgers, storthokkies, vistenks en yskaste. Maak dit gereeld skoon.
  • Was klere, beddegoed, matte en gordyne in warm water (sowat 60 °C) om van stofmyte ontslae te raak. Stofsuig ook jou huis gereeld.
  • Allergieë is meer algemeen in subtropiese gebiede en aan die kus: Hoë humiditeit en hitte bevorder die aanteel van stofmyte, kakkerlakke en swamme. Ou huise het ook meer dikwels ’n probleem met dié “goggas”.

    Reken af met allergieë en www.webmd.com

Hoe stel ek vas waarvoor ek allergies is?

’n Veltoets is die vinnigste, goedkoopste en doeltreffendste manier. Jou dokter kan dit sommer doen. Jou vel word liggies geprik en ’n allergeen (stof wat ’n allergiese reaksie veroorsaak) word op die buitenste laag gespuit. Jou dokter sal ná 15 tot 20 minute kyk vir ’n reaksie soos jeukbulte, swelling of rooiheid. Vermy dan dié snellers sover moontlik. (Reken af met allergieë)

Hoe kan ek my rinitis met medisyne beheer?

Neem elke oggend ’n anti-histamientablet wat jou nie vaak maak nie. (’n Voorskrif is nie nodig nie.) Dis nie verslawend nie, maar jou liggaam kan wel later ’n weerstand opbou. Wissel dus verskillende soorte af. Newe-effekte is onder meer: lomerigheid (by die ouer soorte), swakheid, traagheid, ’n droë mond en omgekrapte maag. As dít nie help nie, gebruik ’n sout-neussproei of mondelikse ontstumiddel (in tabletvorm en slegs as jy nie hoë bloeddruk het nie). Moenie langer as twee tot drie dae neusdruppels/-sproei (sonder voorskrif) gebruik nie. Dit kan inflammasie en ’n verstopte neus vererger. As jou neus steeds toe is, vra jou dokter vir ’n kortikosteroïde-neussproei. Anti-histamien-oogdruppels sus jou jeukende oë en hoeslekkers jou seer keel (weens ’n post-nasale afskeiding). (Reken af met allergieë)

Wat van inspuitings?

Dit staan bekend as immuno-terapie en kan jou sensitiwiteit vir ’n spesifieke allergeen verminder. Oor ’n paar maande word ’n klein bietjie van die allergeen met gereelde tussenposes onder die vel ingespuit. Jy bou mettertyd ’n immuniteit daarteen op. Ná ses tot tien maande verminder die simptome en jy kan dit met minder medikasie beheer. Dis net doeltreffend as jy vir een of twee allergene allergies is. Ongelukkig is mense wat tot allergieë geneig is, gewoonlik vir ’n klomp dinge allergies. (Reken af met allergieë)

Sal aanvullende medisyne werk?

  • Akupunktuur bring skynbaar verligting. (Dun naalde word op spesifieke punte in jou liggaam gesteek. In dié geval rondom jou neus en in jou voorkop.) In ’n studie is akupunktuur twee keer per week vir agt weke lank toegepas op kinders wat hooikoors kry. Hul simptome het verminder tydens die behandeling en tot tien weke daarna - teenoor kinders wat nie die behandeling ontvang het nie. (Pediatrics, Nov. 2004) Bel die South African Society of Integrative Medicine (Sasim) by 021 885 1010 indien jy ’n dokter wat akupunktuur doen, wil kontak.
  • Sowat 200 mg MSM (’n aanvulling beskikbaar by apteke en gesondheidswinkels) daagliks versterk die liggaam se natuurlike weerstand teen allergene, aldus dr. Arien van der Merwe in Geluk & Gesondheid, HSM uitgewers, 2006. Paul Potter sê egter daar is nie genoeg wetenskaplike bewyse dat aanvullende medisyne allergieë kan genees of verbeter nie.

Troetel jou neus

  • Sinusmengsel: 1 l gekookte water, 3 t. sout, 1 t. koeksoda. Meng tot helder. Drup twee keer per dag in jou neusgate en snuif hard. Of snuif dit uit jou handpalm op. (Reken af met allergieë)
  • Vir ’n post-nasale afskeiding, verstopte sinusse en ander simptome wat die boonste lugweë raak: Meng ’n knippie gemmer, kaneel, mosterd, rissiepeper (opsioneel) en borrie met ’n huisie knoffel (opsioneel), ’n bietjie lemoensap en heuning in warm water. Jy kan ook ’n skeutjie brandewyn byvoeg. As die mukus (slym) geel of groen is, sit ’n knypie vars salie of tiemie by. Drink gereeld tot jy beter voel. (Geluk & Gesondheid)
  • Verlig ontsteekte, pynlike sinusse met ’n warm, klam handdoek.
  • Gooi 4 tot 5 druppels bloekomolie in ’n wasbak met stomende water. Sit ’n handdoek oor jou kop en asem diep in.
  • Skerp speserye is ’n natuurlike ontstumiddel.
  • Warm hoendersop help om mukus in jou mond, keel en longe te verdun.
  • seelug maak jou sinusse oop.
  • Drink baie water om jou sinus-membrane vogtig te hou en ontsteking te beperk. (www.webmd.com)

Hoe hanteer ek dit andersins?

Probeer om jou “snellers” te vermy. Dis maklik as jy vir een ding (bv. kathare of lateks) allergies is. As jy allergies is vir stuifmeel, moet jy jou vensters dié tyd van die jaar toe hou - al is dit die mooiste lentedag. Stuifmeel-tellings is nou op hul hoogste. Stort as jy tyd buite deurgebring het. Was ook jou nagklere, beddegoed en klere so dikwels moontlik. Werk op koel, bewolkte, vogtige of windlose dae in die tuin. Of net ná ’n reënbui, want die stuifmeel-telling is dan laer. Moenie laatoggend en in die middag buite oefen nie, want die stuifmeel-tellings is dan op hul hoogste. Drink vooraf ’n anti-histamien-tablet.

Is die bymiddels en preserveermiddels in kos veilig?

Hul veiligheid word deeglik getoets voor dit in kos gebruik word. Jy kan egter steeds sensitief wees daarvoor - veral as jy reeds ’n allergie het. Party veroorsaak meer gereeld ’n “reaksie” as ander.  Só het asma-lyers meer gereeld ’n “reaksie” op swaeldioksied en natrium-bensoaat as op die kleurstof tartrasien. Die simptome kan insluit vomering,’n uitslag, galbulte, toegetrekte bors, hoofpyne en as jy ekseem het, vererger dit. Maar die natuurlike chemikalieë in sekere kosse kan ook ’n negatiewe uitwerking hê. Vis wat nie vars is nie kan bv.’n hoë vlak van histamien hê. En jy kan op die histamien in wyn reageer en nie op die swaeldioksied nie. (Allsa)

Watter kos moet ek vermy?

As jy ’n allergie het, reageer jou liggaam op allergene deur onder meer te veel histamien te vervaardig. Daarom neem jy anti-histamien daarvoor. Sommige kosse bevat óók groot hoeveelhede histamien, of kan veroorsaak dat jou liggaam dit afskei. Elke mens het sy eie weerstand teen histamien. As dit oorskry word, ontwikkel allergiese simptome. As jy geneig is tot allergieë, moet jy oppas vir vis: tuna, sardiens, ansjovis, makriel; kaas: emmenthal, harzer, gouda, roquefort, camembert, tilsiter, cheddar; verwerkte vleis: salami, gedroogde ham; groente: gepekelde kool, spinasie, tamaties en tamatie-produkte; en alkoholiese drankies: rooiwyn, witwyn, vonkelwyn, bier. (Allsa)

Is daar ’n verband tussen allergieë en stres?

Stres veroorsaak nie allergieë nie, maar vererger dit. Volgens Paul Potter is dit nie duidelik wat die verband tussen die twee is nie. Dit kan wees dat stres jou immuniteit verlaag, maar niemand is seker nie. Die allergiese simptome en die moegheid en slegte slaap wat daarmee saamgaan, laat jou stresvlakke verder styg: dus ’n bose kringloop.(www.webmd.com)

Ek toets nie allergies vir enigiets nie, maar my neus loop heeljaar en is toe.

Jy het dalk nie-allergiese rinitis. Die simptome is soortgelyk aan dié van allergiese rinitis, maar word nie deur ’n allergie veroorsaak nie. Die bloedvate in jou neus sit uit en as gevolg daarvan swel die slymvlies. Verskeie faktore kan die sneller wees, soos infeksies (bv. griep of verkoue), irritasies uit die omgewing (passiewe rook, chemiese dampe), temperatuur-skommelinge, medisyne (anti-inflammatoriese medikasie), hormonale veranderinge (swangerskap, menstruasie), die lang gebruik van nie-voorgeskrewe ontstumiddels in die vorm van neusdruppels/-sproei, kos en drank (gekruide kos, alkoholiese drankies) en stres. Jou simptome kom en gaan dwarsdeur die jaar: Dit sluit in ’n neus wat loop of toe is, en ’n post-nasale afskeiding. Anders as met allergieë, jeuk jou neus, oë en keel egter nie. Komplikasies van chroniese rinitis (hetsy allergies of nie) sluit in: poliepe in jou neus en sinusse, chroniese sinusitis (inflammasie van die sinusmembrane) en middeloor-infeksies. (www.mayoclinic.com) As jy nie jou simptome self onder beheer kan kry nie, besoek jou dokter.

Geluk & Gesondheid is beskikbaar by www.HealthStressWellness.com. Allsa se inligtingsentrum: 021 447 9019, allsa@gem.co.za; National Asthma Education Programme: 011 643 2755, www.asthma.co.za. Kontak dr. Retief by 044 6912 123 en prof. Potter by 021 406 6883.