Almal weet jy moet 3 gebalanseerde maaltye per dag eet - eweredig versprei. Só bly jou bloedsuiker stabiel en jou energievlakke hoog. Maar as jy jou etes effens kleiner maak, kan jy elke dag 2 van hierdie peuselhappies geniet. Hou net matigheid voor oë . . . dit kan 'n hele maaltyd word as jy aanmekaar knibbel.

*1 groot piesang
Dis oral beskikbaar en maklik om saam te dra. Die vitamien B6 daarin ondersteun jou immuunstelsel en help onder meer om nuwe rooibloedselle te vervaardig.

*12 middelslagaarbeie met 1 eetlepel room
Bloedrooi, soet-suur en sappig. Dié familie van die roos het baie vitamien C, wat as buffer teen vry radikale dien (dit speel 'n rol in leefstylsiektes soos hartkwale en laat jou vinniger oud word). Vitamien C hou ook jou bloedvate en ander weefsel soos tandvleis gesond.

*3 volgraan-kraakbeskuitjies soos Provita, met 4 teelepels gegeurde laevet-maaskaas
Dié kombinasie van lae GI-koolhidrate en proteïen is goed vir hongerpyne. Die beskuitjies bevat B-vitamiene en die maaskaas al die essensiële aminosure (onder meer nodig vir selvernuwing).

*8 jelliebone
Iets vir die suikertand. Anders as sjokolade het dit nie vet nie.

*15 pistasieneute
Dié groen neute is 'n bron van vitamien E, fosfor en vesel. Studies toon vitamien E kan jou moontlik beskerm teen hartkwale en Alzheimer-siekte.
Fosfor is goed vir jou bene en help om energie vry te stel.

Bron: Celeste Naudé, dieetkundige van Kaapstad met 'n belangstelling in gesondheid-kommunikasie