Hélène Horak se blog oor haar gewigsverlies op SARIE.com is een van ons gewildste blogs nóg. Haar gewigsverlies van 70kg het baie vroue geïnspireer om gesonder te leef.

Ons het vir byna ’n maand elke weeksdag saam met haar die pad gestap en ons onthul nou haar nuwe lyf in die April-uitgawe van SARIE. Intussen beantwoord sy lesers se dieet- en leefstyl-vrae op SARIE.com - lees haar antwoorde HIER.

Vandag deel sy van haar gunsteling-resepte met ons.

Mengelslaai

Dié mengeslaai met verskillende opsies noem sy haar stapelvoedsel op weeksdae.

"Hierdie slaai is amper ’n maaltyd op sy eie en baie keer maak dit my só vol dat ek nie eens lus is om iets anders te eet nie."

Basiese slaai

  • blaarslaai (ek gebruik gewoonlik die kruie-blare van Woolworths)
  • komkommer
  • 2 tamaties
  • bietjie uie vir geur
  • 1 wiel Slimmer's Choice fetakaas (ook van van Woolworths)
  • druiwe
  • en/of neute

Opsie 1

  • Tuna (in water) met een eetlepel laevet mayonnaise en ’n bietjie tabasco-sous wat ek meng en saam met die slaai meng.

Opsie 2

  • Avokado en gerookte salm of forel wat ek met balsemieke asyn sprinkel.

Opsie 3

  • Een mango in repe gesny met amandels - maar net so palmvol! Dan gebruik ek suurlemoensap as slaaisous.

Opsie 4

  • Boonspruite en kekerertjies en balsemieke asyn.

Pasta-en-maalvleis

  • 1 ui
  • 1 knoffelhuisie
  • 1 groen soetrisse
  • 1 eetlepel olie
  • 500g of minder se maer beesmaalvleis
  • 1 eetlepel worcestersous
  • 1 sakkie tamatiepasta
  • 2-3 eetlepels tamatiesous
  • 1/2 teelepel sout
  • 1 blikkie lensies
  • 1 blikkie tamatie-en-uie-smoor
  • 1 pakke sampioene

Sauté die uie en soetrisse saam met die knoffel in die olie. Voeg die maalvleis by en verbruin. Gooi die worcestersous, tamatiepasta en tamatiesous by.

Gooi die lensies (saam met die water van die lensies) by en daarna die smoor. Geur met sout.

Voeg laaste die sampioene by. Jy kan ook vars basiliekruid en pietersielie byvoeg of  gedroogde Italiaanse kruie.

Wanneer die sampioene sag is, kan jy dit bedien op die pasta (volgens aanwysings gekook). Ek eet dit baie sommer sonder die pasta.

Het jy 'n vraag vir Hélène? Vra dit onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook- of Twitter-blad! Gebruik die hashtag #HeleneHorak en gesels saam!

Lees Hélène se blog in drie aflewerings HIER:

Só het ek 70kg verloor - DEEL 1

Só het ek 70kg verloor - DEEL 2

Só het ek 70kg verloor - DEEL 3

*Hélène is nie ’n dieetkundige nie. Haar raad is wat vir haar gewerk het. Praat met jou dokter as jy gewigsprobleme het of voordat jy ’n streng dieet begin volg.