Hélène Horak (37), ’n tandarts van Centurion, het 140 kg geweeg. Sy het in September 2011 besluit om die helfte van haar gewig af te skud en dié reis met haar lyf aangepak. Lees haar dieet-blog eksklusief op SARIE.com

Lees Helene se vorige blog-inskrywings

Amper amper!

Dis Maart 2012. My niggie trou die einde van die maand en ek is so naby aan my tweede target ek kan dit proe.

Omdat ek so baie moet verloor, het ek die 70 kg opgedeel in 15 kg mini-targets. Dit voel net meer haalbaar om te fokus op 15 kg as die totaal. Ek het van September 2011 tot Desember 2011, 15 kg verloor en is nou net 4 kg weg daarvan om 30kg al te verloor het.

Ek geniet die oefenplan waarmee ek en Riaan besig is en voel baie gemotiveerd. Ek was nog nooit so fiks in my lewe nie, selfs nie eers op skool nie. Ek voel sterk en kry ’n heerlike endorfien rush. Die feit dat ek ‘n verskil in my lyf ook kan begin sien, motiveer my net meer.

Die enigste hartseer ding is hoe my borste begin hang. Ek sukkel vreeslik om ’n bra te kry wat die goed gaan bo hou vir die troue en by die rokkie gaan pas. Hulle begin soos ou sokkies voel wat ek kan oprol! Dit help nie jy koop ’n sexy rokkie wat cleavage wys en dis sulke gerimpelde goed wat jy probeer wys nie. Ek wil huil. Die bra wat ek uiteindelik kry is baie ongemaklik, maar laat die buuste darem nie so sleg lyk nie. ’n Underwire-bra is soos middeleeuse foltering vir vroue met regtige groot borste, want dit voel asof dit tussen my ribbes gaan insteek. Ek kan net die spektakel sien as ek neerval soos ’n dooie os op die troue omdat een van die drade my long deurboor het. Ek moet die bandjies ook baie optrek en dit sny in my arme skouers in. Wat ons vroue ook nie alles sal doen in die naam van skoonheid nie!

Ek verloor 5 kg teen die einde Maart. Die troue is pragtig, maar wat belangriker is, is hoe wonderlik ek voel. Daar het soveel mense my gekomplimenteer op hoe goed ek lyk! Wat ’n heerlike mannier om die maand mee af te sluit! heerlike manier om die maand mee af te sluit!

My verjaarsdag

Ek verjaar in April en ons gaan see toe! Ek is baie opgewonde. Ons gaan gewoonlik Jeffreysbaai toe en die see is koud en dis winderig, ’n kombinasie wat minder pret raak in ’n tent. Ek is mal oor swem en geniet die Suidkus se see baie meer. Vir een, ’n mens kan swem sonder om iets belangriks af te vries en ons gaan in ’n regte huis bly. Whoohoo! Een van my broer se vriendinne het hierdie pragtige huis by die see en ons gaan die plek so bietjie uitkyk as ’n potensiële trou-venue vir my klein sussie. Dit gaan net ’n week wees, maar ek sien so uit na daarna.

Die oefening het ’n nuwe vlak van pret bereik (en met pret bedoel ek loutere hel). Ek begin bench presses doen. Ek het hierdie intense vrees dat ek my voortande gaan uitval as ek beheer oor die bar verloor, wat ’n wensenlike gevaar is met hoe swaar dit vir my voel. My arms pyn iets vreeslik en ek doen my beste nabootsing van ’n T-Rex redelik gereeld deesdae. Met die kardio gaan dit goed. Ek kan 60 minute se kardio doen. Ek voel regtig baie goed.

Eet is nog steeds ’n probleem. Ek is baie lief vir kos. Lekker kos. En ek het nie brieke as ek eers begin het nie. Ek vind dat dit help om sugarsnaps en rou wortels te eet. Dit is ook baie lekker vir my. Dit help ook om baie minder wegneemkosse te eet. Om die waarheid te sê kan ek nie onthou wanneer laas ons uitgeëet het of ’n take-away gekry het nie. Behalwe dat dit wonders werk vir jou figuur, is dit nogal ‘n merkwaardige verskil wat dit maak aan ‘n mens se kos begroting in ‘n maand.

Die week by die see is heerlik en ons gaan stap lang ente op die strand. Palm Place gaan ’n fantastiese trou-venue vir my sussie wees. Ek kan vir Divan, my jongste, lang ente abba. Iets wat nooit tevore sou moontlik wees nie. Hy weeg maar 21kg, so hy is ligter as die hoeveelheid gewig wat ek al verloor het.

Teen die einde van April het ek nog 4 kg verloor, 35kg altesame. Ek weeg nou 105 kg.

"Groot kuite en stewels is nie maats nie..."

Mei 2012. Ek wil so graag ’n paar stewels kan dra, maar selfs die stewels by Donna Clair is steeds te knap om die kuite. Dis só frustrerend, want ek voel al soveel beter oor myself al. Dit sal maar net as ’n motivering moet dien om harder te werk.

Ek doen 3 dae in ’n week 60 minute se kardio en dan doen ek nog 20 minute se weight training ná dit. Twee dae in die week doen ek pilates om my soepel te hou en Saterdae oefen ek saam met Riaan. Ek oefen vir 2 ure op ’n Saterdag.  Op Saterdae warm ek gewoonlik eers vir ’n uur op met kardio voordat ek saam met Riaan oefen. Dit maak dit baie intens en ek is gewoonlik redelik pap na die tyd. Ek kan al ’n verskil sien veral met die foto’s wat ek neem. Ek het baie meer energie as wat ek gehad het. Dit maak nie laat ek nie ook maar lam en moeg is na ’n lang dag se werk nie, maar dit is meer hanteerbaar.

Ek eet baie versigtig en mooi en bly baie goed onder my daaglikse kaloriemerk op Myfitnesspal.  Ek sit niks in my mond as ek dit nie ‘ge-log’ het nie, en dit werk. Naweke ontspan ek ’n bietjie, maar net ’n bietjie. Ek raak nie laf en gaan mal met die kos nie.

Ek voel ook dat my natuurlike geneigtheid tot depressie beter is op hierdie stadium. Ek is seker dis die heerlike endorfiene waaraan ek gewoond begin raak.

Einde Mei het ek die 100kg merk gebreek! Ek weeg 99kg en het 6kg die maand verloor.

"Frustrasie!"

Dis Junie 2012 en ek is bitter. Ek is bitter sommer vir alles. Dit voel asof ek die maand ’n kilogram verloor en dan weer optel. Daar is net geen vordering nie. En om alles te kroon het my menstruasie gekom die maand met die onwelkome vriend, waterretensie!

Ek oefen soos ’n mal mens, maar sien geen verskil op die skaal nie en ek eet baie mooi en reg. Ek wil my hare uit my kop uit pluk. Ek weet dit moes een of ander tyd gebeur dat ek gaan plato en dat dinge moeiliker raak. Maar party goed kan jy met jou kop verstaan, maar moet jy eers beleef om regtig te kan begryp.

Ek koester nare gedagtes. Ek soek pille, middels, salwe om hierdie makliker te maak. Ek begin na die dieëtpille staar in die winkels en lees die labels van al wat ’n fatburner is. Een van die pille belowe "explosive weight loss" en dit maak my net effens bekommerd vir die arme drommel wat die goed drink. Wat gaan gebeur? Gaan jou vet ontplof of is dit ’n belofte van explosive diarree? Wat dit ook al is, dit klink nie goed nie en ek laat vaar my lus vir pille. Ek het al van hierdie maermaak pille gedrink en óf dit werk net glad nie óf dit maak my so bewerig dat ek voel soos ’n bak jellie op ’n vibro-shake-masjien. Ek is ook regtig sleg daarmee om enige pille te drink of te onthou om hulle te drink. Ek kan dan nie eers onthou om my antihistamien pille te drink nie.

My gedagtes is donker. Ek kan nie myself uithonger nie, so anorexia is uit. Maar ek begin wonder hoe moeilik dit sal wees om myself te laat opbring? Vorige eksperimente met my braakrefleks, na ’n harde partytjie aand as ’n student, het net bewys dat ek potensieel my maagklep kan kielie, maar braak sal ek nie braak nie. Al die geluide is daar, maar geen aksie nie.

My ma en Riaan probeer hulle bes om my moed in te praat: Van waterretensie tot nuwe spiere wat vorm en swaarder weeg as vet, alles baie logiese verklarings, maar op die ou end is dit net ekself wat myself kan regruk. Ek wil nie obsessief oor my gewig raak nie! Ek weier, dit kan nie alles wees waaroor my lewe gaan nie. Ek het gewoond geraak aan sukses en ek is ‘n baie ongeduldige mens, so ek verwag dat as ek my deel doen en my bes gee moet daar resultate wees, maar die harde werklikeid is dat jy soms hard werk en daar gebeur niks nie. Dis wanneer jou karakter getoets word. Óf jy gaan lê dat dit jou baas weesf óf jy gaan aanhou en moed hou vir beter dae.

Ek hou moed en verloor op die ou end 4 kg. Ek weeg nou 95kg.

"Om ligter as my man te wees..."

Julie 2012. Ek verloor al hoe moeiliker gewig. Waar ek ’n kilo ’n week verloor het, soms meer, gaan dit nou stadiger. Dis baie frustrerend vir my, maar ek byt vas. Ek is vir die eerste keer in my lewe ’n paar kilogramme weg van my man se gewig en vir die eerste keer in ons verhouding het ek ’n kans om soveel soos hy, en hopenlik minder, te weeg.

Toe ek en Philip begin uitgaan het, aan die begin van my Matriekjaar, was ek nog nie oorgewig nie, net mollig. Ek skat ek het so tussen 70 en 75kg geweeg. Philip aan die anderhand, was ’n langafstand atleet wat 65 kg geweeg het. Dit het my nog altyd gepla dat hy minder as ek weeg. Hy het self toe hy 30 slaan en nie meer so hard geoefen het nie, gewig aangesit, maar hy was nog nooit vet nie. Op sy swaarste was hy 92 kg, wat aansienlik gesonder gelyk het. Kyk 65 kg vir ’n 1.83 m man is min en lyk effens ondervoed. Ek het altyd gelyk soos die vet vrou wat haar man se kos opeet. Dis aaklig. Ek dink dis elke vrou se idee van vroulikeid om kleiner in vergelyking met jou man te wees. Dit sal wonderlik wees as ek ligter en kleiner as hy kan wees.

Ek eet elke weeksaand ’n heerlike bak slaai en moet sê ek geniet die rou vrugte en groente vreeslik. Ek voeg neute ook by en bou die heerlikste slaaie. Ek glo dat hoe minder verwerk die kos is, hoe beter eet ek. Hoe nader aan die aarde hoe beter. Rou broccoli met ’n vinaigrette-sousie is heerlik en as ek lus het vir iets anders, gooi ek so bietjie ’n laevet-kaassous oor. Vet is nie jou vyand in kos nie en daar is baie goeie vette wat jy redelik gereeld nodig het. Ek sny niks heeltemal uit my dieet uit nie. Ek eet van alles. Net minder. Wat ek wel uitsny is hoog-verwerkte kosse. Hulle bring net leë kalorieë en niks anders na die partytjie toe nie. Neute en avokadopere is ’n heerlike bron van daardie goeie olies en is lekker vir my.

Ek sien meer spiere! Veral oor my bolyf en arms. My maag lyk nog aaklig, effens soos ’n swak geskraapte sinkplaatpad, maar ek het ’n goeie middel. Hopelik sal die maag al hoe platter word.

Ek verloor 3 kg einde Julie en weeg nou 91kg. Ek het altesame 49 kg verloor en dis nou al meer as wat my oudste seun weeg. Nou dat ek daaraan dink, dis meer as wat my ontvangsdame, Elna, weeg! Maar ek is nog nie ligter as Philip nie, k sal maar net nog harder moet werk.

"Controlled fasting"

Augustus 2012. Dis ’n geveg tot die dood toe met die gewig! Niks gebeur meer maklik nie. Ek baklei vir elke 500 g wat ek verloor. Ek wend nie myself na dieetkosse nie, maar lees die etikette. Alle kosse wat laevet op staan beteken nie dat dit ’n dieëtkos is nie en no fat is nie ’n uitnoding om jou daaraan te vergryp nie. Jellybabies het geen vet nie, maar baie suiker en kalorieë - leë suiker en leë kalorieë om presies te wees. Die woord no fat of non-fat laat baie mense dink hulle kan maar baie van dit eet. Dis ’n fout, ’n groot fout!

Ek begin sien dat my naweke van rus my baie kos met die gewigsverlies. Ek begin eksperimenteer met gekontroleerde vas. Anders as gewone vas, waar jy geen kos die dag in neem nie, laat gekontroleerde vas jou nie met lae bloedglukose nie. Met gekontroleerde vas eet jy 2 dae in die week nie meer as 800 kalorieë vir ’n vrou nie. Dit beteken dat jy aan allerhande gesonde slaaigoedjies die heel dag kan knibbel, maar net nie aandete moet eet in my geval nie. Ek voel nie honger nie, ek voel nie flou en bewerig nie. Al die navorsing wat ek gelees het dui daarop dat as ’n mens dit nie tot die ekstreem vat nie, dit jou nie skade kan doen nie. ’n Mens oefen nie op ’n vasdag nie, want dan wil jou liggaam jou spiere eet vir energie. So as jy die karretjie se enjin wil warm trap, moet jy brandstof ingooi. Ek vas net een dag in die week. Soos ek dalk al genoem het, ek hou te veel van kos...

Op die ou end is konsekwente gedrag al wat maak dat jy gewig verloor en dit af bly. Dit help nie jy vas vir 3 dae en oorvreet jou die res van die week nie. Jy moet ’n kalorie-verskil hê en handhaaf vir ’n week om gewig te verloor. Ja, jy kan vas of jou uithonger vir ’n dag en dalk ’n kilo ligter wees maar sodra jy weer terugkeer na jou ou eetgewoontes toe, gaan jy dit net weer optel. Ek gebruik controlled fasting as deel van my geheelplan vir die week om my naweke te kan geniet en om nog steeds ’n groot genoeg kalorie-verskil te hê om gewig te kan verloor.

Dis ook die rede hoekom jy jouself nie hoef te straf oor een dag se verkeerd eet nie. As jy na die stoute dag net weer terugklim op die wa en jou kalorieë beperk, kan jy steeds gewig verloor. Dit help ook nie om al die kalorieë wat jy verbrand het tydens oefening op te eet nie of te oefen sodat jy kan ooreet nie. Ek sien soveel mense by die gym wat byvoorbeeld sopas ’n halfuur lank geoefen het en dalk 300 kalorieë verbrand het en dan gaan eet hulle ’n groot muffin en koffie met suiker en melk! Net daar neem jy amper oor die 500 kalorieë in.

Ek verloor 3 kg einde Augustus. Ek weeg 88 kg en is 53 kg ligter. Soos my Pa sê, dis meer as ’n sak sement wat 50kg weeg!

My Ma se knievervanging

September 2012. Toe ons April-maand by die see was, het ons my ma omgepraat om te gaan vir knievervanging. Haar linkerknie het heeltemal begin ingee. Sy het reeds haar regterknie vervang in 2011 en dit was ’n groot sukses, maar nou het die linkerknie begin oppak. Sy gaan die 3de September in en ons is almal redelik benoud daaroor. Dit is net weer ’n herinnering aan hoekom ek doen wat ek doen, hoekom dit so nodig is om minder te weeg. Hoe minder gewig jy op jou gewrigte sit hoe langer hou hulle, dis so eenvoudig soos dit.

Behalwe dat my knieë minder pyn vandat ek gewig verloor het, is my cholesterol ook baie beter en my bloedsuiker is ook wonderlik normaal en daar is geen meer tekens van pre-diabetes nie. Dieët maak ’n ongelooflike verskil in tipe 2-diabetes. Mense wil graag die siekte die rede gee dat hulle oorgewig is, maar hulle is meestal oorgewig as gevolg van slegte eet gewoontes en die siekte is die gevolg daarvan. Meeste mense soek ’n pil, ’n vinnige oplossing in plaas van om die moeilke, uitdagende ding te doen en hulle leefstyl te verander. Hoekom kos dit altyd dat ’n mens eers geskok moet word met jou eie mortaliteit of dié van iemand naby jou, voordat ’n mens ’n verandering maak? Ek weet nie, ek worstel self nog met daardie vraag.

Ek dink daardie vraag sit baie naby aan die antwoord oor hoekom ek kos my lewe laat regeer het. Ek worstel nog steeds daarmee. Dit voel soms soos ’n fyn dekmanteltjie van beheer wat ek oor my eetgewoontes het. Ek is so benoud dat ek beheer gaan verloor. Dis so ongelooflik maklik om jouself op die rug te klop oor dit wat jy reeds reggekry het en nie te fokus op dit wat nog moet gebeur nie. Gaan ek ewe skielik gelukkig wees met myself, omdat ek by my ideale gewig is? Ek twyfel. Gaan dit al my probleme oplos omdat ek ligter is? Nee dit gaan nie. Maar gaan ek gesonder wees? Verseker!

My ma het ongelooflik pyn na haar operasie. Baie erger as na die eerste een. Dit is so ontstellend om iemand vir wie jy lief is in soveel pyn te sien en jy kan niks daaraan doen nie. My eerste instink is om weg te hardloop, ek wil nie my ma so sien nie. Maar ek sien hoe desperaat bly sy is om ’n mens te sien as jy daar aankom. Op die ou end gaan dit nie oor wat my gemaklik maak nie, maar wat my ma aan die gang hou deur hierdie aaklige tyd. My ma is een van die sterkste mense wat ek ken. Sy is ongelooflik. Sy gee net nie op nie! Al sou dit soveel makliker gewees het om net te gaan sit en te sê dis te seer om te beweeg, hou sy aan. Sy oefen fanaties hard, hou haar gewig met ’n valkoog dop en hou haarself ongelooflik soepel vir iemand wat ’n rugfusie en ’n knievervanging gehad het. Pilates hou haar aan die gang en versterk haar in so mate dat sy die knievervaning so lank kon uitstel. Ek is ongelooflik trots op haar. Meeste vroue beskou dit as ’n belediging as iemand hulle met hulle ma vergelyk, maar ek hoop van harte dat mense dit eendag van my kan sê.

My ma vorder bo verwagting goed en het nog baie pyn einde September, maar soos net sy dit kan doen, veg sy voort en vat nie nee vir ’n antwoord nie. Dis nog ’n voordeel van gereelde oefen: jou liggaam is sterk en jy herstel baie vining.

Ek verloor nog 2 kg en weeg nou 86 kg. Uiteindelik ligter as my man! Ek het in totaal 54kg verloor.

Somer rokkies!

Dis Oktober 2012. Met my ma gaan dit goed. Sy vorder bo haar dokter en fisio se verwagting, al glo sy dis nie goed genoeg nie. (Ek dink ons weet nou waar ek my ongeduld vandaan kry.) My sussie het besluit sy gaan by die see trou by Palm Place. Dis lieflik daar en sy en haar man, Meiring, kan op die strand trou. Sy is nog steeds nie seker wanneer nie, maar dit klink of dit Desember of dalk begin-Januarie gaan wees. Die arme kind is besig met eindeksamens en kan nie by die beplanning van die troue uitkom nie. Gelukkig soek sy net ‘n klein troue, met net naaste familie en vriende, so dit behoort doenbaar te wees op kort kennisgewing?

Ek kan vir die eerste keer rokkies dra! Ek was nog altyd te selfbewus om rokke te dra en kom ons wees eerlik, as jou bobene so erg teen mekaar skuur is ’n rok ’n slegte idee. Voor middagete is jou bobene rou geskuur. Maar nou kan ek weer rokkies dra en rompe. My arme seuns het my nog nooit in hulle lewens in ’n rok gesien nie. Ek dra nou ’n nommer 16-grootte rok. Ek wil net koop en koop, maar ek hou myself in toom, want hopelik verloor ek nog gewig en dan het ek weer ’n kas vol klere wat ek nie kan dra nie.

ek op sus se troueacebook_-1610337143 Ek by my sussie se troue

Ek gooi berge te groot klere uit en dit is terapeuties om te sien hoe ek nou swem in die hemde en broeke wat net laas jaar knap gesit het.  Ek dra nou ’n 36 DD bra, maar dis baie hartseer oor hoeveel velle ek het. Dit voel asof ek die goed soos ’n sokkie kan oprol en in-tuck. Ek is baie selfbewus oor my borste en kan glad nie ’n lae-hals-toppie dra nie, want die goed het meer plooie as ’n pruimedant.

Ek wissel weer my oefenprogram en doen my kardio op ’n ander manier. ’n Mens se lyf raak gewoond aan jou oefenprogram, net soos aan jou voedselinname. Dit is nodig om dinge gereeld te skommel, anders gebeur daar net niks nie. Ek doen nou cardio weights. Dit beteken ek doen 10 minute op die eliptical trainer waar ek baie hard trap en dan afklim en 24 bicep curls, tricep-oefeninge sowel as pectoralis-oefeninge, baie vinnig met lae gewigte doen. Dan doen ek weer cardio vir 10 minute en spring weer af en doen 3 stelle sit-ups. Só hou ek aan vir 60 minute en kombineer ek my gewigte- en kardio-oefeninge. Ek het ’n hartklopmonitor vir my verjaarsdag by my boeties gekry en dit help my baie om seker te maak dat ek optimaal oefen. My polsslag gaan nooit onder 120 nie en so weet ek dat selfs die gewigte my help vet verbrand. Dis nou wat ’n mens toning noem. Ek het nooit geweet nie. Ek dog oefen is oefen.

Ek neig daarna om ’n vegetarieër te wees gedurende die week, maar ek vul my proteien-inname aan met baie lensies, bone en chickpeas. As ’n mens spiere wil vorm,  moet jy hulle brandstof gee. Soos ek al genoem het daar is geen voedselgroepe wat ek uitsny nie, net eerder in die regte hoeveelhede eet. As jy bekommerd is dat jy nie weet wat jy doen nie, kan dit defnitief help om ‘n dieetkundige te gaan sien en ‘n idee te vorm van wat jy behoort te eet en hoeveel daarvan. Ek het ‘n mediese agtergrond, so ek het nog altyd geweet wat die goeie kosse is. Ek het dit net nie noodwendig geëet nie. Die enigste kosse wat ek my bes probeer om uit te sny is hoogsverwerkte kosse. Dit is baie makliker om as jy honger is, sommer ’n koekie of ’n pakkie chips te eet, as wat dit is om ’n slaai te gaan maak. Maar ek moet sê die slaai is baie lekker ook. Ek sal nie sê ek mis nie chips nie, maar die groot behoefte daarna word minder.

Ek vermy ook bygevoegde suiker waar ek kan. Let wel ek sê bygevoegde suiker en nie alle suikers nie. Die suiker wat jy in jou 5 porsies groente en vrugte inkry is goed vir jou. Daar waar jy met ’n teelepel suiker staan en ingooi en byroer, dís die probleem. En as jy ingee en van die stoute goed eet, geniet dit, log dit en gaan aan. Dis nie die einde van die wêreld nie.

Ek sukkel nog om stadiger te eet en nie my kos in te asem so vinnig ek dit probeer eet nie. ’n Mens moet sit en jou kos geniet. Maak jou kos lekker. Moet nie aan ’n rice cake sit en wurg as dit jou walg nie. Soek iets anders. Hoe meer en hoe verder jy jou maaltye vooruit beplan, hoe minder verleiding is daar vir jou. Dink vooruit aan geleenthede waar jy in ’n moeilike posisie geplaas gaan word met kos en beplan. Byvoorbeeld soos om ’n groentebord of ’n vrugtebord na ’n braai te neem al is daar chips, kan jy nou minder van dit eet, want jy kan knibbel aan die goeie goed sonder om ongesellig te lyk.

KLIK VIR AL HAAR VORIGE INSKRYWINGS

HELENE DEEL HAAR RESEPTE