Hélène Horak (37), ’n tandarts van Centurion, het 140 kg geweeg. Sy het in September 2011 besluit om die helfte van haar gewig af te skud en dié reis met haar lyf aangepak. Lees haar dieet-blog eksklusief op SARIE.com

Lees DEEL 1 van Hélène se blog-inskrywings HIER

Lees DEEL 2 van Hélène se blog-inskrywings HIER

Die mag van gewoonte!

November 2012. My pa het my ’n boek gegee om te lees - The Power of Habit. Nadat ek dié boek gelees het, het ek besef hoe baie ons ’n slaaf van die mag van die gewoonte is. Ons verval in gewoontes om goed te doen en ons hardloop op auto-pilot; dink nie aan simpel goed soos jou oggend-roetine of jou roetine by die werk nie. Ons weet net as iets hierdie ritme deurmekaar krap, gaan die dag sommer ook swaar.

Maar hierdie gewoontes speel ’n baie belangrike rol in ons lewe. Dit vóél nie net asof jou brein afgeskakel is nie, dit is! Dis nie een of ander aanklag oor ons intelligensie nie. Dis net hoe ons werk. Nou gewoontes, soos ons weet, kan goed wees of sleg wees, soos ooreet. Dis wat die skrywer vertel hoe om die gewoontes te breek, wat my stomgeslaan het.

Dis nie net vir hou op met die gewoonte nie. Dis hoekom dit so moeilik is om ’n gewoonte te breek. Jy moet die gewoonte vervang met iets anders! Jy het ’n trigger wat aanleiding gee tot sekere reekse aksies by jou en dan die beloning. Jy is gespanne / gelukkig / depressief (jou trigger). Jy ooreet (reeks aksies) en dit laat jou geborge en veilig voel terwyl jy ooreet (die beloning). Dit loop soos ’n sirkel. As jy die gewoonte wil breek moet jy die reeks aksies verander om by ’n ander uitkoms of beloning uit te kom. Dit klink oor-simplisties, maar oor die meeste van jou sogenaamde besluite dink jy nie eers nie. Hoekom het jy regs by die verkeerslig gedraai pleks van links? Want dis jou roete werktoe. Dis reeds in geprogrammeer in jou kop met ’n defnitiewe uitkoms of belonging. Deur klein, haalbare doelwitte te stel, verander jy daardie reeks aksies. Die trigger bly dieselfde, maar nou word ’n nuwe baan of reeks van aksies gevorm om by ’n ander beloning uit te kom. Ek het klein veranderinge rondom my dieet in die begin gemaak -  soos om eers net gaskoeldranke en kitskos uit te sny. As ek nou na my dieet kyk in vergelyking met hoe ek geëet het, is die verskil radikaal. Maar klein, haalbare doelwitte het dit moontlik gemaak.

As ek van die begin af geëet het soos ek nou eet, sou ek dit nooit kon volhou nie.

Die verandering sou te groot en oorweldigend gewees het. Dis hoekom ek soveel keer begin en misluk het. Ek het te veel te vinnig probeer verander. Dieselfde het gegeld met oefening. As ek nou gespanne voel, trek ek my tekkies aan en gaan stap of draf ek, waar ek vroeër ’n pak chips sou verorber het. Die uitkoms of beloning is nou gesonder.

Een ding is net ongelooflik belangrik om te onthou. In die afwesigeid van die nuwe gedragspatroon (jy hou op oefen, jou roetine word verander, bv. op vakansie), val jy baie maklik weer terug in die ou gewoonte. Hier is die weerligstaal-gedagte-oomblik:  Ek sal nooit mag ophou oefen nie! Ek sal nooit mag ophou konsentreer op wat ek eet nie! Anders tree die ou gedragspatroon net weer in werking. Dis hoekom die meeste mense weer gewig optel nadat hulle so baie verloor het, want hulle verval weer in die ou gewoontes. Dis ’n verandering van jou leefstyl en jy kan nie weer dieselfde as die ou jy optree nie of jy gaan weer soos die ou jy lyk!!!

Ek verloor einde November 3 kg, 59kg altesame en ek weeg nou 81 kg.

Die hongerpyne!

Dis Desember 2012. My sussie Ané is klaar met haar eksamens en die troue is vroeg-Januarie by die see. Die beplanning is in volle vaart. Gelukkig help ons vriendin Tania met al die reëlings en het sy al die tent, musiek en spyseniering gereël. Sy is ’n voorslag met sulke goed en Ané is so dankbaar, want sy het absoluut nie die geduld vir daardie detail werk nie. Sy het nie ’n saak met of dit ’n krisant of ’n roos in ’n botteltjie is nie, solank dit net mooi is.

Ek sukkel weereens met die feesgety om nie gewig op te tel nie en dis nou maak of breek. Ek kan asseblief nie die vet girl op die strand wees nie! Ons wil nie hê mense moet my met emmers water probeer natgooi as ek sonbaai en probeer terugrol see toe omdat hulle my verwar het met ’n gestrande walvis nie.

Dis maklik om in sulke situasies jouself te probeer verhonger. Moenie. Dit werk nie en gee geen blywende resultate nie. Ek weet hoe dit voel. Ek is self desperaat om gewig af te skud en ek weet ek het net in Oktober van vas gepraat, maar dis beheerste vas en jy is nooit veronderstel om honger te ly nie. Jou glukosevlakke val deur jou voete en jou liggaam kanibaliseer daardie pragtige spiere waaraan jy so hard gewerk het! Dis nie daardie 2 kg werd nie, ek belowe.

Ek het die mooiste rok gekry vir my sussie se troue. Die enigste krisis is dat dit ’n halternek rok is en my borste hang vreeslik. Ek het ’n goeie hyskraan nodig om die goed bo te hou. Ek soek verbete na ’n bandlose bra wat die gewig kan bo hou en kom tot die slotsom dat ek ’n korset gaan nodig hê! Waar is my oumagrootjie se step-in? Ek wil huil, die rok is so mooi, maar die buuste het ’n lewe van hulle eie.

ek op sus se troueacebook_-1610337143 Helene op haar suster se troue

Uiteindelik laat ek ’n bra maak en dit hou die goed redelik in plek, maar ek is bitter ongelukkig oor hierdie nadraai van gewig verloor. Daar is baie velle. En dit vat lank, dalk nooit, voordat jou liggaam aanpas en jou vel krimp nie. Daar is party skade wat jy net nie kan herstel nie. Maar ek vat enige dag van die week eerder die velle as die vet. Ek kan die velle nog wegsteek onder klere en met goeie onderklere kan die meeste goed op en vasgehou word. Vet wil ek nooit weer wees nie!

facebook_-2027300492[1] Helene by die see voor haar sussie se troueMy sleutelbene begin wys en my arm- en borsspiere lyk fantasties. Ek is so trots. Die harde werk begin sigbaar word. Ek weet dis ook maklik om nou te begin dink aan chirurgie. Sny net die goed af wat pla, maar dis ’n ongelooflike ernstige stap om te neem en enige goeie chirurg sal jou vertel dat dit net ’n baie slegte idee gaan wees om enigsins chirurgie te oorweeg voordat jy naby jou doelgewig is. Ek weet nog steeds nie eers of ek dit sal oorweeg, al is ek by my doelgewig nie, want ek weet genoeg om te weet hoe gevaarlik sulke ingrepe is. As hulle eers begin sny is daar altyd ’n kans dat hulle, selfs al gaan alles perfek, weer op ’n stadium sal moet sny. Dis ’n baie groot besluit en jy moet weet daar is gevolge van daardie besluit wat jy vir die res van jou lewe gaan moet dra. TV-programme soos Extreme Makeover laat dit so maklik lyk, maar jy sien nie daardie selfde mense oor ’n jaar of 2 nie. Ek is nie teen plastiese chirurgie nie, ek sê net dit is nie die vinnige fix wat almal dink dit is nie. Daar is altyd ’n prys wat jy betaal daarvoor, uitgesluit die pot vol geld wat dit jou nog kos ook. Die probleem is dat ’n mens ’n idee vorm in jou kop van hoe die resultaat moet lyk en soms is dit net fisies nie moontlik nie en kan die dokter jou net nie gee wat jy soek nie. Nie omdat die operasie onsuksesvol is nie, maar omdat jy iets onhaalbaar verwag van die prosedure. Ek praat nie eers van al die komplikasies as dinge regtig skeef loop nie.

helene lady gaga Helene by die Lady Gaga-konsert

So veg ek voort en verloor ek 1 kg einde Desember. Ek weeg 80 kg, ek sou baie graag 75 kg wou weeg, maar ek vat wat ek kry. Ek het 60 kg al verloor en dis nou al ’n hele mens.

My sussie trou

My sussie trou Januarie 2013. Ons is almal by die see en dis ’n week se feesvier en voorberei vir haar groot dag. Tussendeur kuier ons saam met al die bruidspaar se vriende wat een na die ander van Pretoria af opdaag, en in die omgewing by gastehuise en kampeerterreine tuisgaan. Ons klink gereeld ’n glasie iets (met baie kalorieë in) en maak kos dat die biesies bewe. Ek probeer tred hou van wat in my mond ingaan en troos my deur weg te lê aan die heerlike Natalse vrugte.

Ons hang botteltjies met blomme in oral in bome, tente word opgeslaan, tafels word mooigemaak. Dit lyk soos ‘n feetjietuin. Die hele week is die weer pragtig en die dag van haar troue begin dit reën. Ons moed sak in ons skoene. Dis ’n opelug-troue op die strand en in die groot boomryke tuin!

Gelukkig teen 15h00 se kant klaar die reën bietjie op. Die sambrele wat ons gekry het vir die vrouens vir die son, word nou gebruik om verdwaalde druppels weg te hou. Ek troos my sussie en sê die ou mense glo dis goeie geluk as dit reën op jou troudag en dit maak die mooiste foto’s. Dit het op my troudag ook gereën en ek weet daardie troos het my ook nie laat beter voel nie. Teen die aand lyk die blomme in die botteltjies wat ons in die tuin en langs die strand af gehang het in die bome, lieflik met die glowsticks in.  Dit lyk soos vuurvliegies in bottels. Die onthaal is onder ’n oopkant-tentstruktuur op die groot grasperk onder die massiewe bome. My sussie lyk soos ’n bosfeë in haar rok en ek kry sommer ’n knop in my keel. Ons verskil 11 jaar en sy is nog altyd my babasussie gewees. Teen 11h00 die aand steek ons sjinese lanterns aan en laat dit vry oor die see. Dis ’n prentjie-mooi toneel vanaf die hoë duin by die huis.

Die troue is ’n reuse sukses. Deur die sagte reën heen, kuier almal tot die laat oggendure. Ons dans ons flou. My seuntjies wat hofknapies was het hulle, dankie tog, gedra. Ons is almal pootuit die volgende dag, maar baie tevrede met onsself.

By die huis ontdek ek ongelukkig dat ek 3 kg opgetel het met al die gekuier. Ek is baie teleurgesteld in myself, maar dit gebeur. Dis maklik om te gaan lê en sê ek is naby genoeg, maar ’n mens moet deurdruk en aanhou en jouself kan vergewe as jy misluk. Soos my ma sê: kry jouself jammer vir so 2 minute, maar dan staan jy op, stof jouself af en druk deur. Ek eet mooi en tel maar weer elke happie. Ek oefen verbete en slaag daarin om al die troue gewig af te skud voor die einde Januarie. Ek weeg weer 80 kg. Ek voel soms asof ek nie vorder nie. En dis vreeslik teleurstellend as ‘n mens faal, maar dit help om jou oog op die groter prentjie te hou.

Ek is mens-grootte

Februarie 2013. Ek voel regtig goed en positief oor my gewig op hierdie stadium. Ek is baie naby aan my doelgewig en is nou net mollig volgens my body mass index. Ek is mens-grootte en pas nou in ’n grootte 14 broek in. Dis wonderlik!

Ek geniet dit om saam met my seuns te kan speel en stoei en alhoewel ek absoluut geen sporttalent het nie, probeer ons saam tennis speel. Ek verskaf groot vermaak aan my oudste, Duard, omdat sy ma so vrot speel. Ons ontdek fietsry! Ek wil skoon betraand raak as ek dink aan my begin by die gym en die hel wat ek deurgemaak het op die oefenfietse! Nou hou die fiets geen onheil meer vir my in nie. Om die waarheid te sê kan ek nou ’n barshou trap en omdat ek so fiks geraak het moet my man uithaal en wys!

Dis baie nodig, besef ek nou, om saam met jou kinders aktief te wees. Dit help nie net jy karwei hulle aan na aktiwiteite toe nie, jy moet self ’n goeie voorbeeld stel. Kinders is gewoonlik mal daaroor as dit net lyk asof hulle ouers iets saam met hulle wil doen. Ons kan nie kla ons kry ons kinders nie voor die rekenaars en televisie weg nie, maar ons stel self nie ’n goeie voorbeeld nie. Ons doen nou gereeld Saterdae Parkrun by die Voortrekker-monument. Dis gratis en vir die hele familie bedoel. As jy op Discovery is verdien jy sommer ook Vitality-punte! Dit is heerlik en die kinders geniet dit vreeslik as ons klaar is. Tydens die loop moet mens natuurlik bietjie aanmoedig maar Oupa beloon hulle met ’n ontbyt by Wimpy na die tyd!

Ek oefen nou amper net bene saam met Riaan. Dis my probleem-area. Die boude en bobene bly maar groot. Ek doen arms op my eie, sommer saam met my kardio. Ek eet meer as 5 porsies groente en vrugte elke dag en ontdek allerhande slim maniere om dit interessant te hou vir ons. ’n Mens hoef nie sleg te eet omdat jy gesond eet nie. Beproef nuwe resepte en speel rond met bestanddele. Jou proteïene moet so groot soos jou handpalm wees, niks meer nie. Plantaardige proteïene het geen van die vette in wat dierproteïene het nie, so hulle is gewoonlik baie gesonder. As jy nou soos ek nie jou vleisie kan los nie, help dit net om ’n groter verskeidenheid in jou dieet te sit.

Die gerekte velle frustreer my baie. Ek moet probeer vrede maak daarmee dat die jare se skade van so oorgewig wees permanente gevolge gaan hê. Mens kan nie alle skade met die mes probeer wegtoor nie. Ek het besluit om ’n wag-en-sien houding te handhaaf. Ek gaan my lyf moet kans gee om te stabiliseer. Dalk gebeur daar ’n wonderwerk en krimp my velle ook!

’n Mens kan nie net die skaal dophou om te sien hoeveel gesonder jy word nie. Ek het ontdek daar is ook iets soos skinny fat. Iemand van bv 55 kg lyk nie noodwendig beter as ‘n ge-tone-de65 kg nie. Jy moet ander aspekte oor jou gesondheid ook in aanmerking neem. Jy kan nie net gewig verloor en glad nie oefen nie. Dit is 80 % dieet en 20 % oefen. Onder daardie vetlae lê klein, pieperige spiertjies. Jy gaan sonder oefening sit met dalk die minder kilogramme maar met ’n swak figuur en baie velle en nog steeds sukkel om mooi te lyk in jou klere. Jy gaan nie so goed lyk soos iemand wat intens oefen saam met die gewigsverlies nie. Dit hou natuurlik ook verband met die hele storie oor nuwe gewoontes wat die oues moet vervang.

My en Philip se cholesterol- en bloedsuikervlakke is pragtig. My bloeddruk is laag met tye, maar ek was nog altyd geneig tot lae bloeddruk. In my vetter dae was dit normaal tot effens hoog. My polstempo is rustend 51 tot 55 en dis die fiksste wat ek al ooit in my lewe was. Ek verloor einde Februarie nog 4 kg. Ek weeg nou 76 kg en het 64 kg verloor.

Mense herken my nie!

Maart 2013. Dit het al in Januarie gebeur dat ou pasiënte wat my ’n ruk laas gesien het, my nie herken nie en dit gebeur nou baie gereeld. Ek word gedurig gevra waar is die ou dokter en moes in ’n lang gesprek met ’n ou oom, foto’s uithaal en bewys ek is sy ou dokter. My assistent, Marna, grap al as die pasiënte my nie herken nie en sê: "Ja, dis die ou dokter, net die helfte minder van haar!"

Ek kyk beter na myself en let beter op my voorkoms. Dit is natuurlik baie makliker om te let op jou voorkoms as jy ’n wyer keuse heklere wat jy nou kan koop. Ek besef nou dat toe ek swaarder was, het ek maklik myself net laat gaan. Ek het nie omgegee wat ek aantrek nie, ek het nie grimering gedra nie of my vel selfs versorg nie. Ek was gemaklik want ek het mos ’n man wat vir my lief is! Meisies dis ’n groot fout! Jy moet nie verwag dat jou man, maak nie saak hoe goed hy is en hoe lief hy jou het nie, met oogklappe deur die lewe gaan nie. My ma se lewensfilosofie maak nou sin: "Maak nie saak hoe sleg jy voel oor jouself of hoe moeg jy is nie, jy trek ordentlik aan en sit eerste ding in die oggend jou grimering aan! Dis soos war paint vir die dag. Jy sal vind dat jy sommer beter oor jouself begin voel."

Terwyl ons oor voorkoms praat, wil ek ’n sensitiewe saak aanroer en wat my hart breek nou dat ek dit ná die tyd agterkom: My seuns was skaam vir my! Hulle het nooit ’n woord gesê nie, maar nou kan Divan byvoorbeeld nie wag dat sy Mamma hom by die klas kom haal nie en almal moet weet dis sy mooi Mamma. Vir die eerste keer nou kan my seuns my druk en hulle armpies kan om my lyf kom! Ek kry aanhoudend komplimente van my oudste, Duard, dat Mamma so mooi lyk in daardie rok. As mammas moet ons soms sensitief wees oor wat ons kinders nié sê nie.

Ek wissel my oefenprogram elke 6 weke af, sodat my liggaam nie gewoond raak aan dinge nie. As ek vashaak met my gewig, verhoog ek soms my kalorie-inname vir ’n week of twee. Ek weet dit klink vreemd, maar ’n mens is geneig om al hoe minder en minder te eet om nog te probeer verloor en dit sit net jou liggaam in starvation-mode. Dit werk soos ’n bom en ek verloor teen einde Maart nog 4 kg. Ek weeg nou 72 kg en is op die boonste rand van my ideale liggaamsgewig se reikwydte. Ek is amptelik nie meer oorgewig nie! Ek wil dit van die berge af skree. Ek is nie meer vet nie. Ek het wel nog velle en rolle, maar ek werk daaraan. Ek het 68 kg in totaal al verloor.

Matigheid voor oë

Dis April 2013. Ek oefen verbete. Dis asof ek net nie kan ophou nie. Ek sien uit daarna om gym toe te gaan en het ongelooflik baie energie. Ek oefen 7 dae in die week en my nuwe Samsung S4 het ‘n step counter, wat my vreeslik fassineer. Ek moet elke dag daardie 10 000 treë ook loop. Riaan raas met my en sê ek moet ‘n rusdag vat. Ek moet my liggaam kans gee om te kan rus, as ek so hard wil oefen.

Ek skrik my boeglam. Ek is nou al 2 dae laat met my maandstonde en doen al wat ‘n swangerskapstoets is. Ek kan nie swanger wees nie, dit sal ‘n wonderwerk-baba wees, want my man het ‘n vasektomie gehad! Vir 2 weke bly my maandstonde weg en ek is so dankbaar toe dit uiteindelik gebeur dat ek amper begin huil. Ek gaan ginekoloog toe daaroor, maar ek weet hoekom dit gebeur het. Ek oefen te hard en dis ‘n te groot skok op my sisteem. Ek weet regtig nie hoekom ek ook altyd moet oorhel van die een ekstreem na die ander nie. Ek maak my kardio minder en oefen weer net 5 dae in die week en ek neem myself voor om nie weer laf te word nie.

Wat ek dus hiervan geleer het is: Doen eerder minder van ‘n oefening en maak seker dat jou postuur reg is, eerder as baie en jy beseer jouself. Oefengroepe soos cross fit is wonderlik Dis baie lekker om in ‘n groep saam te pyn. Die enigste probleem wat ek daarmee ervaar het is dat die oefening soms te kompeterend kan raak. Dit verlei jou soms om te vining te veel te wil doen. En laat ek weer sê: ek is die Queen van klein veranderinge want anders oorweldig dinge jou.

Dit is lekker om ‘n oefenmaat te hê maar moet nie dat jou oefenmaatjie die rede word dat jy nie oefen nie. Mens is veronderstel om mekaar aan te spoor en nie af te rem nie! Dit is baie maklik om op te hou oefen of ook af te vat as jou oefenmaat dalk oor welke rede nie lus is om te oefen nie. Wees sterk!

Dis net so maklik om gesondheidsprobleme, soos diabetes tipe 2, die skuld te gee dat jy gewig optel en nie kan verloor nie. Dis snert. Meeste siektetoestande verbeter met goeie dieet en oefening. Gaan sien jou dokter en ‘n dieetkundige. Oefen en eet mooi en daar is soms ‘n kans dat jy later selfs jou medisyne sal kan los.

Ek verloor einde April 4 kg . Ek weeg 68kg en het altesame al 72 kg verloor. Ek weeg nou minder as wat ek al verloor het.

Die einde van ’n lang pad ...

Dis Mei 2013. Ek het ’n jaar en 8 maande gelede besluit om my lewe reg te ruk. Dis nie net met my gewig nie - my hele lewe is meer georganiseerd. Omdat ek my tyd so goed moes bestuur om te kan oefen en my etes so goed vooruit moes beplan, hou ons maandelikse kos-begroting deesdae baie goed. Dit help nie net vir jou dieët om spyskaarte vir die week te beplan en daarvolgens te koop nie, maar dit help ook dat jy minder mors en kos moet weggooi wat jy op die ingewing van die oomblik gekoop het.

Daar is aanpassings in ons spyskaart. Die manne mag minder rigied eet as ek. Maar ek voel nooit ingedoen nie. Ek vervang maar net sekere goed wat hulle eet, byvoobeeld ’n ete van pasta en tuna beteken vir my baie meer slaai en net ’n spoegseltjie pasta. Ek vind dat broccoli vir my heerlik geword het en dat ek bakke vol kan opeet. Mens kan heerlik daarmee speel - van ’n laevet kaassousie tot die lekkerste slaai met sonneblompitte en neute in. Mens moet maar net ligloop vir die lekker sousies daaroor!

Ek verloor 3 kg teen die einde van Mei en is op my doelgewig! Ek het 75 kg in totaal verloor en weeg 65 kg. Ek dra ’n nommer 10 en ’n 34 D bra. Is ek tevrede met myself? Nee, ek dink nie enige vrou kyk ooit in die spieël en is tevrede met wat sy sien nie. Ek sien die maagvel vol rekmerke. Ek sien die bobene vol velle en haelskade. Ek sien die hangende borste en ek weet hierdie is skade wat ek nooit gaan kan reg oefen nie. Maar ek sien ook die ge-tone-de arms, my sleutelbene en my mooi wangbene wat ek nou weer kan sien. Ek het nie gedink dat sulke arms my ooit beskore sou wees nie. Mense, dis harde werk en vasbyt, maar sonder Riaan en sy innoverende oefenprogramme was ek verlore.

’n Mens moet iemand in jou hoek hê wat jou aanmoedig en voortdryf, want glo my, daar is baie dae wat jy net wil moed opgee en gaan lê. Todat hy jou so op en af kyk en sê: "Toe-toe, laat ons oefen!!" Jy moet leer om jouself lief te hê met al jou velle en rolle soms. Ek werk hieraan…

My Beloning

Dis winter 2013. Ek kry so vrek koud. Dis die koudste winter, volgens my, nog ooit. Ek het nog altyd so lekker gelag vir die poppies met hulle truitjies; as die ligste briesie waai, is hy oor die skouertjies. Maar nou verstaan ek. Dis bitter koud! My vetlae het my baie goed geïsoleer teen die koue! My gewig bly redelik konstant en ek wissel tussen 65 en 70kg vir die 2 maande. Ek weeg steeds elke dag en weet as ek verkeerd eet, moet ek net harder daardie volgende week werk.

*Ons dieetblogger, Hélène Horak, het haar doelgewig bereik en ons onthul FOTO'S van haar nuwe lyf in die April-uitgawe van SARIE. Intussen kan julle vir haar dieet- en leefstyl-vrae pos in die kommentaarboksie hieronder, en sy gaan dit in die volgende dae eksklusief op SARIE.com beantwoord.

Lees haar eerste paar antwoorde HIER.

Lees DEEL 1 van Hélène se blog-inskrywings HIER

Lees DEEL 2 van Hélènese blog-inskrywings HIER

 Hélène in SARIE - FOTO'S

IMG_2257 FOTO: Phyllis Green

KLIK vir nóg FOTO'S