RONEL SE STORIE

Ronel (skuilnaam) van Kaapstad is 'n go-getter met haar eie onderneming. Maar dié sportiewe ma van twee sukkel ná 'n algehele histerektomie om weer haarself te wees. "Ek het al jare endometriose. Ek het skielik steekpyne in my laerug gekry. My borste was teer en ek het ligte vaginale bloeding (spotting) gehad, asook erge hoofpyne.'n Sonarondersoek het 'n groot, swart kol in my baarmoeder gewys. Dit was 'n endometriose-groeisel."

"Dié groeisel is deur 'n laparoskopiese metode verwyder. ('n Piepklein insnyding word in jou maag of naeltjie gemaak, waardeur die groeisel verwyder word.) Vier maande later was die simptome terug. In Junie 2008 is 'n groeisel op een van my eierstokke gevind.

"'n Maand later is my baarmoeder en eierstokke verwyder - 'n algehele histerektomie. Endometriose floreer op hormone; jou eierstokke is die 'masjiene' wat dit vervaardig.

"Die histerektomie is abdominal gedoen. Die snit was op dieselfde plek as 'n ou keisersnit. Jy word wakker en daar is 'n kateter in jou blaas,'n drip in jou arm. Jy is seer, beduiweld, honger. "Dag drie: Ek kry my eerste warm gloed. Dit begin in jou onderlyf . . . kruip op tot by jou kop. Binne sekondes is dit verby - en jy is papnat gesweet. Ek is 43 en skielik in my menopouse. Dit gebeur as jou eierstokke verwyder word en jou liggaam nie meer estrogeen vervaardig nie. Plakkers is glo die beste manier om hormoon-vervangingsterapie (HVT) te kry. Maar ek is blykbaar allergies vir die gom!

"Week twee: Ek het 'n blaasinfeksie, glo normaal ná 'n histerektomie. Ek drink antibiotika sáám met pynpille, slaappille en watter ander pille nog. My gestel is af, my mondhoeke gebars, my vel en hare dof. "Week vier: Ek is veronderstel om te kan bestuur, maar ek kan nog net stadig kombuis toe loop. Dit voel

 

'Een groot drama!' 

 

asof daar 'n baksteen in my maag is. Daar is geen gevoel in my onderbuik, bobene en onderste deel van my boude nie. Dit gebeur soms, sê die slimmes. "Ek sien bloed teen my bene afloop. Histerie! Dis 'n bloedklont wat deels self gedreineer het. Dit kan in my buikholte beland en bars. In die hospitaal word 'n kateter sonder verdowing in my blaas gesit. Dis die seerste seer. Ek word later ontslaan - die klont het self opgelos. "Van my vriendinne het al 'n histerektomie gehad.

Die fiksste en maerste een het die vinnigste herstel: drie maande. Die langste was ses. Ek stap nou na vier maande toe aan. "Dis moeilik om aan die gang te kom. Smiddae is ek lomerig. Dit kan glo steeds die narkose se uitwerking wees. Ek het maande nie gewerk en geld verdien nie. Ek het my selfvertroue verloor. Ek wil net op my bed sit en TV kyk. My maag is geswel en ek het geen gevoel daar nie. Ek pas nie in my klere nie. My lyf is 'n vreemdeling s'n.

"My korttermyn-geheue is aangetas - glo nog 'n newe-effek van die narkose. Die groot woorde, die tongknopers, wil net nie meer kom nie. "Ek is hospitaal toe vir 'n histerektomie en het pateties daar uitgekom. Dalk is ek te haastig, maar tot dusver was daar net soveel drama!"

Kommentaar:

Volgens dr. Dawie Slabbert, 'n ginekoloog van Kaapstad, is Ronel se komplikasies skaars. Dit klink asof sy byna elke moontlike een ná 'n histerektomie gehad het! Daar is

gelukkig baie HVT-produkte op die mark, ook een wat vir jóú sal werk. Ronel se ervaring beklemtoon net weer hoe belangrik dit is dat jy seker is van die moontlike komplikasies en gevolge van 'n prosedure. Dis jou dokter se plig om dit met jou te bespreek.

Sandra se storie

'Dit was nie vir my nie' Sandra (skuilnaam),'n onderwyseres van Roodepoort, het teen 'n histerektomie besluit. "In my vroeë veertigs het ek geweldig swaar gevloei. Dit sou

sommer skielik begin, sonder waarskuwing. Dan was dit omtrént 'n vloed - 'n paar keer tot my groot verleentheid. Dit sou so twee dae aanhou - ek kon dan nie 'n normale lewe lei nie. "Ek het twee kinders gehad en wou nie nog hê nie. My ginekoloog het voorgestel dat my baarmoeder en een eierstok verwyder word. Die ander een skei dan nog estrogeen af en jy gaan nie deur 'n vroeë menopouse nie. Ek het daarteen besluit - die operasie is

net té groot. Volgens my doen vroue dit veels te maklik. Ek sou eerder met die ongerief saamleef. Die bloeding het ná so vyf jaar minder geraak en dis nou nie meer 'n probleem nie."

Kommentaar:

Dr. Leon Snyman van die departement obstetrie en ginekologie aan die Universiteit van Pretoria sê: "Daar ís alternatiewe vir 'n histerektomie weens swaar bloeding. 'n Diagnose

moet egter eers gemaak word."

Vera se storie

'Ek sal dit weer kies' 'n Histerektomie het Vera (skuilnaam),'n vertaler van ohannesburg, se lewe ingrypend verander. "Ek het geweldig pyn gehad as ek menstrueer - 27 jaar lank,

totdat ek 40 was. Sterk pynpille moes my help om te funksioneer: Soms het ek dubbel die toelaatbare dosis gedrink. Boererate soos jamaikagemmer en warmwatersakke het nie juis gehelp nie. Ek het elke maand sewe dae lank erg gevloei. "Op universiteit het my dokter die Pil voorgeskryf. Dit het gehelp, maar ek het dit weens newe-effekte gelos. "Net vóór my veertigste verjaardag is ek dokter toe. Ek was bang endometriose is die oorsaak van die pyn.'n Sonar het gewys dis nie die geval nie, maar dat my baarmoeder vergroot is (normaal vir iemand van my ouderdom). My dokter het nie raad gehad vir die pyn nie - ek het immers al álles probeer. Ek is na 'n ginekoloog en ons het dadelik besluit op 'n datum vir 'n histerektomie. My baarmoeder is uitgehaal en my eierstokke behou.

"Dis ses jaar later en my lewensgehalte het dramaties verbeter."

Kommentaar:

Dr. Leon Snyman sê: "Dis soms moeilik om die oorsaak van pyn reg te diagnoseer. As die baarmoeder die oorsaak is, is 'n histerektomie meestal die enigste uitweg."

Die statistieke

By sowat 25% van plaaslike vroue wat deesdae 'n histerektomie ondergaan, kon dit vermy gewees het, meen dr. Alan Alperstein, 'n ginekoloog van Kaapstad. Hy was vyf jaar gelede betrokke by 'n studie wat gewys het die baarmoeder van sowat 26% van vroue wat in Kaapstad se suidelike voorstede en die stadskom histerektomieë ondergaan

het, was "normaal". Die gevolgtrekking was dat swaar bloeding (waarvoor

alternatiewe behandelings bestaan) dikwels die rede daarvoor was. In 'n soortgelyke studie in 1999 was dié syfer 40%.

Type or paste here.

 

Wat jy moet weet

Dit was eens byna vanselfsprekend dat jy dié operasie die een of ander tyd sou moes ondergaan - dit was dikwels ál oplossing vir ginekologiese probleme. Maar deesdae word dit net gedoen as dit regtig nodig is. Dis immers 'n groot operasie en dit duur lank om te herstel. Met nuwe mediese ontwikkelings is daar nou ander oplossings vir probleme soos erge bloeding of pyn as jy menstrueer. Ginekoloë meen egter dit word stééds te dikwels gedoen (sien "Die statistieke" op bl. 164). Volgens dr. Leon Snyman van die Universiteit van Pretoria het dié operasie egter al baie vroue se lewensgehalte verbeter. Trouens, dit kan jou lewe red. En al word dit soms onnodig gedoen, moet dit nie as die "laaste uitweg" gesien word nie. Dis een van verskeie moontlikhede om jou spesifieke probleem op te los.

Hoekom 'n histerektomie? Die moontlike redes

1. Swaar bloeding as jy menstueer

Alternatiewe

  • Volgens dr. Tobie de Villiers, 'n ginekoloog van Kaapstad, het histerektomieë in die noordelike voorstede die afgelope 21 jaar met sowat die helfte verminder, omdat daarander maniere is om swaar bloeding te stop. Die laerdosis-voorbehoedpil het veral 'n groot rol gespeel.
  • 'n Intra-uteriene apparaat, mirena, kan tot 60% van vroue met dié probleem help. Dit word in jou baarmoederholte geplaas en stel klein hoeveelhede hormone vry.
  • Die binnevoering (endometrium) van jou baarmoeder word vernietig (endometriële ablasie). Jy is ná 2 tot 4 dae op die been. Leon sê egter sowat 30% van vroue wat dit laat doen, moet maande of jare later tóg 'n histerektomie ondergaan.
 

2. Nie-kwaadaardige groeisels (fibroïede) in jou baarmoeder

Jy het dikwels geen simptome nie en dit word toevallig met 'n kliniese of sonar-ondersoek ontdek. as hulle groot is, kan dit simptome soos pyn, drukking op jou blaas en rektum, en abnormale bloeding veroorsaak. Dan is 'n histerektomie die beste uitweg.

Alternatiewe

As jy nog kinders wil hê, kan jy die groeisels chirurgies laat verwyder - dis 'n  miomektomie. (Hospitaalverblyf: sowat 1 tot 4 dae. Hersteltyd: 4 tot 6 weke.) Dit kan ook deur 'n laparoskopiese prosedure gedoen word. (Dagprosedure. Hersteltyd: 1 tot 2 weke). Andersins kan dit deur jou vagina verwyder word. (Dagprosedure. Hersteltyd: 'n paar dae tot 2 weke.)

 

3. Endometriose

Endometrium-selle (die veering van jou baarmoeder) versprei na jou eierstokke, Fallopius-buise, blaas, derms en ander organe. simptome: Pyn gedurende seks, ongereelde bloeding, onvrugbaarheid, erge menstruele krampe. Die Pil kan dit in bedwang hou, maar die beste behandeling is om die selle met 'n laparoskopie te verwyder. Volgens dr. Dawie Slabbert kom endometriose juis búite jou baarmoeder voor en dit word nie normaalweg met 'n histerektomie behandel nie (maar daar is uitsonderings). Chirurgie vir endometriose ís dikwels baie kompleks. Daar is ginekoloë wat in hierdie soort behandeling spesialiseer: Probeer by só iemand uitkom.

 

4. Nog redes

  • Jou baarmoeder sak in jou vagina af.
  • Endometrium-selle kan tussen die omringende spiere ingroei en pynlik wees.
  • Jy het baarmoeder- of servikskanker.
 

Al die soorte . . .

Jou probleem bepaal watter soort prosedure nodig is. Vir almal moet jy ses weke lank siekteverlof neem.

  • ABDOMINAAL: 'n Snit word in jou buikwand gemaak. Leon sê dis pynliker as by 'n vaginale een, die kanse op komplikasies ná die operasie is groter en jy neem langer om te herstel. Jy bly 3 tot 4 dae in die hospitaal.
  • By 'n VAGINALE  HISTEREKTOMIE word jou baarmoeder deur jou vaginale kanaal verwyder. Jy is sowat 2 dae in die hospitaal.
  • 'n VAGINALE  HISTEREKTOMIE met behulp van 'n laparoskoop: Die  hersteltyd is dieselfde as by 'n vaginale een. Dit word gedoen as jou eierstokke óók verwyder moet word, daar vergroeiing ná vorige operasies is en jou baarmoeder effens vergroot is.
  • 'N ALGEHELE LAPAROSKOPIESE HISTEREKTOMIE: Klein insnydings word in jou maag of naeltjie gemaak en jou baarmoeder word met instrumente "losgesny". Dis minder pynlik as 'n abdominale een en jy gaan ná sowat 'n dag huis toe. Soms kan 'n vaginale histerektomie nie gedoen word nie - jou baarmoeder is te groot, of daar is vergroeiings ná vorige operasies (soos 'n keisersnee).'n Laparoskopiese histerektomie is dan die antwoor  (en nié 'n abdominale een nie). Volgens dr. Dawie Slabbert vereis dit spesifieke vaardighede: Nie alle ginekoloë doen dit nie.

Wat is die langtermyn-gevolge?

  • Party vroue wat steeds hul eierstokke het, gaan ná 'n histerektomie 2 tot 4 jaar vroeër deur menopouse. Volgens dr. Hennie Botha van die Eenheid vir Ginekologiese Onkologie aan die Universiteit Stellenbosch verminder die bloedtoevoer na jou eierstokke ná 'n histerektomie.
  • Jou lewensgehalte verbeter as dit om die regte redes gedoen is, want dit los jou ginekologiese probleem op.
  • As jy vóór die histerektomie goeie seks gehad het, sal dit steeds só wees.
  • 'n Studie wat verlede jaar in die gesaghebbende The Lancet gepubliseer is, wys 'n histerektomie verdubbel jou kans op stres-inkontinensie (urinering as jy hoes of jou fisiek inspan).
  • Dit vergroot nie jou risiko op hartsiektes of osteoporose nie. Volgens Hennie verhoog jou risiko op osteoporose egter wel as jou eierstokke op 'n vroeë ouderdom verwyder word.

VRA JOU GINEKOLOOG

  • Waarom is 'n histerektomie nodig?
  • Verduidelik die volledige prosedure in verstaanbare taal?
  • Is daar alternatiewe behandelings?
  • Wat is die moontlike komplikasies?
  • Wat is die kanse dat dit my probleem gaan oplos?
  • Wat kan die gevolge wees as ek nié 'n histerektomie kry nie?
  • Onthou: Jy kán 'n tweede mening kry.
  • Daar is baie inligting op die internet. Maak net seker dis 'n betroubare bron (akademiese instelling of professionele vereniging).

Bron: Dr. Leon Snyman van die Universiteit van Pretoria