Hoekom is gaap so aansteeklik? Dis 'n verskynsel wat wetenskaplikes tot vandag toe nie heeltemal kan verklaar nie, maar hulle het wel 'n paar teorieë.

Om te gaap is ’n onwillekeurige aksie en almal doen dit. Navorsing toon as jy gaap, bereik meer lug jou brein. Dit koel dan af en werk doeltreffender. Gaap is dus ’n metode om jou brein af te koel, berig Smithsonian.com.

Dit lyk of aansteeklike gapery net by mense en sjimpansees voorkom. En tussen 60 en 70 persent van alle mense kan bloot na prente van gaap kyk om te begin gaap. Wetenskaplikes vermoed dit het te doen met onderliggende empatie. Steven Platek, 'n sielkundeprofessor van die Georgia Gwinnett-kollege in Amerika, het ’n MR-skandering gedoen van mense wat aansteeklike gapery ervaar.

Tydens die gapery het dieselfde dele in die brein verlig as dié wat met die verwerking van ons eie sowel as ander mense se emosies te doen het.

'n Ander moontlike rede is 'n onderliggende na-apery, berig Psychology Today. Wanneer jy iemand sien gaap, gaan jy gou voel hoe jou kakebeen saamtrek en die gaap-aksie naboots. 

TED-Ed gee 'n interessante verklaring:

Het jy geweet?

Kinders ervaar eers vanaf die ouderdom van vier aansteeklike gapery.

Bronne: Smithsonian.comPsychology Today en TED-Ed