Onlangs het die wêreld se beste geheues dit weer om die titel van Geheue-kampioen van die Wêreld uitgespook. Baie deelnemers aan dié kompetisie in September in Bahrein kan hulself die “grootmeesters van geheue“ noem. Die vereistes om aan dié uitgelese groep te behoort is: die vermoë om onder meer ’n nommer met 1 400 syfers te onthou, ’n pak kaarte in minder as 2 minute te memoriseer en 10 pakke kaarte in minder as ’n uur! Tony Buzan, organiseerder, Britse geheuekenner en skrywer van onder meer Mind Maps at Work (HarperCollins, 2004), sê jy hoef nie ’n Einstein te wees om deel te neem nie. Ook jy kan baie meer onthou as wat jy dink - slegs deur oefening.

Jou slim brein
Jy hét ’n onbeperkte leervermoë, sê dr. Caroline Leaf van Johannesburg in Skakel jou brein aan (Tafelberg, 2005). Sy is ook die skrywer van Who Switched Off My Brain? (gepubliseer deur Switch On Your Brain Organisation, 2007). Moenie bang wees dat jou brein se vermoë beperk word deur die aantal breinselle (neurone) waarmee jy gebore is, of dat dit sal doodgaan nie. Dis onwaarskynlik dat jy dit ooit naastenby sal uitput. Dit maak nie saak hoe slim jy is (of nie) in ander mense se oë nie. As jy meer van jou brein se vermoë gebruik om inligting te verstaan en te berg gaan jy net slimmer word. Jou brein se bergings en geheueruimte is só groot dat sowat drie miljoen jaar nodig is om dit uit te put! Moet ook nie bekommerd wees oor breinselle wat doodgaan nie. Daar bestaan baie min wetenskaplike bewyse om dit te staaf, sê Caroline. Roger B. Yepsen gaan op dieselfde trant voort in How to Boost Your Brain Power (Outlet, 1992): Jou brein is glad nie heeltemal ontwikkel aan die einde van jou tienerjare nie - of op 40 of selfs 80 nie. Dit hou aan met ontwikkel solank dit gestimuleer en uitgedaag word. Dis ’n “buigsame“ orgaan, wat ontwerp is om sy vermoë uit te brei - afhangend van die eise wat daaraan gestel word. Jou brein kan dus op enige ouderdom steeds ontwikkel as jy dit stimuleer (behalwe as dit weens ’n ongeluk of besering seerkry).

 

Daar is min wetenskaplike bewyse dat breinselle sterf

Alzheimer se siekte en ander minder bekende vorms van seniele demensie het te doen met progressiewe agteruitgang van die brein. Maar dis siektes wat hier te sprake is, nie simptome van veroudering nie.

Onthou soos ’n (geheue)-kampioen

Hoekom vergeet ons so maklik lyste, nommers en name? Duisende jare gelede was dit nie vir ons voorvaders nodig om dit te onthou nie. Al wat belangrik was, was die posisie van kos, water en roofdiere.
Ons brein het dus ontwikkel om helder beelde te onthou, soos ’n tier wat jou aanval of die posisie van ’n boom met vrugte. Die sleutel is dus om syfers, name en lyste in helder beelde te omskep.
Skep hierdie beelde deur jou sig, gehoor, reuk, smaak, tassintuig, emosie, beweging, humor, seksualiteit, kleur en oordrywing te gebruik.

Onthou om iets te doen:
Jy moet ná werk melk koop. Verbeel jou jy maak jou motordeur oop en honderde liters melk stroom na buite. Die sitplekke is deurdrenk met melk en op die passasiersitplek sit ’n bont koei wat hard bulk.

Onthou lysies:
Skep helder beelde van elke item en verbind dit op ’n dramatiese manier. Jy moet bv. onthou om eiers, skottelgoed-opwasmiddel en tuna te koop. Stel jouself voor jy stap uit die huis en trap op rou eiers. Jy gryp ’n reuse-bottel opwasmiddel om jou voete te was. Maar daar sit ’n tuna in die bottel se nek vas en dit kan nie vloei nie.

Meubileer ’n denkbeeldige huis:
Die Romeine het ellelange toesprake onthou deur elke element daarvan in ’n beeld te omskep en dit iewers in ’n denkbeeldige huis te plaas. Jy loop dan deur die virtuele huis, kom elke item teë en noem dit in die toespraak. ’n Variasie is om deur ’n plek te loop wat jy goed ken (soos jou eie huis). Jy assosieer dinge wat jy teëkom met die goed wat jy probeer onthou.

Onthou name:
Jy vergeet name omdat bekendstellings dikwels afgejaag word. Wees tydsaam, herhaal die naam dikwels en probeer om ’n beeld te skep waarmee jy die naam kan assosieer.

  • Sê vir jouself jy gáán die naam onthou;
  • Bestudeer die gesig voor jou met aandag en probeer unieke eienskappe identifiseer;
  • Vra dat sy/hy die naam moet herhaal, selfs al het jy dit die eerste keer gehoor;
  • Gebruik die naam verskeie kere in die gesprek;
  • Herhaal die naam terwyl jy na haar/hom luister;
  • Vereenselwig die naam met iets unieks in die mens se voorkoms;
  • Assosieer die naam met ’n glanspersoonlikheid of iemand wat jy goed ken;
  • En skep ’n prentjie van die naam. (Riëtte is ’n riet, Rosa is ’n roos, ens).

Besoek www.memoryconsulting.com vir nog wenke van geheue-kampioene.

 

Seniliteit is nie ’n onafwendbare deel van ouderdom nie. Nobelpryswenners, sê prof. Ig Gous van die departement Ou Testament en Oue Nabye Oosterse Studies en sameroeper van die kognitiewe wetenskappe-projek aan Unisa, is deesdae meestal bo 60. En hy wys daarop dat verpligte aftrede ná ’n sekere ouderdom in Amerika afgeskaf is. Jou geheue verskerp as jy dit gebruik. Soos jy ouer word, kan jy doelbewus nuwe uitdagings aanvaar om dit fiks te hou. Daar is egter nie kitsoplossings nie: Jy moet die pad loop van ontwikkeling, stimulasie en groei, sê hy. Volgens Yepsen het die soepelheid van die brein twee kante: Dit kan agteruitgaan weens onbruik, verveeldheid en selfs ’n gebrek aan selfvertroue om iets nuuts aan te pak. Soos met die res van die liggaam, geld die wet van “gebruik dit of verloor dit”. ’n Ledige geheue sal dus “pap“ word omdat dit nie gebruik word nie - nes ’n ledemaat wat in gips is.
Dis ook kwesbaar vir dinge soos ’n swak dieet, hoë bloeddruk, cholesterol, oorgewig, min slaap, emosionele eise en stres. Dus: Dinge waaraan jy meestal iets kan doen.

Tegnologie maak dit maklik
Ons moet deesdae soveel meer dinge onthou - en ons gebruik tegnologie al hoe meer daarvoor. Britse navorsing wys dat ’n kwart van die (Britse) bevolking nie hul eie huistelefoonnommers ken nie. En slegs sowat ’n derde onthou meer as drie naby-familielede se verjaardae. Wys jou net, hoe minder jy jou geheue gebruik, hoe meer verswak dit, sê die navorsers. Hulle meen dis dalk hoekom mense ouer as 50, wat van kleins af op hul geheue moes staatmaak, volgens navorsing beter vaar as diegene onder 30 wat swaar op tegnologie as geheuehulpmiddel steun. (Sowat ’n derde van respondente onder 30 moes eers hul selfone raadpleeg vir hul huisnommers. Sowat 87% van diegene bo 50 kon die verjaardae van nabyfamilie onthou, teenoor net sowat 40% van die onder 30’s.)

Ig stem nie saam nie. Dis maar een vorm van geheue wat hier te sprake is, sê hy. Tegnologie hét veroorsaak dat jy iets bêre en opsoek, eerder as om dit te onthou. Maar dit lei weer tot ander soorte geheue - soos hoe om die inligting weer op te soek, rekenaars, selfone en iPods te gebruik. Dit beteken nie jou geheue versuf nie.Ook: Jy onthou wat nodig is. Dis nie nodig om jou eie telefoonnommer te onthou nie, omdat jy nie jouself bel nie. Dis anders as jy ’n sakeonderneming het. Dalk is daar ander redes waarom mense nie verjaardae onthou nie, soos losser familiebande, swakker huweliksverhoudings, ens. Daar’s ’n staaltjie dat Einstein nie sy eie adres kon onthou nie - maar hy het dit nie nodig gehad vir sy intellektuele reise deur die heelal nie, sê Ig.

Stres kelder jou geheue
Niemand ontsnap aan stres nie. Daar is bewyse dat erge stres (soos posttraumatiese stres), langdurige stres en depressie nadelig vir jou brein is. Volgens prof. Piet Oosthuizen van die departement psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch en skrywer van Ontsnap van depressie (Tafelberg, 2007) word die dele van die brein geraak wat met geheue te doen het. Veral die hippokampus, waar nuwe  geheue vasgelê word. As die liggaam aan stres blootgestel word, word sekere hormone vrygestel. Dié hormone, veral kortisol, kan die hippokampus beskadig. (Studies toon dat mense met onbehandelde depressie se hippokampus mettertyd kleiner word.) Dit kan geheue- en leerprobleme veroorsaak. Leer ontspanningstegnieke aan. En as jy vermoed jy is depressief, raadpleeg jou dokter.

Eet ‘geheuekos’
Wat jy in jou mond sit, het ook ’n invloed op jou geheue. Die leefstylghoeroe Patrick Holford beveel die volgende aan in The Alzheimer’s Prevention Plan (Piatkus, 2005):

1. Eet essensiële vette

  • Soos ’n eier per dag (gekook, geroer of geposjeer, nie gebak nie);
  • ’n Eetlepel sade en neute per dag (veral vlas-, pampoen-, sonneblom- en sesamsaad en kies enige neute waarvan jy hou);
  • Eet olieryke kouewatervis soos haring, makriel, salm of sardiens 2 tot 3 keer per week. (Die konsentrasie kwik in vars en geblikte tuna is hoog weens besoedeling. Eet dit net 3 keer per maand, tensy dit beskryf word as “laag in kwik”. Groot roofvisse wat lank leef, soos swaardvis, haai en tuna, bevat meer kwik);
  • Gebruik koudgeparste saadolie.

2. Neem koolhidrate in wat stadig vrygestel word

  • Eet volgraankos, vars vrugte en groente (verkieslik organies) en vermy wit, verfynde en oorverwerkte kos (soos koek, lekkergoed, pasteie);
  • Peusel aan vars vrugte, verkieslik appels, pere en bessies.

3. Eet genoeg proteïen

  • Kies 3 proteïenryke porsies per dag as jy ’n man is, 2 as jy ’n vrou is.

4. Vermy slegte vette

  • Eet minder gebraaide of verwerkte kos.

5. Vermy suiker, verminder kafeïen en drink alkohol matig

6. Basiese aanvullings

  • Neem ’n goeie multivitamien en ’n mineraal-aanvulling;
  • 1 000 mg vitamien C per dag;
  • Omega 3- en 6-vetsure soos vis- en vlassaadolie: Die sleutelvette in dié vetsure is GLA, DHA en EPA. Neem 300 mg EPA, 200 mg DHA en 100 mg GLA per dag. (Sien etiket op verpakking - dit word as GLA, DHA en EPA aangedui).
Skakel jou brein aan
Jy het 7 tipes intelligensie: taalkundig, logies/wiskundig, musikaal, ruimtelik/ visueel, kinesteties (liggaamsbeweging, die vermoë om jouself te koördineer en voorwerpe bedrewe te hanteer), interpersoonlik (die vermoë om mense te verstaan en goed met hulle saam te werk) en intrapersoonlik (selfkennis, om jou eie gevoelens, gedagtes en intuïsie te begryp).

Maar om al dié tipes te gebruik, moet jy eers jou brein “aanskakel“. Oftewel die linker en regterkant van jou brein moet saamwerk, sê Caroline Leaf. Sy ’n nuwe benadering tot leer en intelligensie, naamlik geodesiese of breinversoenbare leer, ontwikkel. Dit maak dit vir jou brein moontlik om inligting met begrip te verwerk en só optimaal te leer. Die brein se linker- en regterkant word in die middel deur die corpus callosum, ’n breë senuweefselband, verbind. Die manier hoe die twee kante saamwerk, bepaal jou potensiaal. As dit in harmonie saamwerk, aktiveer jy sowat 90% van jou vermoë om te leer. Tradisionele leermetodes daarenteen stimuleer hoofsaaklik die brein se kognitiewe of denkende vlak, waar net 10% van jou leervermoë gesetel is. Die metagkognitiewe kaart® is ’n belangrike werktuig van geodesiese leer: oënskynlike lukrake en (vir ander) dikwels onverstaanbare krabbels en tekenings wat jy op papier neerpen. Dit lyk soos ’n boom: die stam is die hoof-onderwerp (bv. duiwe), die takke die sub-onderwerpe (bv. ringduif, tortelduif, rooiborsduif) en die kleiner vertakkings meer gedetailleerde inligting (habitat, voedsel, nesmaakplek, ens.).

Slimmer in 4 stappe

  • 1. Lees hardop en gebruik jou vinger. Die ouditiewe en visuele stimulasie koördineer albei kante van jou brein en verbeter begrip.
  • 2. Dink. Vra jouself wat jy gelees het, antwoord in jou eie woorde en verduidelik die inligting aan jouself. Omkring die hoofkonsepte.
  • 3. Lees dit weer. Verstaan jy wat jy lees? (Begrip is die sleutel van dié benadering.)
  • 4. Skep nou jou metagkognitiewe kaart®. Die geheim is om sowat 40% van wat jy pas geleer het, te verstaan en weer te gee.