Baby blues

... is ’n algemene sindroom wat nie lank duur nie. Jy voel gewoonlik emosioneel onstabiel, tranerig en angstig. Sowat 40 – 60% van vroue ervaar die blues. Simptome begin gewoonlik drie dae ná die geboorte, maar behoort ná 10 dae op te klaar. Ondersteuning is gewoonlik al wat die ma nodig het. Hoewel dit normaal is, moet die simptome dopgehou word omdat die blues tot ’n depressiewe episode kan lei.

Postnatale depressie

... is wanneer jou gemoed vir ’n ruk lank laag is (jy voel down) óf jy voel heeltemal afgestomp. Jy geniet niks nie, kan nie slaap of eet nie, het nie energie nie en sukkel met skuldgevoelens. Angs is ook ’n algemene simptoom. Jy voel dalk totaal oorweldig deur die verantwoordelikheid om jou baba te versorg. Gewone take voel onmoontlik en jy sukkel om normaal te funksioneer. Jy het dalk selfs gedagtes oor die dood of selfdood en dit kan jou en jou familie ontstel. Depressie beroof jou as’t ware van jou ervaring om jou baba te geniet.

FOTO: Mary Ann Bosch FOTO: Mary Ann Bosch

Lees ook HIER Nadine le Roux, Henré Pretorius se vrou, se verhaal oor postnatale depressie

Hoe om te maak

  • Kry so gou moontlik hulp. Jy kan dit nie op jou eie hanteer nie.
  • Elke vrou is uniek, daarom sal jou psigiater jou evalueer, ’n diagnose maak en besluit op jou behandeling. Dit kan bv. medikasie en/of psigoterapie insluit.
  • Dis baie belangrik dat jou man en familie/vriende jou ondersteun.
  • Jou man kan jou baie help deur die druk van jou weg te neem – moet hom nie onderskat nie.

Vir meer inligting, besoek www.sophiaclinic.co.za

* Dié artikel is deel van ’n groter artikel, "Ek is weer my ou self" wat oorspronklik in ons Julie-uitgawe verskyn. Dit is ongelukkig nie meer op die rak nie, maar jy kan dit HIER digitaal koop.