Eers het jy dit net in gesondheidswinkels gekry. Nou is glutenvrye kosse oral. Vir mense wat sensitief is vir gluten, ’n proteïen in koring, rog en gort, is dit ’n seën. (Sowat 1 uit 100 mense, volgens Mariza in haar boek Dik vir Dieet, Naledi.) Maar deesdae is dit byna mode om gluten te vermy. Mense gaan op glutenvrye diëte om gewig te verloor, vir ’n energie-skop, as behandeling vir outisme of om net gesonder te voel.

’n Mors van geld as jy nie gluten-sensitief is of seliaksiekte het nie, volgens ’n blog op Harvard Health (www.health.harvard.edu). Seliaksiekte is ’n outo-immuunsiekte wat deur ’n bloedtoets gediagnoseer word. Simptome is wyd uiteenlopend, soos derm-ongemak, stoelgang-abnormaliteite, ’n ystergebrek en ander voedingsgebreke weens die wanopname van voedingstowwe.

Sweedse navorsing het wel ’n sterk verband gevind tussen outisme en die voorkoms van gluten-teenliggame. Dit dui op ’n immuun-reaksie teen die proteïen, en sommige kinders met outisme baat dan ook by ’n glutenvrye (en kaseïenvrye) dieet. (Kaseïen is ’n proteïen in melk.)

Die afwesigheid van gluten in kos maak dit nie outomaties gesonder nie. Glutenvrye brood word dikwels van verfynde stysel gemaak, wat nie ’n beter gesondheidskeuse is nie.