Volgens Marycke Ackhurst, troeteldiergedragskundige by Hill’s Pet Nutrition, erken talle troeteldiereienaars hul viervoetkinders is nou heelwat swaarder weens maande se ooreet, min oefening en verhoogde stres.

Die inperking kan egter nie al die skuld kry vir Woef en Kiets se voller figuur nie. Vetsug was nog altyd een van die grootste gesondheidsprobleme onder Suid-Afrikaanse troeteldiere.

Volgens PetMD kan vetsug by troeteldiere lei tot ernstige toestande soos diabetes tipe 2, osteoartritis, hartsiekte, asemhalingsprobleme, kanker en niersiekte. Dit is boonop nie net sleg vir hul gesondheid nie, maar kan ook ’n groot duik in jou beursie maak.

Juis om dié rede word ’n hele maand aan bewusmaking oor die kwessie gewy. Ja, Oktober is Troeteldiervetsugmaand. 

“Iets wat baie troeteldiereienaars nie weet nie, is dat hul hond of kat se dieet aangepas moet word ná sterilisasie, aangesien hul energiebehoeftes dan verminder,” sê Marycke. “Ook soos troeteldiere ouer en minder aktief raak, moet hul kosinname verminder word.”  

Gelukkig is daar verskeie maniere om jou troeteldier te help om gewig te verloor en ’n gesonde gewig te handhaaf.

FOTO Verskaf

Hier is Marycke se vyf wenke: 

1. Net genoeg kos

Die aanbevole hoeveelhede wat agter op kosverpakking verskyn, is slegs ’n riglyn. Elke troeteldier is anders, dus kan hul energiebehoeftes ook verskil. Leefstyl, ouderdom en gesondheid speel alles ’n rol hierin. Vir meer inligting, gesels met jou veearts of besoek petslimmer.co.za

2. Weeg hom só

Die maklikste manier om jou troeteldier te weeg is om eers jouself te weeg en dan jou troeteldier op te tel en julle twee saam te weeg. Trek dan jou gewig af van die totaal om sy gewig te bepaal. Kyk ook gereeld na jou troeteldier se liggaamskondisie-telling en pas sy kos daarvolgens aan. Besoek petslimmer.co.za vir meer.

3. Toets vir oorgewig

Dis noodsaaklik om te weet wanneer jou troeteldier oorgewig is. Vryf oor sy ribbekas. Kan jy sy ribbes voel sonder om drukking toe te pas? (Dit moet voel asof jy jou hand oor jou effens geboë kneukels vryf.) Indien nie, is hy oorgewig.

4. Oefen, oefen, oefen

Daaglikse aktiwiteite is belangrik om energie op te gebruik – of dit nou ’n vinnige stappie is, in die tuin speel of selfs net iets wat sy brein stimuleer.

5. Eerder te min as te veel

In die algemeen is dit gesonder vir jou troeteldier om ’n bietjie ondergewig te wees as oorgewig.

FOTO Verskaf

Marycke sê ’n nuwe tendens is om weg te doen met kosbakke en troeteldiere elke dag te laat “werk” vir hul kos of dalk net die helfte daarvan. Speel bv. “wegkruipertjie” en steek sy kos op verskillende plekke weg sodat hy moet soek daarvoor, ’n goeie manier om energie te verbrand.

Maak dit egter aanvanklik vir hom maklik genoeg om die kos op te spoor en dan geleidelik moeiliker. “Jy wil nie hê jou troeteldier moet gefrustreerd raak en tou opgooi nie.”

Help jou troeteldier in die maand van Oktober om daai ekstra paar kilo’s af te skud ... goed vir Wagter én vir jou!

• Vir meer inligting, besoek Hill’s se troeteldierverslankingswebwerf petslimmer.co.za.