'Die toekoms is uitsigloos, leeg en doelloos'

Paul* (57) het vyf jaar gelede 'n pakket geneem by sy werk. Hy is tien jaar gelede met depressie gediagnoseer - maar verskeie kombinasies van antidepressante het nie die donkerte laat wyk nie. Sy testosteroonvlakke is twee keer getoets - telkens baie laag. Hy het natuurlike produkte daarvoor gebruik, sonder sukses.

"Ek was 'n go-getter. Behalwe my voltydse werk het ek gereeld projekte met die linkerhand aangepak om ekstra geld te verdien. Nou sit ek net heeldag, heeltemal nutteloos. Dit voel asof daar nie meer vir my 'n rol in die samelewing is nie. Die toekoms is uitsigloos, leeg en doelloos. Ek het in tien jaar vyftien kilogram gewig aangesit. Ek was altyd haastig, haastig. Nou hou my swaar lyf my terug. Dit voel asof my voete te klein is vir my lyf.

''Daar is 'n foto van my op die badkamerspieël: My vrou het dit daar geplak om my te motiveer om gewig te verloor. Ek kyk dikwels na daardie viriele jong man met sy sixpack. Wat het van hom geword?"

Prof. Riana Bornman, uroloog/androloog by die Steve Biko Akademiese Hospitaal en hoogleraar aan die Universiteit van Pretoria, sê depressiewe mans se testosteroonvlakke moet ook getoets word. Indien dit laag is, gaan antidepressante alleen nie help nie. Testosteroonaanvullings is dan ook nodig.

'Ná hormoonterapie is ek weer lus om dinge te doen'

Gert* (49) het lank "net nie lekker" gevoel nie. Hy is nou anderhalf jaar op hormoonterapie en ''weer lus om dinge te doen''.

"Ek was sonder lewensvreugde, knorrig en geïrriteerd. Die mense by die werk en my gesin moes dit ontgeld. Ek was altyd moeg en het vroegaand al in 'n leunstoel aan die slaap geraak. Ek was voorheen 'n besige outjie en het marathons gehardloop en gereeld gym toe gegaan. Maar ek was net nie meer lus daarvoor nie. Seks? Ek het gevoel as ek nooit weer seks hoef te hê nie, sal ek nie omgee nie.

"Die hittegloede . . . dít het my ondergekry. Ek sou skielik só warm kry. Die sweet tap jou af, asof jy pas baie hard geoefen het. En dan is dit in die hartjie van die winter. So twee, drie minute en dis verby."
Riana: "Die kenmerkende simptome by sulke mans is min energie en seksuele probleme, soos 'n gebrek aan libido en erektiele disfunksie - hy sukkel dan om 'n ereksie te kry en/of om dit tot ná penetrasie te behou."

'Ek is bang ek kan nie seksueel die mas opkom nie'
Pieter* (54) skryf in 'n brief aan Riana: "Ek vermoed lankal ek het die een of ander kwaal. Ek is al behandel vir depressie en erektiele disfunksie. Dokters het 'n ereksie-pil voorgeskryf - dit het slegs dié simptoom laat verdwyn.

"Daar is nie 'n vrou in my lewe nie: Ek is te bang ek kan nie seksueel die mas opkom nie. Ek het 'n verhouding gehad, maar dit het om dié rede nie gewerk nie.

"Omdat ek nooit vroue se uitnodigings aanvaar nie, dink hulle ek is gay of steek iets weg. Ek is geweldig depressief en mis 'n maat. Maar dis onmoontlik met dié probleem. Ek is wanhopig en voel my lewe is waardeloos.

"Daar is nog 'n ding wat 'n verleentheid is: My geslagsorgaan het die afgelope jaar met sowat 25 mm gekrimp. Al die genoemde simptome het die laaste drie jaar geleidelik toegeneem."

Riana: "Dis taamlik algemeen dat mans met 'n testosteroontekort se penis krimp en dis vir sommige 'n groot verleentheid."

Sy het as jong dokter langs die "omies" se hoë hospitaalbeddens gesit - en hulle het met haar gepráát. Openlik. Eerlik. Oor hul seksuele vermoëns wat op die afdraand was, of klaar op moedverloor se vlakte gestrand het. Hulle kon dit teenoor haar erken - dalk omdat sy nie 'n mededinger was soos haar viriele manlike kollegas nie.

Vir prof. Riana Bornman, 'n uroloog/androloog by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria, het mans se "private" probleme 'n lewenstaak geword. Haar soeklig val onder meer op die sogenaamde "manlike menopouse". Dit word die testosteroontekortsindroom (TTS) genoem.

Sy praat met groot deernis van die "Adampies". ADAM, oftewel androgen decline in aging men, is een van die ouer benamings vir TTS. "Ek kry mense jammer wat praat - en nie gehoor word nie," verduidelik sy. Daar is lank geglo die "menopouse" is iets wat net met vroue gebeur. Dis maar die afgelope dekade dat besef word mans gaan deur 'n soortgelyke proses. Ook húlle kan ná 45 fisieke en emosionele simptome ervaar, soos 'n gebrek aan energie, warm gloede, buierigheid, geen libido en probleme in die bed. Dis eers as bloot 'n teken van die ouderdom beskou.

En mans práát ook nie sommer daaroor nie. Die veranderinge weens 'n testosteroontekort is boonop geleidelik en subtiel. Maar vra jy spesifieke vrae, is dit duidelik die simptome is 'n geruime tyd reeds daar: "Het jou libido afgeneem?" "Ja." "Het jou energievlakke gedaal?" "Ditto."

En dis nie net ou omies wat kom kla nie. Dit kan met enige man ouer as 45 gebeur. Mans se testosteroonvlakke daal van 25 af. Op 80 is dit laer as voor puberteit.

Daar is nog 'n oorsaak: Visserale vet (dié om jou maag en veral rondom die organe binne jou buik) bevat 'n ensiem wat testosteroon afbreek. Dié vet ontwikkel weens 'n ongesonde leefstyl en is baie moeilik om met 'n dieet af te skud. In studies het mans tussen 6 tot 14 cm om hul buik verloor ses maande nadat hulle met testosteroon-aanvullings begin het. Maar nie alle mans kry TTS nie en die simptome se intensiteit verskil.

Waar's my woema heen?

Dalende testosteroonvlakke gaan met gemoedsveranderinge gepaard, sê uroloog Riana. Jy is meer geneig tot angs, depressie en antisosiale gedrag. Jou dryfkrag verminder, kreatiwiteit neem af en lewensvreugde verdwyn. Jy voel lam, suf en lus vir niks nie en niemand moet aan jou karring nie.

Sommige mans kry ook warm gloede, maar dis seldsaam.

Chroniese lae testosteroonvlakke maak jou impotent. Dít laat mans gewoonlik professionele hulp soek, terwyl hulle maar met die buierigheid en verlies aan dryfkrag saamleef. Dit kan aanvanklik subtiel wees: Jy sukkel om 'n ereksie te kry, dis minder ferm as gewoonlik en jy verloor dit gouer. Ja, daar is mans wat tot 'n gevorderde ouderdom kinders kry. Maar sulke mans het nie TTS nie, tensy die buurman help!
En natuurlik raak dit ook die man met TTS se vrou, hoewel hy dit dikwels rasionaliseer: "My vrou het nie 'n probleem daarmee dat ons nie meer seks het nie." Vra jy háár, hoor jy 'n ander storie.

Mans het ook testosteroon nodig om gesond te bly. Dié met 'n tekort daaraan verloor spiere en sit gewig aan, veral om die maag. (Dis 'n sirkel: Vet om jou maag breek jou testosteroon af, wat jou nog méér gewig laat aansit.) Jou risiko op metaboliese sindroom is dan groter (dis vetsug, hoë bloeddruk, hoë cholesterol en insulienweerstandigheid sáám). So ook op diabetes en hartsiektes. Jou beendigtheid verlaag en jy kry makliker osteoporose.

Leef reg!

Dit gebeur soms dat 'n man se TTS-simptome verbeter net omdat hy sy leefwyse verander. Soos 'n gesonde dieet, oefening, gewigsverlies, om op te hou rook en minder alkohol te drink. Ook om stres op 'n gesonde manier te ontlaai - spanning onderdruk testosteroonvlakke. Navorsing in 2002 aan die Universiteit van Pretoria, waarby Riana betrokke was, het hoeka gewys SA mans se testosteroonvlakke is laer as die Amerikaners en Europeërs s'n.

Vul dit aan

Dit was eens 'n dogma in mediese skole: Testosteroon-aanvullings vergroot jou kans om prostaatkanker te kry, sê uroloog Riana. Maar dis waarskynlik nié so nie. Die jongste navorsing wys mans met lae testosteroonvlakke se risiko is groter om prostaatkanker te kry. Dis dan boonop aggressiewer en jou kanse om gesond te word moontlik kleiner. As jy egter reeds onderliggend prostaatkanker het, kan sulke aanvullings dit dalk aanhelp. Daarom word jy deeglik vir prostaatkanker getoets vóór jy met die behandeling begin.

Testosteroon word op 3 maniere toegedien

• Pille: 'n Nadeel is dat dit 3 keer per dag geneem moet word en jy kan vergeet.

  • Inspuitings wat op kort termyn werk: Jy kry 1 elke 2 weke en kan jouself later inspuit.
  • Die beste keuse is 'n inspuiting wat langer werk: Dit hang van jou as individu af of jy dit elke 3, 4, 5 of 6 maande moet kry.
 

Testosteroon word nie gegee vir mans wat nog kinders wil hê nie, omdat dit met die vervaardiging van spermselle kan inmeng. Dis ook taboe vir mans met 'n geskiedenis van prostaat- of borskanker, of wat tans prostaatkanker onder lede het.

Die behandeling gaan nie onmiddellik help nie. Riana se ervaring is egter dat pasiënte ná 'n maand deur die bank begin beter voel. Sy herevalueer hulle ná drie maande. Dit gee tyd om subtiele veranderinge raak te sien.

Pryse wissel van R2 400 (vir die korttermyn-inspuiting) tot R5 000 (vir die langwerkende een) per jaar. Die pille se prys val tussenin. Mediese fondse betaal daarvoor.

Oppas vir jou hart

Erektiele disfunksie (impotensie) kan 'n vroeë aanduiding van hartsiektes wees. Besoek dadelik 'n kardioloog vir 'n ondersoek - moenie dit as 'n "normale" deel van die ouderdom beskou nie. Die are in jou penis is kleiner as jou hart s'n en as hulle aan 't vernou is, sal dit eerste dáár wys.

*Skuilname is gebruik

**Kontak Riana by 012 354 1513.