"Ek eet gesond, maar verloor nie gewig nie"
Eet jy régtig gesond? Kliënte begin dikwels met dié sin, sê Rentia Lombard, dieetkundige van Pretoria. Maar eintlik het hulle 'n wanindruk oor wat gesond eet is.
"Dalk weet jy baie daaroor, maar pas nie jou kennis toe nie. Of jy stel dit uit: 'Ek wéét ek moet meer vrugte en groente eet. Ek sal volgende week begin.' Om daarna te streef om gesond te eet beteken nie jy dóén dit wel nie," sê Rentia.

"Dis verkeerd om ná sesuur saans te eet"
Dis 'n mite, sê Suna Kassier, dieet-kundige aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.
"Jou brein, hartklop, asemhalingstelsel, spysverteringstelsel ensomeer slaap nooit nie.As jy nie saans eet nie, gaan jy laataand die yskas stormloop."

"Ek eet nie ontbyt of middagete nie, want ek is nie honger nie"
Jou liggaam het bes moontlik gewoond geraak aan min kos en ophou vra, sê Rentia Lombard.
"Dis gewoonlik 'n teken dat jou metabolisme verstadig - en dus meer vet berg. Dikwels vergryp jy jou dan saans aan ongesonde kos. Eet meer gereeld en jy sal bedags ook honger word. As ontbyt 'n probleem is: Eet vroegoggend 'n vrug en jogurt. Hou jou ontbytgraan vir later."

"Ek eet laevet-kosse. Hoekom word ek nie maer nie?"
Peuselhappie

Het jy die etiket goed bestudeer? vra Suna Kassier. "Laevet" beteken die item het minder as 3 g vet per 100 g of ml. "Verlaagde" vet beteken egter bloot dit het 25% minder vet as die standaard-produk. Dis nie net kos se vetinhoud wat belangrik is nie,maar ook wanneer en hoeveel jy daarvan eet.

Jellielekkers (jelly babies) het byvoorbeeld geen vet nie, maar baie kilojoules (kJ). Só het 71,5 g jellielekkers dieselfde kilojoules as sowat 50 g Chuckles (24,8 gvet per 100 g).

Maak ook seker jy kry genoeg "goeie" vette in, soos in avokado, neute, olyfolie en salm. Veral omega 3-vette, soos in olieryke vis, wat moontlik gewig kan help beheer, sê Suna.

Nóg vrae...

"Ek het oortree - dus gooi ek tou op"
Hoekom? Jy kry met jou
volgende maaltyd weer
kans om gesond te eet.
Én die een daarna. En dáárna . . .
Volgens Rentia moet jy
in elk geval nie net
gesond eet terwyl jy
op 'n dieet is nie.
Dis 'n keuse wat jy
met elke ete maak -
vir die res van jou lewe.

"Moenie jouself kasty nie.
En moet beslis nie 'n
maaltyd oorslaan of 'n
dag lank nie eet nie.
Onthou: Jy is besig om
gesond te leer eet.
As jy dit eers eenmaal geniet,
sal jy later self
ongesonde kosse vermy."
Suna Kassier
glo daar is nie iets soos
"goeie" en "slegte/verkeerde"
kos nie.


Suurlemoen-kolwyntjies

"Ek oefen meer.
Waarom verloor ek nie gewig nie?"

As jy met 'n oefenprogram begin,
ontwikkel jy gewoonlik eers spiere,
wat meer as vet weeg, verduidelik
Rentia.

Dit kan dan lyk of jy nie gewig
verloor nie, maar jy verloor
sentimeters om jou lyf.
Vergeet van die skaal en voel hoe
jou klere ál losser sit.
Vir die beste resultate moet jy
oefen én gesond eet.
Alle kos het 'n plek in jou dieet
- solank jy 'n verskeidenheid in
matige hoeveelhede eet."

"Ek eet nie koolhidrate (stysel en suiker) nie, dit maak vet"

Enigiets waarvan jy te veel eet, "maak vet", sê Rentia.

"Tussen 45% en 60%van jou daaglikse kilojoules moet koolhidrate wees. Dis noodsaaklik vir energie om te leef en te werk en jou bloedsuikervlakke konstant te hou. Jou brein gebruik net koolhidrate as energiebron."

Marlene Vermaak, dieetkundige van Pretoria, voel sterk dat jy enige dieet moet bevraagteken wat 'n voedselgroep uitskakel. Jy kan op lang termyn voedingstof-tekorte kry.

"Daar word dikwels verkondig stysel maak vet. Maar volgraan-stysel in die regte hoeveelhede help jou om genoeg vesel in te kry. Dit het bv. 'n positiewe uitwerking op jou cholesterolvlakke, en is belangrik vir goeie spysvertering," sê Marlene.

''Ek eet ontbyt, maar 'n uur later knaag die hongerpyne weer"

 

Kies lae GI-kosse - jy bly dan langer versadig, verduidelik Marlene Vermaak. Eet bv. 'n lae GI-ontbytgraan met vetvrye melk en 'n appel pleks van spek en eiers. Kos met 'n hoë GI veroorsaak vinnige skommelinge in jou bloedsuikervlakke en laat jou lusteloos en moeg voel.

Rentia se wenk: Eet gerolde hawermout. Dit het 'n lae GI. Jy koop dit by gesondheidswinkels. Gooi 'n bietjie sout en kaneel daaroor en bedek met kookwater.As die water geabsorbeer en die hawermout geswel is, gooi so 2 teelepels heuning, 1 eetlepel sade, soos vlas, pampoen, sesam of sonneblom, opgesnyde vrugte, soos aarbeie, appelliefies, songedroogde rooibosbessies (cranberries) of bloubessies, en 'n bietjie vetvrye melk by.

Suna se keuse vir ontbyt: Hawermoutpap, of muesli met laevetjoghurt en vrugte, of saadbrood. En vars vrugte pleks van vrugtesap.

"Ek is doodhonger ná ek geoefen het en takel dan die yskas"


Eet 'n lae GI-kossoort, verkieslik 'n vrug, 'n uur vóór jou oefensessie, stel Rentia Lombard voor. Kies 'n perske, peer of appel. Dit voorkom dat jou bloedsuiker daal terwyl jy oefen en jy futloos en energieloos voel. Jy het dan nie genoeg energie om behoorlik te oefen nie.

'n Té groot happie vooraf kan jou weer ongemaklik laat voel en selfs sooibrand gee. Ná jou oefensessie moet jy 'n medium/hoë GI-kossoort eet (bv. 'n piesang). Moenie 'n energiedrankie (soos Energade) drink as jy nie minstens 'n uur lank hárd geoefen het nie: Dis te veel kilojoules met 'n hoë GI - jou bloedsuiker gaan die hoogte inskiet

KASSIE

Peuselkos

"Ek is honger en die enigste kos is in 'n muntoutomaat met sjokolade en tjips. Wat kies ek?"

Rentia stel voor

  • Kies iets met muesli, soos 'n Snacker of Granola Bar. Al het dit baie vet, kry jy minstens vesel in.
  • Of kies 'n suiglekker wat die hongerpyne sal weghou totdat jy by die huis kom (soos pepermente en Super C's).
  • Koop die kleinste pakkie tjips of lekkergoed wat daar is.
  • Kies iets met rosyntjies - dit het minder vet.

"Waaraan kan ek peusel?''

Rentia Lombard, dieetkundige van Pretoria, stel voor:

Babagroente of groentestokkies met maaskaas of hoemoes, 'n kwart van 'n avokado, 'n vrug, maer stukkies vleis (30 g per dag), Pro-Vita-beskuitjies met avokado, laevet-, ricotta- of maaskaas, of hoemoes, neute en sade (1 eetlepel elk p/d), 'n klein porsie oorskietkos, 'n snytjie lae GI-brood met bv. laevetkaas en tamatie, tamatie en ham of tuna met laevet-mayonnaise.

Maak 'n mengsel van granola, neute en droë vrugte (hand vol), sê Suna Kassier, dieetkundige van Durban. Of kies gebakte pretzels (hand vol) of laevetjogurt (glas p/d, verkieslik natuurlike jogurt met vars vrugte). Of maak 'n smoothie met laevet melk/jogurt, vrugte, heuning, ensovoorts (1 glas p/d).

Smoothie
 

DIE KENNERS SE DIEETGEHEIME
Appel &aposn dag...

Rentia Lombard van Pretoria 

"Ek kry soms uit die bloute 'n craving vir 'n soetding. Om rustig te raak asem ek eers in...en uit...Dan drink ek 'n glas water, want soms is ek maar net dors. As dit nie werk nie, eet ek 'n vrug. As nie een van dié dinge help nie, doen ek een van die volgende:

  • Ek maak sjokolade-Nesquick met vetvrye melk. Dit maak my maag vol, het 'n lekker sjokoladesmaak en net 608 kJ. Of: Ek eet iets kleins wat baie soet is (bv. 'n paar Chuckles). Dit werk nie vir almal nie: Hoe soeter die happie, hoe meer wil sommige vroue hê.
  • Ken jouself. Ek loer klokslag vieruur in die yskas. Ek maak dus seker daar is gesonde eetgoed, soos Pro-Vita en maaskaas, of 'n vrug, 'n bietjie oorskietkos, of selfs vanoggend se jogurt wat ek nie geëet het nie.
  • Ek dood oor kaas. 'n Mens kry gelukkig lekker soorte met net sowat 12 g vet per 100 g (teenoor gewone kaas se sowat 30 g vet per 100 g). Kyk op die etiket.
  • In die winter fokus ek daarop om my gewig konstant te hou - ek probeer dan nie gewig verloor nie.
  • Dis só by my ingeprent om gebalanseerd te eet, dit voel verkeerd as daar nie stysel, proteïene en groente of vrugte op my bord is nie."

Suna Kassier van Durban

  • "Ek het myself geprogrammeer om aan die ongemaklike nagevolge te dink as ek myself aan kos vergryp.
  • Eet is een van die lewe se groot plesiere. Hou egter matigheid voor oë.
  • Balans is belangrik. As jy lekkernye van jou kinders weghou, eet hulle hulself naar as hulle 'n kinderpartytjie bywoon. Daar is altyd lekkers, koekies en gaskoeldrank in my huis, maar my gesin eet dit nie elke dag nie.
  • Ek gebruik baie uie, tamaties, knoffel en kruie, maar min sout, in kos.
  • Ek gaan gereeld gimnasium toe en stap altyd flink - mense sê ek lyk altyd haastig."

Sunette Kotze van Pretoria, eienaar van E-Spice Health Shop

  • "Jy moet by 'n punt kom waar jy besef jou denkwyse oor, keuse van en gevoel rondom kos moet verander. Ek was self daar. Wees bewus van wat en wanneer jy eet. Hou dagboek. Leer om respek vir kos en die waarde daarvan te hê. Dit moet egter nie 'n obsessie word nie.
  • Probeer om altyd in beheer van jou koskeuses te wees.  As jy in 'n restaurant gaan eet, beplan vooruit wat jy gaan bestel - en probeer so min moontlik daarvan afwyk.
  • Glo in jouself en jou vermoë om die oortollige gewig af te skud. Jou twyfel kan jou eetprogram kelder.
  • Moenie honger na 'n geselligheid gaan nie. Kies een sout en een soet eetding, eet dit stadig en drink mineraalwater."

Marlene Vermaak van Pretoria

  • "As jy saans in die bed sjokolade in plaas van skape begin tel, eet 'n blokkie. Net nie elke aand nie.
  • Ek dwing myself om water te drink, al hou ek niks daarvan nie. Dit smaak beter warm en met 'n bietjie suurlemoensap daarby.
  • Ek wissel my oefenroetine in die gimnasium af, anders raak ek verveeld en is ek nog minder lus daarvoor."

Kontak

• Suna Kassier 033 260 5823, kassiers@ukzn.ac.za

• Rentia Lombard 072 611 4694, foodsense@live.co.za, www.foodsense.co.za

• Sunette Kotze 012 548 2762, skotze@lantic.net; www.healthline.co.za

• Marlene Vermaak 012 460 5053, mardiet@mweb.co.za