Wat is die hart?

Hieroor redeneer medici, wetenskaplikes, filosowe en digters al eeue lank. Is dit net ’n pomp wat bloed deur die liggaam laat sirkuleer, soos die beroemde hartpionier, dr. Chris Barnard, dit beskryf het? Of is dit baie meer? In die antieke tye het dokters en teoloë die hart as die liggaam se "denkende orgaan" en die "tuiste van die siel" bestempel. Ons sê immers vandag nog: "Ek het jou lief met my hele hart", "My hart is só seer" of "Jy maak my hart bly".

En nou is dit wetenskaplik bewys: Optimisme, selfvertroue en ’n positiewe uitkyk op die lewe kan dalk net so goed vir jou hart wees soos ’n vetvrye dieet. Volgens dr. Charl Stevens, mikrobioloog en mediese dokter van Hartbeesfontein in Noordwes, toon baanbreker-navorsing dat emosie nie net in die kop gesetel is nie.

Dr. Ed Blalock, ’n Amerikaanse wetenskaplike, het reeds in die jare tagtig bevind dat ons immuunselle neuropeptiede afskei, veral endorfiene - die liggaam se sg. "goedvoel-hormone".

En dr. Candace Pert het ook reseptore vir neuropeptiede in die res van die liggaam gevind. (Neuropeptiede sluit onder meer in serotonien, dopamien en nor-adrenalien). Voorheen is geglo dat neuropeptiede - of molekules van emosie - net in die brein voorkom, waar dit boodskappe oordra. Maar nou weet ons dit word oral gevind in die liggaam - in organe soos die hart en veral in die immuunstelsel.

Die gevolgtrekking: Daar is ’n vloei van inligting, wat noodwendig ook emosies insluit, deur die hele liggaam. Dit kan verklaar waarom sommige mense ná ’n hartoorplanting (of enige orgaanoorplanting) volhou hulle het van die skenker se voorliefdes, soos vir sekere kossoorte, "geërf". Hoofstroom-wetenskaplikes meen dis net "toevallig".

STOP STRES - 6 MANIERE

Charl Stevens sê as jy aandag aan jou gedagtes begin gee, besef jy hoe baie tyd en energie jy mors op herinneringe aan en berou oor dinge wat verby is. En hoeveel energie jy bestee aan verwagtinge, beplanning, bekommernis en fantasieë vir die toekoms.

Die brein rangskik inligting volgens temas. Dié temas word in neurologiese bane in die brein gebêre. Só ’n baan kan enige tyd geaktiveer word as jy ’n emosie uit die verlede herleef. Ander mense kan ook op dié “knoppie'' druk: As jy byvoorbeeld siek of moeg is. Hoe meer jy ’n sekere neurologiese baan gebruik, hoe sterker word dit. Dit word later ’n gewoonte om op ’n spesifieke baan terug te val en sekere emosies en persepsies uit die verlede te herleef. Dis veral nadelig as dit negatiewe emosies/persepsies is. Maar jy kan leer om neurologiese bane met ’n positiewe inhoud in te span.

In hul boek, Transforming Stress: The HeartMath Solution for Relieving Worry, Fatigue and Tension (New Harbinger Publications, 2005), gee Deborah Rozman en Doc Childre wenke hoe om stres in gesonde, positiewe gevoelens en kreatiewe energie te omskep. Hier is só ’n oefening:

• Trek jou hele liggaam saam: Jou tone, voete, kuite, maag, arms, rug, ens. En ontspan. Doen dit drie keer. Fokus deurentyd op jou asemhaling: Asem in . . . en uit.

• Verbeel jou jy sien jou hart, hoe hy ritmies en getrou in jou borskas klop. Dink aan ’n tyd toe jy gelukkig was en ervaar die positiewe emosies wat daarmee saamgaan.

• Dink nou aan’n kleur wat jy met dié tyd vereenselwig. Die kleur waaraan jy dink, is die regte een vir jou. Vra jou hart om dit deur jou liggaam te pomp. Visualiseer hoe dit tot by jou tone, vingers en haarpunte versprei.

• Vra ’n vraag oor jou lewe. Soos: Hoe kan ek dié situasie hanteer? Jy gaan dalk nie dadelik ’n antwoord kry nie, maar wel ’n dag of wat later!

• Doen die oefening sowat 15 tot 20 minute lank elke dag. Besoek die webblad www.heartmath.org

Paul Pearsall gee in sy boek, The Heart’s Code (Broadway Books, 1998), etlike voorbeelde. Die aangrypendste is van ’n jong paartjie, albei dokters, wat in hul motor iewers heen op pad was en rusie gemaak het. Hulle was in ’n motorongeluk en die man is dood. Sy vrou het toestemming gegee dat sy hart op ’n jong New Yorkse seun oorgeplant kan word.

Toe sy die seun later ontmoet, het sy haar hand op sy hart gesit. Hulle het albei baie emosioneel geraak en mekaar omhels. Die seun het aanmekaar ’n woord gesê  wat glad nie sin maak nie. Dis ’n woord wat jy nie eers in ’n woordeboek kry nie. Volgens sy ma het hy dit sedert die hartoorplanting begin sê. Dit blyk toe die opgemaakte woord te wees wat die paartjie gewoonlik gebruik het as hulle ná ’n rusie vrede wou maak.

Volgens Charl moet jy dít nie verkeerd verstaan nie. Jou hart is nie ’n bandmasjien wat alles uit jou verlede kan terugspeel nie. Jou kop en lyf is nie afsonderlike eenhede nie, maar ’n holistiese sisteem. Jou gedagtes en emosies, maar veral jou emosies, veroorsaak talle fisiologiese veranderings in jou lyf. Dit kan onder meer gemeet word in jou senuwee- en hormonale stelsel, jou hart en die styging/daling van jou bloeddruk.

Lewe nóú!

Dr. Piet Muller, oud-joernalis en toekomskundige van Pretoria, bied slypskole aan oor die rol van jou hart in jou geestelike en emosionele welstand. Volgens hom is die nuwe gonswoord in sielkunde mindfullness - om ten volle bewus te wees. Dit het al amper ’n cliché geword: Leef in die nou. Gister is verby. Môre het nog nie gekom nie. Die enigste oomblik wat jy het, is nóú. Net: Jy is nooit híér nie, jy is by dit wat al verby is, en dit wat nog moet gebeur. Jy kan jouself egter leer om in die nou te lewe. Identifiseer as beginpunt ’n paar “stoptekens'': Jy nader ’n verkeerslig, dit slaan rooi en jy sug. Haal liewer bewustelik asem: Asem diep in . . .  en uit. Of laat die telefoon drie keer lui voor jy dit optel. Asem intussen in . . . en uit.

In ’n Amerikaanse studie is mense in drie groepe verdeel: Optimis, pessimis en "gebalanseerdes". Daar is bevind 17% van die pessimiste, 12% van die “gebalanseerdes” en 8% van die optimiste het een of ander vorm van hartsiektes ontwikkel. Kenners beskou al lank reeds ’n opvlieënde geaardheid as gevaarlik vir die hart. Maar nou word gesê die risiko vir hartsiektes word verhoog by mense wat té veel negatiewe emosionele bagasie - soos woede, hartseer of vrees - saamdra.

Die kollig was die afgelope paar jaar veral op depressie en angs, en daar is oorweldigende bewyse dat dit jou hart se gesondheid kan beïnvloed. Een studie toon jou kanse om binne ses maande te sterf nadat jy reeds ’n hartaanval gehad het, neem viervoudig toe as jy depressief is. Die rede is dat die liggame van diegene wat chronies senuweeagtig of hartseer is, uitgelewer is aan dieselfde veg-of-vlug-respons as heethoofde s’n.

Hierdie respons lei tot hoë vlakke van streshormone, ’n versnelde hartklop en hiperaktiewe bloedplaatjies wat klonte kan vorm.

Hoe gemaak as negatiwiteit nou eenmaal jou geaardheid is?
Jy kan die fisiologiese respons omkeer deur jou hart met positiewe emosies te oorlaai. Navorsing by die HeartMath Institute in Kalifornië toon daar is ’n verband tussen jou hartklop-variasie en jou emosionele toestand. (By gesonde mense varieer die duur van die ruspouses tussen elke hartklop. Dis normaal en nie aritmie - die afwyking van die hart se normale ritme - nie). As jy positiewe gevoelens soos liefde en waardering ervaar, is die hartgolfies meer egalig uitmekaar.

Jon Kabat-Zinn,

stigter van die streskliniek by Harvard se mediese skool, illustreer die beginsel deur jou ’n rosyntjie te laat eet.
Wéét jy eet die rosyntjie.
Wat proe jy?
Hoe proe jy dit?
Kan jy die reën daarin proe?
Die son?

Die arbeid wat nodig was om dit te produseer?

Om ten volle bewus te wees is die sleutel tot die bestuur van jou emosies.

So nie, word jy deur jou emosies oorweldig. Dis dieselfde beginsels soos om tot tien te tel voor jy kwaad word. Dit gee jou kans om afstand van jou emosie te kry, sê Piet.
• Vir meer inligting oor die hartkrag-slypskole, bel Piet by 082 574 6168 of skryf aan hom by pietmul@icon.co.za

 

Die senuweestelsel raak terselfdertyd meer harmonieus en dit het ’n kalmerende uitwerking op die breingolwe. Die hart pomp meer doeltreffend en ervaar dus minder stremming. Dit lei ook tot helderheid, kreatiwiteit en beter vaardighede om probleme op te los. Daarteenoor veroorsaak gevoelens soos angs, woede en frustrasie dat die hartgolfies minder egalig gespasieer is. Dit lei tot disharmonie in die hormonale en neurologiese stelsels, en jou lyf gaan oor in die veg-of-vlug-modus.

Negatiewe emosies - met die gepaardgaande onegalige hartgolfies - strem ook jou vermoë om te redeneer en gedagtes samehangend te organiseer. Wanneer die hartgolfie-patroon van "onegalig" na "egalig" verander, stuur jy ’n "alles is wel" -boodskap na jou brein. Die hart stuur inderdaad meer boodskappe brein toe as omgekeerd. Jou hartklop-variasie vertel die brein wat die liggaam voel, die brein interpreteer die inligting en besluit wat om te doen. Só verduidelik die HeartMath Institute dit.

Charl vergelyk dit met twee horlosies langs mekaar, waarvan die pendulums se ritme verskil. Navorsing toon dat dié ritmes ná ’n paar weke ooreenstem. Dis die natuur se manier om energie te bewaar. Dieselfde gebeur met die brein en hart: As die hartgolfies "rustig" en "harmonieus" raak, raak die breingolfies ook só. (Want die hart se magnetiese veld is kragtiger as die brein s’n. Dit beïnvloed nie net jou eie breingolwe nie, maar ook dié van mense etlike meter ver!) En jy kan dit bewustelik doen.

Volgens die HeartMath Institute hoef jy net jou aandag na ’n positiewe emosie, soos waardering of liefde, te verskuif. Of herroep in jou gedagtes die gevoelens wat ’n kosbare herinnering opwek. Moenie dit net visualiseer nie, vóél dit. En jou hartgolfies raak dadelik meer egalig. “All you need is love,” sing John Lennon. Dis só eenvoudig.

Keer hartkwale

Daar is ’n teorie dat mense wat leer om hul emosionele foltering te “tem” koronêre probleme (en selfs ’n tweede hartaanval) kan voorkom. Dr. Alida Herbst is ’n senior lektor in maatskaplike werk aan die Universiteit van Noordwes (Potchefstroom-kampus) en mede-skrywer van Memory Work: Telling your Story through Life Maps (CB Powell-Bible Centre, 2006). Sy het lank met pasiënte gewerk wat ná ’n hartaanval herstel. Alida het 7 sogenaamde “lewenskaarte“ vir ’n doktorale tesis ontwikkel. Enige mens wat sy/haar lewe positief wil struktureer, móét hom-/ haarself die volgende afvra:

  • Wie is ek?
  • Waar kom ek vandaan? (Jou persoonlike geskiedenis.)
  • Waarheen is ek op pad?
  • Watter uitdagings is daar op pad na dié doelwit?
  • Wat is my plan van aksie om dit te bereik?
  • Wie se hulp het ek nodig om dit te bereik?
  • Hoe sal dit wees as ek wel die doelwit bereik?

Dié vrae omvat die verlede, hede en toekoms. Alida sê om positief te leef moet jy die verlede afgehandel of deurleef het, jy moet op die toekoms fokus terwyl jy in die hede leef. Moet dus nie tob oor die verlede, of op die toekoms gefikseer wees nie.

Lewe nóú!
Dr. Piet Muller, oud-joernalis en toekomskundige van Pretoria, bied slypskole aan oor die rol van jou hart in jou geestelike en emosionele welstand. Volgens hom is die nuwe gonswoord in sielkunde mindfullness - om ten volle bewus te wees. Dit het al amper ’n cliché geword: Leef in die nou. Gister is verby. Môre het nog nie gekom nie. Die enigste oomblik wat jy het, is nóú. Net: Jy is nooit híér nie, jy is by dit wat al verby is, en dit wat nog moet gebeur. Jy kan jouself egter leer om in die nou te lewe. Identifiseer as beginpunt ’n paar “stoptekens'': Jy nader ’n verkeerslig, dit slaan rooi en jy sug. Haal liewer bewustelik asem: Asem diep in . . .  en uit. Of laat die telefoon drie keer lui voor jy dit optel. Asem intussen in . . . en uit.

Jon Kabat-Zinn, stigter van die streskliniek by Harvard se mediese skool, illustreer die beginsel deur jou ’n rosyntjie te laat eet. Wéét jy eet die rosyntjie. Wat proe jy? Hoe proe jy dit? Kan jy die reën daarin proe? Die son? Die arbeid wat nodig was om dit te produseer? Om ten volle bewus te wees is die sleutel tot die bestuur van jou emosies. So nie, word jy deur jou emosies oorweldig. Dis dieselfde beginsels soos om tot tien te tel voor jy kwaad word. Dit gee jou kans om afstand van jou emosie te kry, sê Piet.
• Vir meer inligting oor die hartkrag-slypskole, bel Piet by 082 574 6168 of skryf aan hom by pietmul@icon.co.za

Eet lekker - kroek reg!

’n Dieet met min versadigde vette is goed vir jou hart. As jy gesond wil kroek ... Martie de Wet, dieetkundige van Roodepoort, vertel hoe.

  • As jy pizza eet, maak ’n groot bak slaai (sonder of met ’n laevet-slaaisous) daarby. Eet die slaai as voorgereg en jy sal minder pizza eet.
  • Kies soveel moontlik groente vir die pizza se bolaag. Hoe minder vleis, hoe laer die vetinhoud. As jy lus is vir iets vleiserigs, kies net een soort soos hoender of ham, wat laevet bevat. (Anders as spek, salami, worsies,maalvleis, ens.) Jy kan die pizza ook sonder of met min kaas bestel. Klad die pizza met ’n servet - dit sal van die vet absorbeer.
  • Dis ou nuus dat jy ’n tjoppie se vet en hoender se vel moet verwyder. Maar moenie diervet heeltemal vermy nie.
  • Vetterige vis soos tuna, sardiens, makriel en salm (die donkervleis-snitte) bevat omega 3-vetsure wat goed is vir jou hart.
  • Vervang die room in ’n resep deur laevet- of vetvrye jogurt, of laevet-, ingedampte melk. Die vetinhoud kan só met tot 120 g per resep verminder word.
  • In gebakte produkte (soos muffins, pannekoek, koek, ens.) kan die olie in die resep deur ’n gelyke hoeveelheid appelsap vervang word.
  • Een klein vrugtetertjie met ’n kors is gelykstaande aan 6 bakkies van dieselfde soort vars vrugte.
  • Vermy enige gebak in ’n degie of kors. Eet eerder vars vrugte met laevet-jogurt of laevet-vla.
  • Kies ’n sous met ’n tamatiebasis vir pasta, eerder as ’n roomsous.
  • Bedek ’n gebakte aartappel met laevet- of vetvrye maaskaas (gegeur of ongegeur). Vermy roomsouse, botter, mayonnaise en suurroom.
  • Drink laekilojoule-sjokoladedrankies met vetvrye melk. Dit sal jou lus vir sjokolade (wat meestal versadigde vette bevat) ook beteuel.
  • Peusel aan pretzels. Dit bevat minder vet as aartappelskyfies. Vervang ’n room- of mayonnaise-doopsous deur laevet-maaskaas of ’n jogurt-doopsous. Of smeer ’n pita-broodjie met ’n bietjie olyfolie, geur met kruie en speserye, en rooster in die oond tot bros. Sny in skyfies en doop in laevet-doopsouse. Eet saam met skyfies komkommer en gekerfde groente soos wortels.
  • Drink ’n cappuccino met vetvrye melk.

    Nog bronne: Why Do We Feel the Way We Feel? deur Candace Pert op www.angelfire.com;www.odemagazine.com; www.harvard.magazine.com; www.webmd.co


Advokadopeer Tamaties Pizza Vrugteslaai