Wat is jou grootste mediese dilemma? Ons het SARIE se Facebook-vriende gevra, en hier’s jul kwellings. En ons voorste kenners se raad.

Migraine

Migraine-pyn het sy oorsprong in sekere are in die kop en kopvel, terwyl ’n hoofpyn deur spanning in die spiere van die kop, gesig en nek veroorsaak word.

Kenner: Dr. Elliot Shevel, stigter van die Migraine-en-hoofpynkliniek in Johannesburg.

  • Identifiseer die snellers wat vir jou pyn verantwoordelik is, soos byvoorbeeld rooiwyn, en vermy dit dan so ver moontlik.
  • Hou ’n hoofpyn- of migraine-dagboek. Skryf dan neer wat en hoe laat jy elke dag eet, hoe laat jy ’n hoofpyn kry en hoe lank dit aanhou.
  • Skryf ander moontlike oorsake neer, soos spanning, lang ure agter die stuurwiel of baie tyd voor die rekenaar. Kyk dan of jy ’n patroon kan raaksien.
  • Doen ontspannende aktiwiteite soos joga om stres en spanningshoofpyne te keer, of eet klein hoeveelhede sjokolade as dit hoofpyne aanwakker eerder as ’n groot blok op een slag.
  • Indien jy ’n hoofpyn kry wanneer jy voor die rekenaar was, het jy moontlik ’n swak postuur. Probeer gemaklik sit – regop, maar effens agteroor, met jou arms ontspanne langs jou sye en jou voorarms wat rus op die tafel. Die stoel moet ook net hoog genoeg wees dat jy reguit voor jou kan kyk en nie jou nek aanhoudend hoef te buig nie.

Sinusitis

Daar is 14 tot 20 sinuskanale in die kop, wat by die neus begin en ’n netwerk agter die wangbene en oë vorm, tot so diep as oorvlak. Wanneer die slymvliese in dié kanale aangetas is, het jy sinusitis.

Kenner: Dr. Poens van der Merwe, ’n oor-, neus- en keelspesialis en sinuschirurg van die Neus-en-sinussentrum in Kaapstad.

  • Vermy allergene, indien moontlik, om simptome te verlig. ’n Matras-oortreksel wat jou beskerm teen die miet en stof wat in ’n matras versamel, kan help.
  • Indien jy die allergene of irritante nie heeltemal kan vermy nie, moet jy jou neus en sinuskanale gereeld met ’n soutwater-oplossing uitspoel. Meng twee teelepels sout en een teelepel koeksoda in ’n koppie water en gebruik dan ’n inspuitingbuis om dit in jou neus op te spuit. Mik na die buitehoek van jou oog sodat jy dit nie net in jou septum vasspuit nie.
  • Vermy medisinale neussproeimiddels, wat jou neus kan uitdroog. Vermy ook antihistamien-medikasie en pille vir sinusitis sover moontlik, want dit is nie goed vir jou om dié medisyne op lang termyn te gebruik nie.
  • In erge gevalle kan jy ’n kortisooninspuiting kry om allergiese reaksies te verbeter, solank dit nie gereeld is nie, en jy kan pynpille soos Panado drink vir sinushoofpyne.

Onderaktiewe skildklier

’n Eenvoudige bloedtoets kan bepaal of jou skildklier normaal funksioneer. Dit is noodsaaklik om ’n onderaktiewe skildklier te behandel. Indien jy die simptome ignoreer, kan jou hart, brein, spiere, kolon en lewer beskadig word en erge skildklierprobleme kan lewensgevaarlik wees.

Kenner: Dr. Joel Dave, ’n endokrinoloog van Kaapstad.

  • Die enigste behandeling wat help, is hormoonvervangingsterapie (HVT) vir die hormoon wat jou skildklier natuurlik afskei.
  • Beter leefstylkeuses kan ook van die simptome verlig, soos gesonde eetgewoontes om gewig te verloor of hardlywigheid te voorkom, maar dit sal nie die skildklier self beter laat funksioneer nie.

KLIK HIER vir oplossings vir ’n spastiese kolon en fibromialgie

*Die artikel is aangepas uit ’n gesondheidstorie uit SARIE Februarie 2013

Nóg gesondheidstories