Dis net voor jou maandstonde en jy voel nukkerig, geïrriteerd en heeltyd lus vir peusel. Dit verg al jou deursettingsvermoë om steeds die "regte" kosse te eet - veral lae GI-kosse.

Maar hoor hier: 'n Onlangse studie onder Japannese vroue het gewys vroue met PMS voel beter ná 'n maaltyd met hoë GI-kosse. Die koolhidrate in 'n hoër GI-maaltyd help skynbaar om die konsentrasie van die belangrike aminosuur triptofaan te verhoog. Dié aminosuur help om die goedvoel-breinstof serotonien te vervaardig. Gesonde hoë GI-keuses: druiwe, waatlemoen, kapokaartappels, mango's, appelkose (vars), pynappels, rosyne en volkoringbrood.

Vergeet dus van jou skuldgevoelens en luister in dié geval na jou lyf. Lae GI-kosse is nie die begin en einde van gesonde eetgewoontes nie. Dis slegs 'n bousteen en jy hoef dit nie altyd slaafs na te volg nie.

*Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za.