Ursula Andress is op 73 steeds beeldskoon. Sy ski en swem gereeld en stap elke dag kilometers ver. Maar dalk nie meer vir lank nie. Sy is agt jaar gelede met osteoporose gediagnoseer. Volgens die Britse Daily Mail (www.dailymail.co.uk) het sy lank ontken hoe ernstig haar toestand is. Totdat sy ontdek het haar heupe is breekbaar bros.

"Ek wil nie 'n kruppel ou vroutjie wees nie, krom en net in staat om met moeite vorentoe te skuifel. Ek wil dan liewer nie leef nie. My dokter het my destyds gewaarsku ek moet medikasie neem om te keer dat my bene verder verswak. Daar was egter nie pyn nie, daar was nie enige waarskuwing nie. Maar dis hoe dit is met dié siekte. Jy gaan soos altyd aan, jy besef nie jou bene het soos glas geword nie," sê sy.

 

Ek wil nie 'n kruppel ou vroutjie wees

 

"Ek was altyd sportief, ek het goed geëet (ook suiwel), bitter min alkohol gedrink en nooit gerook nie. Ek is post-menopousaal maar het nie ander risikofaktore nie. Ek het dus nie die diagnose ernstig opgeneem nie."

Tot sy verlede jaar weer vir 'n beendigtheidstoets gegaan het en moes hoor haar bene het baie agteruitgegaan. As sy nie haar medikasie getrou drink nie, is 'n beenbreuk binne die volgende paar jaar 'n werklikheid. Sy hoef maar net te struikel . . .

"Bene kan nie met 'n stukkie pleister geheg word nie; dis ernstig en ek móét my medikasie drink," het sy volgens die Daily Mail gesê.

Jóú risiko om in jou leeftyd osteoporose te kry is 1 uit 3 as jy 'n vrou is en 1 uit 5 as jy 'n man is. Dit kom gewoonlik by mense ouer as 50 voor (hoewel dit ook vroeër kan gebeur). Jy kan egter in jou vroeë twintigs reeds been begin verloor, al is die eerste teken 'n beenbreuk jare later. Dit word nie verniet die "stil siekte" genoem nie.

Maar dis nié 'n natuurlike deel van ouer word nie. En jy is nooi te jonk óf te oud om stappe te doen om dit te voorkom nie, sê Teréza Hough van die Nasionale Osteoporose Stigting van Suid-Afrika (NOFSA).

WAT IS OSTEOPOROSE?

Dis 'n verlies aan beenweefsel wat lei tot bros bene, wat dan geneig is om te breek. Veral die nek van jou heupbeen, jou polsgewrigte en rugwerwels is kwesbaar. Laasgenoemde swakheid veroorsaak die sg. "weduweeskof " of verkromming van die ruggraat by ouer vroue.

Teréza verduidelik dit só: Beenweefsel is "lewendig": Ou weefsel word voortdurend afgebreek en met nuwes vervang. As dié balans versteur word, word óf te veel ou been afgebreek, óf te min nuwes gemaak. Die gevolg is beenverlies, veral die binneste deel van die been. Jou skelet word poreus - swak en bros.

By vroue is die vernaamste rede hiervoor 'n gebrek aan estrogeen, wat jou skelet teen beenverlies beskerm - veral ná die menopouse. Ook te min kalsium in jou dieet. Jou liggaam onttrek dit danuit jou skelet. Oorsake by mans sluit in alkoholisme, steroïed-gebruik en 'n testosteroontekort.

Osteoporose kán behandel word. 'n Kombinasie van leefstyl-aanpassings en medikasie kan beenbreuke by vroue wat reeds daaraan ly met sowat 50% verminder.

Die statistieke

* Dis die hoofoorsaak van beenbreuke by ouer mense.
* Tot 20% van hulle sal binne 'n jaar ná so 'n beenbreuk sterf weens komplikasies soos longontsteking of 'n bloedklont.
* 1 uit elke 4 vroue wat die breuk oorleef, is daarna permanent bedlêend, terwyl nog 2 nie weer sonder hulp sal kan loop nie. 1 sal herstel - totdat sy wéér val.
* Daar beland méér vroue bo 50 weens osteoporose in die hospitaal as weens siektes soos diabetes en borskanker, sê Teréza.

Jou risiko is ook groter as jy

* Vroulik is.
* Wit, bruin of 'n Asiër is. (Maar plaaslike swart vroue kan dalk nét so 'n groot kans hê op osteoporose van veral die rugwerwels.)
* Kort, maer en tingerig is.
* Jou menopouse voor 45 ervaar het (weens natuurlike oorsake, of omdat jou baarmoeder en eierstokke verwyder is).

OORSAKE
Wat jy nié kan verander nie
    •    Dit kom in families voor.
    •    Hoe ouer jy word, hoe groter is jou risiko.

Wat kan jy wél verander?

Jou kinder- en tienerjare: Volgens Teréza is een van die beste voorkomende maatreëls om in dié tyd sterk bene te bou. Dis veral belangrik dat jy genoeg kalsium inneem. Jou skelet groei aanmekaar van geboorte af tot aan die einde van jou tienerjare (rondom 25). Been word nou vinniger gevorm as afgebreek, wat jou bene digter en groter maak. Dus moet jy in dié tyd been in jou "beenbank" deponeer. Hoe hoër jou been-piekmassa is (die maksimum digtheid wat jou bene bereik), hoe meer been kan jy later verloor - sónder die gevaar van osteoporose.

Kalsium bly egter regdeur jou lewe belangrik: Al word daar ná 25 nie meer been gebou nie, help kalsium jou om dít wat jy het, te behou.

Die probleem: Kinders en tieners kry toenemend nie genoeg kalsium in nie. Amerikaanse meisies se inname is bv. net 60% van wat dit moet wees. Dis dalk omdat baie kinders nie meer 'n behoorlike ontbyt eet nie, wat tradisioneel 'n verskeidenheid kalsiumryke kosse insluit. Hulle drink ook koeldrank en nie melkprodukte nie - baie tienermeisies glo melkprodukte maak vet.

'n Dieetversteuring en/of oormatige oefening kan boonop lei tot 'n afname in estrogeenvlakke (jy hou dan op met menstrueer). Dié hormoon is by vroue belangrik om beenweefsel te laat groei en in stand te hou.

 

Kinders en tieners kry toenemend nie genoeg kalsium in nie.

 

Sport en oefening: Jong been reageer beter op oefening as volwasse been. (Hoewel dit ook by volwassenes noodsaaklik is vir gesonde been.) Gewigdraende oefening (stap, gimnastiek, aërobieseoefening in die gimnasium, balspeletjies, dans en tennis) is beter as niegewigdraende oefening (soos fietsry en swem).

Kinders en adolessente wat gereeld oefen se beenmassa neem beduidend toe.


Wat van koffie, sout, rook, alkohol en medisyne?

  • Te veel sout is 'n risikofaktor.
  • Daar is geen klinkklare bewyse dat koffie 'n rol speel nie.
  • Rokers se beenmassa is 15% tot 25% laer as nie-rokers s'n. Sekondêre rook is óók sleg vir jou bene.
  • Alkohol: Vroue moenie meer as 2 drankies en mans 3 drankies per dag drink nie.
  • Medisyne: Die volgende medikasie (onder meer) meng in met die opname van kalsium en onderdruk die vorming van nuwe been: lakseermiddels, teensuurmiddels, waterpille, kortisoon en medikasie vir epilepsie.
 

Melk en osteoporose

Daar is 'n hipotese dat melkprodukte en ander proteïenryke kosse sleg vir jou gebeente is. Die proteïen in melk en vleis maak glo jou liggaam suurder en dit gebruik dan alkaliese beenmateriaal soos kalsium as buffer.

Maar organisasies soos NOFSA en die Internasionale Osteoporose Stigting (IOF) hou vol melk is 'n uitstekende kalsiumbron.

Teréza Hough sê dit bevat boonop ander voedingstowwe wat nodig is vir beengesondheid, soos proteïene en vitamien D.

Daar ís ander bronne van kalsium, soos kool, broccoli en sade, maar om bv. 'n koppie melk se kalsium in te kry moet jy meer as 600 g gaar broccoli eet.

Die meeste studies wys as jy proteïen matig gebruik, is dit goed vir jou skelet. Beperk dit egter tot 75 g per dag.

Wat as jy laktose-intolerant is?
(Jou liggaam kan nie die laktose in melk absorbeer nie. Dit moet deur 'n dokter gediagnoseer word, want ander toestande soos 'n prikkelbare derm kan daarmee verwar word.) Jy kan steeds gefermenteerde suiwelprodukte (bv. jogurt) eet. Of koop melk waarvan die laktose verminder is.

Volgens Teréza absorbeer jou liggaam kalsium uit aanvullings net so goed as uit melk. Neem kalsiumaanvullings wat ook vitamien D bevat. Of kom 10 tot 15 minute per dag in die son.

PASOP! RISIKOFAKTORE

    •    Jy het 'n eetversteuring soos anoreksie gehad, of só hard geoefen dat jy ophou menstrueer het.
    •    Jou ma, ouma of tannies het osteoporose, of tekens daarvan (bv. 'n weduweeskof).
    •    Jou menopouse was voor 45.
    •    Jy is fyn gebou en weeg minder as 55 kg.
    •    Jou hare en vel is lig.
    •    Jy drink baie en/of rook.
    •    Jy moes al langer as ses maande kortisoon gebruik.

Neem NOFSA se een-minuut-risikotoets: Besoek www.osteoporosis.org.za/risk.htm.

'n Beendigtheidstoets (gesofistikeerde x-strale) is tans diebeste voorspeller vir beenfrakture. Kry een as jou risiko op osteoporose hoog is (meer as 13 punte op die risikovraelys op NOFSA se webwerf). As jy post-menopousaal is, kry 'n beendigtheidstoets voor jy met hormoonvervangingsterapie begin. Jou dokter kan jou verwys. Indien jy osteoporose het, moet 'n spesialis jou behandel.

Hoeveel kalsium het ek nodig?

* Baba:Sowat 400 mg p/d
* Kinders en adolessente (10 - 18 jaar):1 300 mg p/d
* Volwassenes:1 000 mg p/d
* Swanger of borsvoedende vroue:1 500 mg p/d
* Post-menopousale vroue op HVT:(lg. beskerm jou beendere) 1 000 mg p/d
* Post-menopousale vroue nie op HVT nie:1 500 mg p/d
* Bejaardes (bo 65):1 000 - 1 200 mg p/d
 

Bron: Teréza Hough van NOFSA

Hoeveel kalsium in . . . ?

Sorg dat jy sowat 5 porsies kalsium per dag inkry.

  • Melk (Volroom) 236 ml = 278 mg kalsium
  • Melk (Laevet) 236 ml = 283 mg kalsium
  • Melk (Afgeroom) 236 ml = 288 mg kalsium
  • Jogurt gewone laevet 150 g = 243 mg kalsium
  • Maaskaas 112 g = 142 mg kalsium
  • Mozzarella 28 g = 101 mg kalsium
  • Cheddar 40 g = 296 mg kalsium
  • Vye 4 vrugte/220 g = 506 mg kalsium
  • Broccoli (gekook) 112 g = 45 mg kalsium
  • Appelkose (rou, sonder pitte) 160 g/4 vrugte = 117 mg kalsium
  • Lemoen (1 geskilde vrug) 160 g = 75 mg kalsium
  • Amandels (12, heel) 26 g = 62 mg kalsium
  • Sardyne (geblik in olie) 4/100 g = 500 mg kalsium
  • Brood (volkoring) 1 medium-sny = 32 mg kalsium

Bron: Teréza Hough van NOFSA

Kontak
NOFSA by 0861 102 265 of besoek www.osteoporosis.org.za