Nat King Cole slaan die spyker op die kop met dié Charlie Chaplin liedjie. Navorsers vind al hoe meer jy kan jou bui verbeter deur net jou gesigsuitdrukking te verander. Hulle verstaan nog nie so mooi hoekom nie, maar vermoed daar is ’n neurologiese skakeling tussen jou gesigsuitdrukking en jou brein.

’n Reeks studies wil dit nou ook laat lyk asof vroue wat Botox in hul voorkop laat inspuit, gelukkiger is. Dat dit moontlik selfs ook ons gemoed lig! Botox, plaaslik die gewildste niechirurgiese kosmetiese prosedure, se uitwerking kan dus verder strek as ’n gladder, plooilose vel. En dis nie net omdat jy beter lyk en dus meer selfvertroue het nie.

Jou voorkop-spiere is vir kwaai of hartseer gesigsuitdrukkings verantwoordelik. En die verlamming daarvan kan dalk ’n belediging se steek versag, of die trane uit ’n tranetrekker haal. Moontlik omdat dit jou persepsie van die buitewêreld beïnvloed, volgens die tydskrif PsychologyToday.

Botox word vir mediese toestande gebruik, soos oogspier-afwykings, migraine, oormatige sweet en serebrale paralise (’n brein abnormaliteit wat lei tot swakheid en gebrek aan koördinasie van ledemate). Al dié toestande het te doen met ooraktiewe spiere en Botox help omdat dit jou spiere verlam.

Depressie volgende?

Dr. Eric Finzi, ’n Amerikaanse dermatoloog, het in 2006 opslae gemaak met ’n klein studie wat aangedui het vroue se depressie verbeter wanneer Botox hul gesigspiere verlam. Botox is naamlik in tien vroue – nege met depressie en een met bipolêre afwyking – se voorkop gespuit. Ná tien maande het al nege met depressie se simptome verdwyn, en selfs die een met bipolêre afwyking se toestand was beter. Finzi het summier Botox as antidepressant gepatenteer, volgens die webblad www.webmd.com

Die beginsel is eenvoudig: Daar is terugvoer van jou liggaam na die brein toe. Jou brein weet dus altyd wat jou liggaam doen, sê dr. Marc Axel Wollmer, ’n psigiater aan die stuur van ’n groot gesamentlike Switserse/Duitse studie wat Botox tans op mense met min tot matige depressie toets.

Lyk beter, voel beter?

’n Mens kan nou sê die vroue se selfwaarde het ná die Botox-prosedure verbeter en dat hulle daarom meer positief was.

“Ek sien dit gereeld in my praktyk,” sê dr. Riekie Smit, voorsitter van die SA Vereniging vir Estetiese en Teenverouderdingsmedisyne (AAMSSA). “As Botox jou plooie wegtoor, voel jy beter oor jouself en jy sien kans om nuwe dinge aan te pak.” Maar die antwoord is ook meer kompleks. “Die verbetering in jou geestesgesondheid het niks te doen met jou nuwe voorkoms nie. Ek het al vroue behandel met geen plooie nie en selfs hulle het beter gevoel,” het Eric Finzi aan PsychologyToday gesê.

Sielkundiges glo ons gesigsuitdrukkings wys nie net ons emosies nie,maar help om daardie emosies te skep.Dit word die gesigsterugvoerhipotese genoem. Jy glimlag bv. dapper op ’n partytjie om sosiaal te prober wees, al voel jy nie naastenby vrolik nie. En dan voel jy tog beter. Of jy frons in meegevoel met iemand en voel dan ook “af ”.

Jou brein is ’n tweerigting-inligtingskanaal. As jy ’n emosie voel, registreer dit op jou gesig. En wanneer dít

 

Kosmetiese chirurge sê die meeste vroue verkies om nie ’n gevriesde, emosielose uitdrukking te hê nie.

 

gebeur, registreer dit weer in jou brein. Jy maak staat op dié sirkelterugvoer om jou eie emosies te herken.

Die “lees” van jou eie gesigsuitdrukking help jou om te herken dat jy ’n spesifieke emosie ervaar. Dus: Jy frons omdat jy hartseer is. Maar jy ervaar ook die hartseer meer intens juis omdat jy frons, volgens PsychologyToday.

Botox word meestal in die spiere gespuit wat jy gebruik om te frons – en nie dié wat jy nodig het om te glimlag nie. Kan jy dus negatiewe emosies verdoof as jy die hoofspiere verantwoordelik vir negatiewe gesigsuitdrukkings buite aksie stel?

As jy ’n pen tussen jou tande vasbyt, verstaan jy die emosionele inhoud van taal wanneer oor ’n aangename situasie gepraat word vinniger as wanneer jy dit met jou lippe vasklem, wys nog ’n studie. In eersgenoemde geval word jy gedwing om baie van dieselfde spiere te gebruik as wanneer jy glimlag.

Gebruik jy egter jou lippe, span jy spiere in wat keer dat jy glimlag. Net deur die betrokke spiere te gebruik wek jy klaarblyklik onbewustelik die ooreenkomstige emosie op. Dis dan makliker (as jy die pen tussen jou tande vasklem) of moeiliker (jy gebruik jou lippe) om die beskrywing van ’n aangename situasie te verstaan, skryf PsychologyToday.

Sulke studies is deel van ’n groeiende tendens in die sielkunde wat op gedragsveranderinge fokus eerder as sogenaamde praat-terapie. Dit kan opgesomword deur Alkoholiste Anoniem se leuse: Fake it till you make it. Kognitiewe gedragsterapie leer jou bv. om bewustelik stadiger asem te haal tydens angsaanvalle. ( Jy hiperventileer gewoonlik.) En om nie met ’n lang gesig te loop as jy depressief voel nie. Só word die fisiologiese-terugvoersiklusse van sekere toestande verbreek, sê Time Magazine.

Oppervlakkig?

Maar wat van vroue wat net een keer vir Botox-inspuitings gaan? vra die Britse glanstydskrif Red. Is dit dalk omdat hulle nie van die emosionele gevolge hou nie?

Die spiere in jou voorkop wat deur Botox verlam word, word aan woede en stres gekoppel. Botox word egter ook dikwels gebruik vir spiere wat belangrik is vir positiewe emosies, bv. rondom jou oë. Dis dié spiere wat nodig is om warm te kan glimlag.

’n Klein Britse studie, gepubliseer in die Journal of Cosmetic Dermatology, het gevind Botox kan jou minder depressief, angstig en geïrriteerd laat voel. Maar die navorsers het gemaan dis voortydig om nou al Botox as ’n behandeling vir depressie te sien net omdat dit jou bui verbeter. Die probleem is dat dit spiere verlam wat nodig is vir kommunikasie, selfs al is dit dan ook negatiewe kommunikasie. Al het dit dus die potensiaal om jou bui te verbeter is dit moeilik om nou al die ander (dalk negatiewe) gevolge te voorspel.

Die penbyt-studie waarna hierbo verwys, toon Botox kan die prosessering van emosie vertraag. ’n Opvolgstudie in die Journal of Psychological Science bevestig dit. Altesame 41 mense is geëvalueer voordat hulle die eerste keer Botox gekry het – en weer twee weke daarna. Hulle moes telkens gelukkige, hartseer of kwaai stellings lees en daarna ’n knoppie druk om te wys hulle verstaan die teks. Ná Botox het dit hulle langer geneem om die hartseer en kwaai stellings te verstaan. Daar was egter geen verskil met die prosessering van gelukkige inligting nie.

Jou gesigsuitdrukking is sosiaal noodsaaklik, sê David Havas, leier van die studie. Stel jou voor jy gesels met iemand en sy probeer jou vertel sy is hartseer. Stel jou nou voor jy is net ’n bietjie stadig om te snap wat sy probeer sê. Dit kan die indruk wek dat jy nie regtig verstaan of omgee nie.

’n Kliniese sielkundige skryf in PsychologyToday: Hoewel jy steeds emosies soos hartseer en woede gaan ervaar, strem Botox die terugvoer wat nodig is om jou eie gevoelens te ontleed. Dit kan ook jou vermoë aantas om ander se pyn te verstaan en empatie met hulle te hê. Baie mense is reeds nie in voeling met hul emosies nie – selfs sonder Botox. As jy minder bewus van negatiewe emosies is, mis jy ’n belangrike innerlike sein dat iets verkeerd is met jouself en ander.

As jou vermoë om empaties te wees aangetas is, raak dit ook jou vermoë om gesonde, ondersteunende verhoudings te hê. Op lang termyn kan dit lei tot ongelukkigheid, angs of ’n knaende gevoel dat iets verkeerd is.

Mr Spock se Sussie

Kosmetiese chirurge sê die meeste vroue verkies om nie ’n gevriesde, emosielose uitdrukking te hê nie.

“Jy moet steeds jou gesig kan beweeg. Dis veral belangrik op jou voorkop, anders kan jy nie jou wenkbroue beweeg nie. As jy emosieloos lyk, is die Botox verkeerd gedoen,” sê Riekie. Maar jy hoef nie Botox te kry vir die voordele van gesigsterugvoer nie.

In ’n Britse studie is deelnemers eenvoudig gevra om op te hou frons – en daarna is hul emosionele welstand gemeet. Die uitkoms was soortgelyk as die Botox-studies waar mense se gesigspiere verlam en hul gemoedstoestand toe gemeet is. Die navorsers sê: “Dis net so doeltreffend om bewustelik op te hou frons as omBotox in jou voorkop te laat spuit.” (Sien bl. 63 onder Om te weet: Verbeter jou bui – sonder Botox.)

Dus: Glimlag meer en mense sal meer positief teenoor jou reageer – en jyself sal ook sommer beter voel.

Nog inligting

Kontak Riekie Smit: 012 548 6374

Nerina Wilkinson: 021 422 4811

Bronne: Psychology Today 7 Januarie

2010, 31 Januarie 2010, 15 Februarie

2010, 16 Junie 2010;

Time Magazine 31 Maart 2009; Red September 2010