Die sokkerheld David Beckham het meer as 40 op sy lyf. En die sanger Justin Bieber 64. Vir party is 'n tatoe iets persoonliks, iets met 'n dieper boodskap. Nog sien hul lyf as 'n langtermyn-kunsprojek. Maar kan jy verslaaf raak aan tatoes?

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Die gewilde aktrise Diaan Lawrenson het haar dogtertjie, Olivia Rose, se naam op haar voet. 

"Oor 'n maand kry ek my seuntjie, Thomas, se naam op my lyf. Tatoes het 'n storie. Dit beteken iets vir my."

Sy is geensins verslaaf daaraan nie. Haar akteurman, Jody, het weer 'n tatoe van sy stiefpa se naam op sy arm (hy is onlangs oorlede). "Dit beteken iets vir hom.’’

Diaan Lawrenson en haar seun, Thomas. FOTO Instagram / Diaan Lawrenson

Tatoes is so hoofstroom soos gaatjies in die ore – of 'n horlosie, kan jy amper sê.

Maar wanneer is dit té?

Volgens 'n artikel in die ernstige Britse koerant The Guardian het David Beckham onlangs nog 'n stukkie lyfkuns tot sy versameling van 40 gevoeg – dié keer van 'n sonnestelsel.

Marlize Heppell, kliniese sielkundige van Klerksdorp in Noordwes, sê Amerikaanse navorsing wys 44 persent van studente het minstens een tatoe. "Meer vrouestudente as mans het tatoes en die meeste van hulle het meer as een," vertel sy. Die hoofredes: die behoefte om jouself uit te druk en om uniek te voel.

"'n Mens skei die streshormoon adrenalien en die goedvoelhormoon endorfien af as jy 'n tatoe laat aanbring – met dieselfde verslawende uitwerking op die lyf as oefening en om 'n orgasme te kry. Na die proses om 'n tatoe aan te bring word verwys as in the zone."

Tanya O’Conner, kunstenaar, blogger en selfhelp-skrywer van Gordonsbaai, kan hiermee identifiseer: "Die eerste halwe sentimeter wat die naald op jou lyf prik, is seer. Daarna skei jy adrenalien af en gesels met die tatoekunstenaar soos met 'n sielkundige. Niks skok hulle nie.

"Maar dikwels gebeur dit in stilte en jy hoor net die ge-brrr van die naald wat in jou vel indring en die oomblik word verewig op jou lyf. Jy voel dit, jy beleef dit. Jy leef letterlik.

"Ek kan nie ophou daarmee nie, elkeen vertel 'n storie van 'n deel van my lewe. Op my nek staan vini, vidi, vici – I came, I saw, I conquered. Op my regterarm is 'n wringsleutel: Jy kan maar draai, ek sal nie breek nie. Ek het in 2013 begin en het al 23 tatoes."

Francois Hougaard is nie spyt nie. FOTO Instagram/ Francois Hougaard

In SARIE (Februarie 2017) erken die rugbyspeler Francois Hougaard, bekend vir sy vele tatoes: "My lyf is my joernaal, my tatoes vertel my storie."

Om 'n tatoe aan te bring is 'n keuse. "Maar daar kan gevra word of jy werklik beheer het oor jou keuse," meen Marlize. "Word jou tatoes se ontwerp nie dikwels deur die kunstenaar bepaal nie ... En in hoe 'n mate laat jy toe dat jy opgesweep word deur hom?"

Maar tatoes word nie meer verbind met rebellie nie. Die sielkundeprofessor Viren Swamik van die Anglia Ruskin-universiteit in Engeland het 'n voëltjie, blom en etniese tatoe wat hy op agtien gekry het, onlangs laat verwyder. Hy het 'n studie oor tatoes gemaak en glo dis bog dat jy daaraan verslaaf kan raak. "Jy kan aan pyn verslaaf wees. Of aan mense se komplimente vir jou tatoes. Of jy kan aan die tatoekuns verslaaf wees. Voor die jare tagtig is mense met tatoes dalk gestereotipeer. Navorsing het toe daarop gedui dat mense met tatoes aggressiewer is, meer dwelms gebruik en rook, en groter risiko’s neem. Vandag het die meeste mense tatoes," is die slotsom waartoe hy kom.

Nou ja toe: Kanada se premier, Justin Trudeau, die voormalige Mej. SA Melissa Bam, aktrise Angelina Jolie, eks-rugbyspeler James Small, model Christina Storm, sangeres Britney Spears, noem maar op, hulle het een of twee of …