Verwerk deur Lydia van der Merwe

DIE REKENAAR IN JOU KOP 

  • Ons gebruik net 10% van ons brein! Sowaar? Dis ’n mite. Wat wel waar is, is dat jy dalk op ’n gegewe tydstip, soos wanneer jy rus of dink, slegs 10% aan daardie spesifieke aktiwiteit afstaan. Jy gebruik elke deel van jou brein (hoewel nie noodwendig gelyk nie) en die grootste deel daarvan is heeltyd aktief.
  • Die brein weeg sowat 1,5 kg – dis 2% van jou liggaamsgewig – en tog gebruik dit tot 20% van die liggaam se energie (of kilojoules).
  • Kan jy dus die vetjies laat wegsmelt deur hard te dink? Ongelukkig nie! Jy verbrand nie juis meer energie nie. Die dele van die brein wat dan ingespan word, verteenwoordig ’n te klein deeltjie daarvan. Die meeste van die energie wat die brein gebruik, is om jou aan die lewe te hou: vir asemhaling, hartklop, spysvertering, ens. Gaan sny dus eerder gras as om hard te sit en dink. Jy verbrand baie meer kilojoules (kJ) met fisieke oefening: met skopboks sowat 42 kJ/minuut en stap 17 kJ/minuut, teenoor lees se 6 kJ/minuut.

Het jy geweet: Jy verbrand sowat 60-75% van jou totale daaglikse kJ sonder om ’n vinger te verroer. Jou liggaam gebruik dit om sy basiese funksies uit te voer. (Basale metaboliese tempo of sofapatat-kJ genoem.)

HOEKOM IS JOU ORE SO GROOT?

Word jou neus en ore groter soos wat jy ouer word en hou dit dus deur jou lewe aan met groei? Inderdaad, ’n konstante “groei” van 0,22 mm per jaar. Die langste gemiddelde lengte word op 85 jaar gemeet. Na regte groei dit nie regtig nie, dis bloot ’n illusie. Dis die bindweefsel (kollageen en elastien) wat met ouderdom verswak. Dié verlies aan elastisiteit laat swaartekrag sy tol eis. Die neus en ore is die enigste twee organe wat van kraakbeen gemaak is en buite die liggaam sit. En dis juis hulle wat aan die swaartekrag blootgestel word. Die verlies aan velsterkte en soepelheid veroorsaak dat die neus begin “hang” (droop). En dat die ore verleng en in grootte toeneem (sag). Swaar oorbelle vererger dit. Swaartekrag veroorsaak ook die klein, pers spatare op ons bene soos ons ouer word – weer eens weens die bloedvatwande se verlies aan elastisiteit en swaartekrag. Ook die borste, ooglede en skrotum word nie gespaar nie. 

HOEKOM DROOM ONS?

Niemand weet nie. Ons droom gemiddeld 6-20 minute per nag en ons vergeet sowat 95% van wat ons droom. Die meeste mense droom in kleur (80%), maar dit kan ook in swart-wit wees. Diere droom, so ook blindes. Baie mense se drome stem ooreen – soos dat jy gejaag of aangeval word, kan vlieg en nie kan beweeg nie (vries), om net ’n paar te noem. 

DOGTERTJIE OF SEUNTJIE? HIER’S DIE RESEP

Vinnig ’n biologie-les. ’n Baba se geslag word bepaal tydens bevrugting. ’n Chromosoom van die spermsel, ’n X of Y, smelt saam met die Xchromosoom van die eiersel (ovum). Dit bepaal of die baba vroulik (XX) of manlik (XY) gaan wees. NOU Manlike of Y-sperms swem vinniger as vroulike of X-sperms, maar het ’n korter lewensduur. Die manlike sperm lewe slegs 24 uur of korter. Die vroulike sperm, daarenteen, het ’n gemiddelde lewensduur van 24-48 uur of, in uitsonderlike gevalle, selfs 72 uur. As jy dus ’n seuntjie wil hê, moet gemeenskap op die dag van ovulasie of een dag vantevore plaasvind. Vir ’n dogtertjie, 2-3 dae voor ovulasie. Die manlike sperms gaan dan reeds vóór ovulasie dood en slegs die vroulike sperms bereik die eiersel. Bydraend tot ’n seuntjie, is dat die normale suurvlak van die vagina nader aan ovulasie meer alkalies raak – ’n milieu waarin die Y-sperm floreer. Die seksuele posisie is ook belangrik. Vir ’n seuntjie moet sperms tydens gemeenskap naby die eiersel geplaas word. ’n Vrou moet dan haar knieë buig en optrek na haar bors. Vir ’n dogtertjie weer moet penetrasie nie so diep wees nie.

RUBBER- EN REMSKOENBESOEDELING

Jy asem sowat 20 kg besoedelde lug en/of stof in jou lewe in. Dis rook, roet, koolstofmonoksiedgasse en stof, ja. Maar die slytasie van bande en remskoene dra ook daartoe by. Eers ’n som: Sowat ½ van Pretoria se 4 miljoen inwoners besit ’n motor. Elkeen het 4 bande, dus 8 miljoen. Indien ’n gemiddelde band ’n leeftyd van 40 000 km het en oor 2 jaar met 10 mm slyt, dan word 3 miljoen nuwe bande per jaar benodig. Dit is vragmotors en busse uitgesluit. Dis ’n groot klomp rubber wat afslyt – die grootte van ’n paar rugbyvelde – en in die lug rondsweef in die vorm van nano- en piko-partikels. En ons asem dit in. Voeg dáárby remskoen- en teer-slytasie op ons paaie. Oor 50 jaar sal bande en remskoene hopelik van ander materiale gemaak word: Nuwe rubberverwante siektes sal dit noodsaak.

VOORDELE VAN VETSUG

Nee, jy is nie noodwendig vriendeliker en gawer omdat jy minder hongerpyne het nie! Oorgewig vroue kry byna nooit osteoporose nie, dalk te danke aan ekstra estrogeen, wat onder meer in vetweefsel gestoor word. Die ekstra massa wat jy saamdra, maak jou bene sterker. (Hoewel nie so goed vir jou knieë nie.) As jy wel val, is die kans op ’n heupfraktuur minder omdat die vet die heupe beskerm en die impak versprei. Jy kry ook nie so gou koud nie. 

DIE GROOT K

Sekere liggaamselle raak soms “ambisieus” en wil so vinnig moontlik groei. Hulle gee voor dat hulle ’n funksie verrig, maar omdat dit uit verhouding met die liggaam se behoeftes is en ten koste van mede-selle, is hulle van geen nut nie. Die selfsugtige selle eis voorraad eerste op en huiwer nie om afvalstowwe te stort nie. In hul geesdrif om te groei stig hulle sekondêre takke op gunstige plekke. Omdat hulle hulle nie steur aan die harmonie met hul mede-selle nie, vernietig hulle uiteindelik die liggaam – en hulself. Mense is soms net só

BLONDINES HET DIE MEESTE ... HARE!

Sowat 145 000 in vergelyking met swart (110 000), bruin (100 000) en rooi hare (80 000). En nee, die sny of skeer van hare laat dit nie vinniger groei nie, wys navorsing. Kaalkopmanne is ook nié meer viriel nie.

WAT IS DIE NUT VAN PUBIESE EN OKSEL-HARE? 

Dit bly ’n biologiese raaisel en daaroor is groot meningsverskille. Dis moontlik om ’n verlies aan hitte te voorkom en dien as beskerming teen infeksie. Dis beter as vel wat teen vel skuur en verminder dus vel-wrywing. Dalk beskerm dit die vroulike genitalieë nes die neushare die neus, of die wenkbroue die oë. Miskien is dit ’n “pretty draping” en moet jy van naby kyk om te sien wat jy wil sien. 

WANNEER IS JY 'OUD'?

Is ouderdom net ’n syfer soos dikwels beweer word? Is dit net in jou “kop”? Jy hoor en sien op jou beste op 10; het die beste weerstand teen infeksies op 15; is die slimste op 21 (beste intellektuele vermoë); en is die sterkste (meeste spierkrag) op 25. Ná 30 begin die werking van die verskillende organe en stelsels langsamerhand afneem. Ons het ’n kulturele mite geskep dat alle mense van 70, 80 of 90 outomaties oud en sieklik is. Dis ’n versinsel, want party mense is fisiologies oud terwyl hulle chronologies jonk is – en omgekeerd. Maak dit sin dat jy op 64 jaar en 11 maande bekwaam genoeg is om ’n gesagsposisie te beklee. Maar ’n maand later net geskik is vir ’n junior pos, ongeag jou gesondheid, intellektuele vermoë, werkywer en bekwaamheid? 

*Prof. Van Papendorp is ’n geneesheer en emeritusprofessor aan die Universiteit van Pretoria, waar hy onder meer 25 jaar hoof van die fisiologiedepartement, fakulteit gesondheidswetenskappe, was.