Die internet en ander media verkondig allerlei onwaarhede en jy kan nie altyd glo wat jy lees en hoor nie. Daarom begin ons met ’n nuwe artikelreeks #KanEkDitGlo waar ons kundiges vra om ons te help om agter die waarheid te kom. Vir dié week se #KanEkDitGlo ondersoek ons iets wat in die TV-reeks Bull* gesê is. Die sielkundige in die reeks raai iemand wat besig is om ’n paniekaanval te kry, aan om te tel ... maar nie in volgorde nie. 

“The mind can't freak out and count numbers out of order.”

– Bull, 2016

Ons vra die kliniese sielkundige dr. Colinda Linde, wat in angstoestande spesialiseer, of ons dít kan glo ... en die antwoord is ja én nee.

#KanEkDitGlo: Ja

“Dit is korrek dat jy nie op twee goed gelyk kan fokus nie – jy kan wel vinnig tussen twee onderwerpe spring, maar dis nie dieselfde ding nie.

“Basies is hierdie ’n afleidingstegniek. Paniekaanvalle behels ’n bose kringloop: onaangename fisieke sensasies, gedagtes en vrese oor wat jy voel en wat dalk kan gebeur, en dan tref die adrenalien-inspuiting jou.

“Afleidingstegnieke help om hierdie siklus te breek. Om byvoorbeeld van ’n lukrake nommer af terug te tel in 7’s of 9’s is kompleks genoeg om die brein af te lei.”

#KanEkDitGlo: Nee, dit gaan nie altyd werk nie

“Afleiding ’n vinnige oplossing, maar op lang termyn werk kognitiewe gedragsterapie om jou gevoel oor die sensasie te desensiteer.

“Afleidingstegnieke keer nie die seine na jou brein wat sê dít wat jy voel is gevaarlik en moet vermy word nie.

“Dit werk beslis terwyl jy dit doen en die kans is goed dat die gevoel van paniek ná ’n paar minute sal bedaar. Maar as jy al lank aan paniekaanvalle ly en in ’n trigger-situasie is, sal die gedagtes terugkeer die oomblik wanneer die afleiding ophou.”

Wat is paniekaanvalle?

Leer meer oor paniekaanvalle HIER.

Besoek ook dr. Linde se webtuiste, www.thoughtsfirst.com, vir nóg raad.


* Dié TV-reeks is gegrond op die Amerikaanse sielkundige en TV-persoonlikheid dr. Phil McGraw se lewe as konsultant in hofsake.

** Kry professionele hulp indien jy ly aan angs. Besoek Sadag se webtuiste vir meer inligting.

Lees nou

Ons het ook ’n reeks, #SARIEtoets, waar ons van hierdie “feite” self toets en jou laat weet wat ons daarvan dink. Ons toets dit, sodat jy nie hoef nie.

Angs – só hanteer jy dit

‘Ma, jy stres my!’ Angstige ouers maak angstige kinders groot

Angs en jou gesondheid