Die popster en The Voice-afrigter Kelly Clarkson het onlangs in die openbaar verskyn met ’n opmerklik slanker figuur. En volgens haar voel sy gesonder as ooit!

Wat is haar geheim? Dis immers dieselfde ster wat net verlede jaar nog gesê het op haar maerste het sy “ellendig” gevoel.  

So proud of my girl @brynncartelli for killing it on @todayshow this morning.

A post shared by Kelly Clarkson (@kellyclarkson) on

In 'n onderhoud op die rooi tapyt het Kelly verklap sy sukkel al jare met 'n outo-immuunsiekte en skildklierprobleme. Sy het die sogenaamde “clean diet” begin volg nadat sy die boek The Plant Paradox deur die hartchirurg dr. Steven R. Gundry gelees het. Sy het nou al 17 kilogram verloor, maar volgens haar gaan dit nie oor die gewig nie, maar om beter te voel.    

Kelly is nie enigste bekende wat die “skoon dieet”-beweging aanhang nie. Dis lank reeds bekend dat Katy Perry, Gwyneth Paltrow en Zoe Saldana ook so slank bly.

Dit kan ons almal goed doen om minder verwerkte kosse te eet, maar hoe gesond is die dieet nou eintlik? Hoekom die vrese dat dit tot dieetsiektes kan lei?

SARIE het in November 2017 die “skoon dieet” in diepte ondersoek. Hier’s die voordele en nadele, asook hoe jy party van die beginsels kan gebruik word om gesonder te leef.

Wat is dit?

Dit het oorspronklik hope onverwerkte en dikwels plantaardige kosse beteken. Soos groente en vrugte, heelgrane, dier- en plantproteïene, neute, sade en gesonde olies (soos olyf en avokado). Kos so na moontlik aan hul natuurlike vorm, min verwerk en nie uit ’n fabriek nie, want hoogs geprosesseerde kos word van voedingstowwe gestroop wat vir goeie gesondheid nodig is.

Dus: ’n Aartappel soos dit uit die grond kom, nie in skyfies gesny en in olie gedompel nie. Veelvuldige studies bewys diëte ryk aan groente en vrugte verminder leefstylsiektes soos hoë bloeddruk, tipe 2-diabetes en hartvat-siektes. Navorsing koppel dit boonop aan gewigsbeheer en ’n gloeiende vel en hare.

Hoe werk dit?

Die bedoelinge is goed: Verminder verwerkte, verfynde kosse met hope preserveermiddels. En eet “regte”, gesonde kos (sien heel onder). Kook self met goeie bestanddele waarvan jy die oorsprong ken. Eet gereeld kleiner, gebalanseerde maaltye en gesonde happies tussenin. Voorafbereiding is gewild, omdat dit jou help om tred te hou met presies wat jy eet terwyl jy nie by die huis is nie.

Die nadeel: Bitter min van ons sal lank met so ’n eetplan kan volhou. Moderne kosproduksie het boonop so gesofistikeerd geraak dat dit nogal ’n uitdaging kan wees om net natuurlike kosse te eet.

Hoekom die negatiewe reaksie?

Wat kan nou verkeerd wees met jou bord vol groente gestapel? Dit is immers moeiliker as ooit om gesond te eet, met winkelrakke belaai met verfynde stysel en soetgoed.

“Ek stem saam die konsep om minder verwerkte/verfynde kosse te eet hou net voordele in. Maar enigiets met ’n ‘te’ vooraan is nie goed nie,” sê Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl.

Dis te midde van bewerings dat “skoon diëte” verantwoordelik is vir ’n toename in gevaarlike dieetsiektes. Veral onder jong vroue.

“Daar is ’n obsessie met hoe die ‘mooi’ mense lyk, eet en wat hulle verkondig. Ons sien ’n verband tussen ’n sekere manier van eet, om in beheer en perfek te wees,” volgens Vanessa Ascencao, voedingkundige van Kaapstad.

En Mariza: “In my praktyk sien ek heelparty pasiënte met eetsteurings en dis inderdaad só dat veral jong meisies die konsep te ver kan voer. Belangrik egter vir ’n diagnose van ’n eetsteuring (soos anoreksie of selfs haar makker sussie, versteurde eetpatroon) is die teenwoordigheid van angs, vrees of onrealistiese emosies rondom koskeuses en/of liggaamsbeeld.”

Sommige kenners reken die frase, aanvanklik goed bedoel, het ’n nuwe en misleidende betekenis gekry: Kos wat nie “skoon” is nie, is “vuil”, taboe.

Lank voor die “skoon dieet” het mense met eetsteurings al gepraat van ’n obsessie met “gesond” eet, skryf dr. Max Pemberton, ’n Britse psigiater en kenner van eetsteurings, in ’n brief aan die Britse The Daily Mail. Die beweging gee dit nou ’n sweem van fatsoenlikheid. Jy kan jou gedrag teenoor jouself en jou gesin regverdig. Dis egter soortgelyk aan die eetsteuring ortoreksie – ’n fiksasie met gesonde kos.

Bee Wilson, ’n kosskrywer, haal dr. Mark Berelowitz, ’n Britse kenner van eetsteurings, aan op die webtuiste www.the-pool.com. Volgens hom is tot 90% van sy pasiënte op sogenaamde “skoon diëte”. En sny hulle stapelvoedsel soos suiwel (melk) en/of koolhidrate (graan) uit, als wat skynbaar “vuil” is.

Sowat 1 uit 3 jong Britse volwassenes wat dié eetplan volg, vermy suiwel. Die Britse osteoporose-stigting waarsku jy kan só sleutelvoedingstowwe mis, wat later tot pynlike en selfs dodelike frakture kan lei. Melkprodukte is ’n bekostigbare bron van kalsium, verduidelik Mariza. ’n Koppie melk, of 40 g cheddarkaas, voorsien sowat ’n kwart van ’n vrou se daaglikse kalsium-behoeftes. Terwyl jy ’n koppie amandels, of 4 eetlepels sesamsaad, moet eet om dieselfde hoeveelheid kalsium in te kry. Min mense kry dit reg, sê sy.

Anoreksie is ’n komplekse siekte. Maar “skoon diëte” se swart en wit voedingkundige reëls maak dit gevaarlik as jy kwesbaar vir ’n eetsteuring is, skryf Bee.

Leefstyl-“ghoeroes” op sosiale media word wyd gevolg en het baie invloed, maar dikwels min of geen opleiding in gesonde voeding nie. Dit het baie mense bedenkinge oor die beweging laat kry.

Volgens joernalis Eve Simmons is haar anoreksie gevoed deur die raad van #eatclean-bloggers, wat haar aangemoedig het om als uit te sny wat haar uitgeteerde liggaam nodig gehad het.

Daar is eenmaal nie ’n ding soos ’n “perfekte” manier van eet nie, sê Bee. Baie voedingkundige aannames (gluten = sleg, kokosneut = goed) hou nie water nie.

Sjef Nigella Lawson vat dit só saam: “Kos is nie vuil (dirty) nie, die vreugdes van die vlees is noodsaaklik vir lewe. Wat ons ook al eet, waarborg nie onsterflikheid of immuniteit teen verlies nie.”

Pasop egter vir die baba saam met die badwater uitgooi, waarsku Mariza. “Ek is redelik gesteld daarop om ‘skoon’ te eet – maar nie angstig as ek in ’n vliegtuig lus is vir tee en daar is nie soja- of amandelmelk beskikbaar nie, wat ek bo koeimelk verkies. Weens ’n genetiese geneigdheid tot ’n hormoonwanbalans en verwante kankersoorte. Ons leef in die era van persoonlike gesondheidsorg. Wat jy doen, moet in pas wees met jou unieke liggaam – wat vir jóú goed is.”

’n Westerse eetpatroon, sê sy, waar jy toegee aan die vlees se lekkerny-behoeftes, is net so skadelik soos ’n “skoon dieet” wat te ver gevoer word.

“Almal gaan dood, ja. Maar jy kan ’n keuse maak oor hoe jy die pad wil stap – twintig jaar lank vet, ongesond, vol pyne en skete? Liefs nie.”

Kontak

Mariza van Zyl: 021 872 8423, mariza@bettereat.net, bettereat.net

Vanessa Ascencao: vanessa@vdanutrition.com, vdanutrition.com

Bykomende bronne: cleaneatingmag.comwebmd.com

Eet ‘skoon’:

Kies kosse wat die minimum verwerk is met min (of geen) bestanddele op die etiket.

Onverwerkte kos

Vrugte, groente (verkieslik organies) droë peulgroente (lensies, bone en kekerertjies), neute, eiers van vryloophoenders.

Minimaal verwerkte kos

Onverfynde grane (bruin- en wilderys, heelkorrel-hawermout, steengemaalde of growwe volgraanmele), organiese melk, groente-olies met “goeie” vet (olyf- en avokado-olie), ongeprosesseerde vleis, verkieslik van vryloopdiere, bevrore vrugte/groente.