Moeg, geïrriteerd of depressief? Soms wil jy net jou probleme wegeet. En hoekom nie? Daar is immers wetenskaplike bewyse dat sekere kosse jou brein se chemie kan beïnvloed. Moenie verwag jou bui gaan ’n 180°-draai maak nie, maar elke bietjie help.

1. Geïrriteerd of sommer net kwaad?

Plaas die skuld op jou serotonienvlakke, die breinstof wat jou goed en kalm laat voel. Triptofaan, ’n aminosuur in suiwel (veral melk), gee jou serotonienvlakke ’n hupstoot.

2. Sukkel jy om te slaap?

Maak vir jou ’n lekker koppie Engelse of groentee voor jy in die bed klim. Dit bevat die aminosuur l-teanien wat Klaas Vakie gou sal nader roep. En ’n lekker nagrus is die beste oplossing vir ’n slegte humeur die volgende oggend.

3. Kry stres jou onder?

Vitamien C kan dalk help om kortisolvlakke te verlaag. Dis die streshormoon wat vrygestel word as jy gespanne is. Navorsing suggereer groot dosisse vitamien C kan selfs stres hokslaan voor dit vastrapplek kry. Eet rou bronne, soos soetrissies en sitrus.

4. Kop suf en dof?

Laai jou bord met omega 3-ryke vis soos salm en sardiens. As jy nie van vis hou nie, kan jy visolie-aanvullings drink. Dit help jou om beter te fokus, verbeter jou geheue en bui. Omega 3- vetsure het ook ’n kalmerende uitwerking: dit maak jou brein meer vatbaar vir serotonien se towerstaf. Hoe meer omega 3 jy inkry, hoe beter werk die neurone in jou brein.

5. Angstig?

Brasiliaanse neute is die antwoord. Oftewel die selenium daarin, ’n spoorelement wat skynbaar ’n belangrike rol in jou brein speel. Verskeie studies wys ’n tekort hieraan kan angs en depressie vererger. Jy kry dit in wisselende hoeveelhede in verskeie grane, dierprodukte en eetbare plante.

Bronne: Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl (www.bettereat.net); oprah.com; red.nl

*Dié brokkie kom uit die Augustus 2014-uitgawe van SARIE. Dié tydskrif is nie meer op die rak nie, maar kan steeds digitaal afgelaai word - klik HIER.