1. Aartappel-skyfies (crisps) en brood

Aartappelskyfies is ’n tipiese voorbeeld van verfynde koolhidrate. So ook witbrood en ander verfynde graanhappies. Gestroop van feitlik alle vesel, vitamiene en minerale, verteer dit vinnig en veroorsaak pieke in jou bloedsuiker- en insulienvlakke. Dit word gekoppel aan ooreet asook talle leefstylsiektes.

2. Koekies, koek en lekkergoed

Suiker – hetsy organiese heuning of witsuiker – aktiveer jou brein se beloning- en aptytsentrum op ’n ander manier as ander kosbronne, volgens ’n Britse studie. Dele van die brein wat jou dryf om te eet, “ontspan” gewoonlik nadat jy kos ingekry het. Maar eet jy soet happies soos koekies of lekkers, bly dié areas aktief. Met voorspelbare gevolge.

3. Dieet-koeldrank en kunsmatig versoete happies

As kunsmatige versoeters op jou tong beland, helder jou brein se beloningsentrums op en stuur seine vir jou dermkanaal daar is energie (kilojoules) aan’t kom, volgens ’n Australiese studie. Gebeur dit nie, probeer jou brein die wanbalans regstel deur jou aan te por om meer te eet om daardie “hol kol” te vul. Hallo, cravings!

4. Vetvrye slaaisous

Vervaardigers kan suiker of kunsmatige versoeters vir beter smaak byvoeg, met gevolge soos reeds genoem. Vet help boonop jou liggaam om betakarotene (wortels) en likopeen (tamaties) te absorbeer. Maak ’n slaaisous van olie en balsemasyn. Of sny bloot avokado bo-oor. ’n Amerikaanse studie suggereer avokado is veral goed om te help om voedingstowwe uit slaai op te neem.

5. Alkohol

Goed, dis nie kos nie. Maar onthou tog dit kan jou lekker honger maak. Ons liggaam het nie die vermoë om alkohol te stoor nie. Die proses om dit uit ons liggaam te verwyder put jou voorraad glikogeen uit (hoofsaaklik van koolhidrate afkomstig). En dan crave jy gewoonlik die verkeerde soort koolhidrate: verfyn, verwerk en gebraai. Reik dan liefs na onverfynde koolhidrate soos sade en neute.