Wou jy al ooit iets oor jou lyf weet, maar jy was te bang om te vra? Of jy het nie geweet wié om te vra nie? Of dalk hét jy gevra, maar kon nie ’n antwoord kry nie. In The odd body* werp dr. Stephen Juan, ’n Amerikaanse antropoloog, lig op jou lyf se geheime.

Wanneer het ek die eerste keer gedroom? Daar is bewyse dat ’n fetus droom - selfs meer as ’n pasgebore baba, wat weer meer as ’n ouer kind droom, wat op sy beurt meer as ’n volwassene droom. Sonografiese studies toon dat R.E.M.-slaap (rapid eye movement, die fase waartydens jy droom) reeds op 23 weke plaasvind. Tot op 36 weke is dit die enigste soort slaap wat by ’n fetus waargeneem word. Die fetus beleef eers daarna nie-REM-slaapfases. Wanneer het ek die eerste keer pyn gevoel?

Volgens stewige navorsing kan die fetus op 26 weke pyn ervaar. Maar ander studies toon dis baie vroeër. Een studie meen dit kan so vroeg as die sewende week wees. Dr. Davenport Hooker van die Pittsburgh-universiteit het bevind dat ’n fetus wat in die dertiende week geaborteer is (maar nog nie dood is nie), refl ektief reageer as ’n haar rondom sy/haar mond beweeg word. En dat ’n baba wat drie maande te vroeg gebore is, reflektief reageer as daar met ’n haar op enige plek aan sy lyfie geraak word.

Kan ek breinskade opdoen as ek te veel water drink?
Die niere kan met net soveel water klaarspeel. Teoreties, as jy aanhou water drink sodat jou niere later nie meer die vloed kan hanteer nie, kan die ekstra vloeistof verskeie liggaamsweefsels laat swel. Dit kan die breinweefsel insluit, ’n toestand wat brein-oedema genoem word. As jy dan nie ophou water drink nie, kan jy uiteindelik doodgaan. Jy het jouself dan letterlik aan water “doodgedrink“.

Hoekom huil ek?
Navorsing dui daarop dat ons om emosionele en fisieke redes huil. Dit kan inderdaad belangrik vir fisieke en emosionele gesondheid wees. Almal weet dat huil ’n emosionele ontlading is en opgehoopte stres verlig. Dis minder bekend dat dit ook ’n manier is waarop die liggaam van giftige stowwe ontslae raak. Soute word bv. deur trane, sweet en urien uitgeskei. Trane bevat ’n verskeidenheid soute wat van die dieet afkomstig is. Die sout in kos word deur die ingewande geabsorbeer en beland in die bloedstroom. In ’n studie aan die Pittsburghuniversiteit se skool vir verpleegkunde is bevind gesonde mense is meer geneig om te huil en is meer positief teenoor trane as diegene met maagsere en kolitis, twee toestande wat waarskynlik met stres verband hou.

Hoekom is die meeste mense regshandig?
Jou brein bepaal aan watter hand jy voorkeur gee. Die linkerkant van die lyf word deur die brein se regter-hemisfeer en die regterkant deur die linker-hemisfeer beheer. By mense wat regshandig is, is die linkerhemisfeer dominant en andersom. Sowat 88% van mense is regshandig. Dit hang egter af hoe regs- en linkshandigheid gedefinieer word.Sommige mense gee voorkeur aan een hand om sekere dinge te doen, maar voorkeur aan die ander een vir ander goed. Dis egter selde dat iemand waarlik dubbelhandig is - en dus albei hande ewe veel gebruik. Volgens Marc McCutcheon, ’n wetenskapskrywer, word linkshandigheid waarskynlik meestal veroorsaak deur geringe breinskade voor en tydens geboorte. Die meeste wetenskaplikes glo dis weens ’n verminderde toevoer van suurstof voor geboorte. Linkshandigheid kom meer by tweelinge voor. Dis glo omdat daar minder plek in die baarmoeder is en hulle daarom dalk minder suurstof kry. Sowat 65% van outismelyers is linkshandig. Dit kom ook dikwels by kunstenaars en gays voor.


Hoekom hik ek?
Iets irriteer die diafragma en dit veroorsaak ’n spasma.

Hik bestaan uit twee fases: Eers trek die diafragma onwillekeurig saam. Dis omdat iets die senuwees wat dit beheer, irriteer. Dalk het jy te vinnig geëet of gedrink. As jy terselfdertyd eet en asemhaal, moedig jy ook so ’n irritasie aan. Gewoonlik beheer jy die hikkery deur nie die dinge te doen wat dit veroorsaak nie.

Tweedens: As lug ingeasem word, klap die spasie tussen die stembande aan die agterkant an die keel (glottis) met ’n kenmerkende klikgeluid toe. Dis wat jy hoor as jy hik. Om ’n gehik te verstaan moet mens weet wat die diafragma is. Die longe word omsluit deur ’n soort geslote hok: Die ribbes vorm die walle en die diafragma die vloer. Die diafragma is ’n spierplaat wat opwaarts welf. As jy inasem, word dit afwaarts getrek tot dit plat is. Terselfdertyd trek die spiere saam wat die ribbes omring en lig die longe op. Die borskas word dus wyer, dieper en die lugkapasiteit neem toe. Daar is baie rate vir hik. Sommige mense drink ’n glas water sonder om asem te skep. Ander hou hul asem op tot die hikkery ophou of haal in ’n sak asem. Dié tegnieke herstel waarskynlik die normale ritme van die rukkende, geïrriteerde diafragma - dalk omdat die suurstofvlakke minder en koolsuurgasvlakke meer word.

Huil diere ook?
Die mens is die enigste primaat wat huil. Die olifant is die enigste ander landdier wat huil, en seediere sluit in robbe, see-otters en soutwater-krokodille (die sg. krokodiltrane). Al dié diere huil bloot om van sout ontslae te raak. Maar een wetenskaplike, dr. G.W. Steller, ’n dierkundige aan die Harvard-universiteit wat see-otters intensief bestudeer het, glo hulle kan ook emosionele trane stort. Hy het doelbewus wyfies se kleintjies weggevat en die ma’s het nes mense oor die verlies gehuil.

Hoekom het mans tepels?
Teoreties kan ons almal borste hê wat melk afskei. Maar manlike borste, insluitende die tepels, kry nie genoeg van estrogeen, die vroulike hormoon, om melk te produseer nie. Sover ons weet, het manlike borsweefsel geen ander funksie nie behalwe om dalk die hart en longe teen beserings te beskerm. Tepels word egter by mans en vroue as ’n erotiese liggaamsone beskou.

Hoekom kry ek hoendervel?

Baie mense beweer dat ’n wye reeks stimuli hulle ’n hoendervelagtige sensasie gee, maar eintlik is dit ’n reaksie op koue. As jy koud kry, trek die klein spiere aan die basis van elke haar saam. Die gevolg is dat ’n “walletjie“ rondom die haar vorm. As die temperatuur lank genoeg laag genoeg bly, kry jy dus hoendervel en die hare staan regop. Dis die hare se funksie om die liggaam teen die son se skerp strale te beskerm. Dis waarskynlik waarom ons so baie hare op ons kop het. Die kop het die meeste beskerming nodig omdat die brein op ’n sonnige dag binne die kopbeen kan “kook“.

Hoekom bloos ek?

Jy bloos as die klein bloedvate onder die vel verwyd en ’n toename in bloedvloei veroorsaak. Jy voel ’n brandende sensasie in jou gesig en dikwels tintel jou hele lyf. Dit kan van ’n paar sekondes tot vyf minute duur. Volgens dr. Roger Dampney, ’n fisioloog aan die Sydney-universiteit, is dit ’n wydverspreide verskynsel waarvan die wetenskap verbasend min weet. Die snellers is emosionele stimuli, hoër vlakke van die brein is betrokke en dis blykbaar nie net tot die gesig beperk nie. Dis een van net ’n paar liggaamsveranderings wat direk deur die kop veroorsaak word. Dit wil voorkom asof dit biologies gedrewe eerder as aangeleer is, maar beslis ’n sosiale rede het.

Jy bloos nie as jy alleen is nie. En jy kan iemand laat bloos deur hom net te terg. Nog ’n seldsame ding is dat jy iemand kan laat bloos en verleë kan laat voel, selfs al het hy niks verkeerd gedoen nie. Mense wat maklik bloos, soek soms hulp daaroor. As jy voel jy gaan bloos, probeer om so rooi soos beet te word. En dikwels bloos jy dan glad nie!

Hoekom kan ek myself nie kielie nie?
Kielie is een van die fisiologiese reaksies wat ons die minste verstaan. Jou reaksie daarop is per definisie onwillekeurig. Hoewel jy dit soms kan beheer as jy hard genoeg konsentreer, kan jy dit nie self inisieer of aan die gang sit nie. Daar word gereken dat ’n gekielie met sagte bewegings van die vingerpunte, sekere klein, fyn senuweepunte of tassensors net onder die veloppervlak prikkel. Dit word oor die hele lyf gevind, maar veral in die palms en op die sole. Lag is die voor die hand liggendste reaksie, maar jou pols versnel ook, jou bloeddruk styg en die liggaam word waaksaam. Volgens dr. Roger Grief, emeritus-professor aan die Cornell-universiteit se mediese skool in New York, is die feit dat jy jouself nie kan kielie nie, maar een van ’n aantal vreemde dinge rondom kielie.

Nog een is jou ambivalente reaksie daarop. Hoewel dit aanvanklik vir jou lekker is, gaan dit tog soms met ’n sweempie angs gepaard. Prof. William Fry, kliniese psigiater aan die Stanforduniversiteit se mediese skool, sê as jy nie angstig voel nie, sal jy nie lag of giggel as jy gekielie word nie. Jy lag ook nie as jy só aggressief gekielie word dat jy gevaar aanvoel nie. Mense lag en giggel as hulle ’n bietjie angs, maar nie gevaar nie, ervaar. As jy jouself dus kielie, weet jy dat jy enige oomblik kan ophou. Dit skakel dus ’n noodsaaklike bestanddeel van kielie uit - angs.

Hoekom het vroue ’n rib meer as mans?

Selfs ’n eenvoudige waarneming toon vroue het meer dikwels as mans ’n ekstra ribbebeen. Dit maak waarskynlik nie ’n verskil aan jou gesondheid nie.
Sommige van ons het minder bene as ander, maak nie saak wat jou geslag is nie. ’n Baba word gebore met sowat 350 sagte strukture, wat by volwassenes “saamgegroei“ is om 208 soliede bene te vorm. Dié proses verskil effens by ons almal. Vanweë dié verskille het vroue ’n groter kans as mans om ’n ekstra rib of twee te hê. Die Bybelse verhaal is meer romanties. Volgens Genesis het God Adam se rib geneem, terwyl hy geslaap het en Eva uit modder gemaak.

 

Kan my liggaam my teen ’n komende aardbewing waarsku?
Ná elke groot aardbewing is daar mense wat sê hulle het geweet dit kom. Ons glo hulle selde, omdat hulle eers ná die gebeurtenis van hulle laat hoor. En met reg: In die geskiedenis is daar nie een geval opgeteken waar iemand ’n aardbewing net met behulp van sy/haar sintuie akkuraat kon voorspel nie. Dit wil dus voorkom of die menslike liggaam ons nie voor ’n aardbewing kan waarsku nie. Daar is egter sterk bewyse dat diere oor ’n vermoë beskik om ’n aardbewing te voorspel. Volgens dr. Helmut Tributsch, ’n Duitse wetenskaplike, het die Grieke dit eerste besef.

Hy sê ure, selfs maande voor ’n aardbewing, is daar duidelike veranderinge in diere se gedrag - ’n waarskuwing dat ’n aardbewing aan die kom is. Wat meer is, hy reken dat dié veranderinge ’n aardbewing kan voorspel lank voordat die mees gesofistikeerde seismografi ese toerusting dit kan optel. Hy gee verskeie voorbeelde: Henne wil nie na hul neste terugkeer nie, katte dra hul werpsels buite toe, koeie bulk aanmekaar, visse se migrasie-patrone verander, slange ontwaak uit hul winterslaap, vlermuise vlieg bedags, beeste gee pad na hoër gebiede en sjimpansees raak hiperaktief.
Hoekom? Dr. James Berkland, ’n geoloog van Kalifornië, voer aan dat veranderinge in die aarde se magnetiese veld diere “disoriënteer” en hul gedrag verander. Hy glo sulke veranderinge in die aarde se magnetiese veld vind voor ’n aardbewing plaas.

Kan ons op diere staatmaak om ’n aardbewing te voorspel?
Dr. William Bakun, hoof-seismoloog vir die Amerikaanse geologiese opname in Kalifornië, sê as ons eers verstaan waarop hulle reageer, kan ’n toestel gebou word om
die verskynsel te meet.

*Uittreksel uit The odd body deur dr. Stephen Juan, 2004. (Dr Stephen Juan 1995, Harpers Collins-uitgewers, Australië.)