Bekyk jou naels. Bestudeer jou oë. Wat sien jy? Skoonheid kom inderdaad van binne, want as daar iets met jou gesondheid skort, verklap jou voorkoms dit. Dink aan jou hare wat soos strooi lyk as jy gespanne is en die blou kringe om jou oë as allergieë jou opkeil. Jou lyf praat ’n eie taal . . .

1. Waar is al jou hare heen?
Jy verloor elke dag sowat 100 hare - en die gemiddelde haar groei net sowat 13 mm per maand. Dus: Hoe ouer jy word, hoe minder hare het jy, volgens www.mothernature.com. Jou gene speel ook ’n rol. Maar baie ander dinge kan jou hare laat uitval:

  • Stres, insluitende fisieke spanning soos chirurgie, siekte of koors.
  • ’n Swak dieet, veral te min yster en proteïene.
  • ’n Oor- of onderaktiewe skildklier.
  • Hormonale veranderinge. Jou hare is dood. Hoekom het siekte en stres dan ’n uitwerking daarop? (Dit kan jou hare bv. dun en futloos laat lyk). Dr. Stephen Juan antwoord só daarop in The Odd Body (Collins, 2004): Hoe jou hare lyk, word bepaal deur afskeidings van die vetkliere aan die onderkant van die haarfollikel. Te min, en jou hare word droog, breek maklik en lyk beskadig. Te veel, en dit word vetterig en leweloos. Die afskeidings word beïnvloed deur jou ouderdom, algemene gesondheid, hormone en selfs emosionele toestand. (Swanger vroue sien bv. dikwels veranderinge aan hul haredos. Dis as gevolg van hormonale veranderinge.)

2. Die kleur van jou naels
As jou voorheen gesonde naels begin verander, kan dit dui op siektes, sê die gesondheidswebblad www.webmd.com.

  • Jou naels is gelerig, verdik en groei stadig: Dit kan op longsiektes soos emfiseem dui.
  • Gelerig met ’n ligte blos by die basis: Pasop vir diabetes.
  • Rooi: Dit word met hartsiektes vereenselwig.
  • Bleek en nie pienk nie: Jy het dalk ’n yster-tekort.
  • Donker lyne onder die nael: Dit kan melanoom wees (’n baie kwaadaardige gewas wat gewoonlik op die vel voorkom).
  • Droë, bros naels wat maklik breek of skeur: Oorweeg dit om ’n kalsium-aanvulling te neem. Dit kan ook ’n skildklierprobleem wees.
  • Klein, wit merkies op jou naels: Dit word veroorsaak deur een of ander besering (bv. ’n stamp) aan die basis van jou nael, waar naelselle gevorm word. Jy hoef nie hieroor bekommerd te wees nie, dit sal uiteindelik uitgroei.
  • Die naelvelletjie is rooi, kloppend en geswel: Dit kan ’n bakteriële infeksie wees. Dalk het jy die velletjie te oorywerig probeer terugdruk. Of jy stel jou hande te veel aan water en chemikalieë bloot.
  • Naels is dun en bros: Was jy dikwels skottelgoed sonder handskoene, swem jy baie, of lê ure in die bad? In die water absorbeer jou naels sowat 20% van hul gewig. Dit sit uit, net om weer saam te trek as dit droog word. Jou naels verswak mettertyd.

3. Protesteer jou tande?
Is jou tande sensitief vir hitte, koue en aanraking? Dit gebeur as die dentien, die lagie net onder die tand-emalje, dit nie meer doeltreffend beskerm nie. Dalk omdat die emalje - die buitelaag van die tandkroon - afgeslyt is. Daar kan ook krakies in jou tand wees. Of dalk borsel jy jou tande te oorywerig. Van die dentien af loop dun buisies na die sensitiewe bindweefsel in die middel van jou tand. Raadpleeg jou tandarts as jou tande ná ’n maand steeds sensitief is. Gebruik ook ’n tandepasta vir sensitiewe tande en ’n tandeborsel met sagte hare. Borsel jou tande op en af, nie heen en weer nie. Eet kosse na aan kamertemperatuur. Moenie jou mond met soutwater spoel nie. Dis goed vir gewone tandpyn, maar nie vir hipersensitiwiteit nie. Vermy soetgoed en alkaliese kosse soos tamaties. (www. mothernature.com)

Jou lyf vra

die regte kos

Naels is bros

en gesplete

Yster (rooivleis), sink (semels), essensiële vetsure (vis, groenteolies)
Droë oë

Vitamien A (wortels), essensiële vetsure
Hoeke van mond bars

Yster, vitamien B12 (vleis), vitamien B6 (volgraanontbytkos) en foliensuur (koringkiem)
Gebarste lippe

Vitamien B2 (suiwel)
Swak haargroei

Yster of sink
Skilfers

Vitamien C (sitrus), vitamien B6, sink, essensiële vetsure
Aknee

Sink
Bloedbelope oë

Vitamien A, vitamien B2 (suiwel)
Wonde genees stadig

Sink
Depressie

Vitamien B6
Bron: www.health24.com

 

4. Krokodil-vel
Jou vel is droog, grof of skubberig: Dit kan ’n vitamien A-tekort wees. Of daar is te min essensiële vetsure in jou dieet (vis, groenteolies) wat jou vel van binne bevog. “Ouderdoms”- of lewervlekke:Dis ’n skadelose bruin verkleuring - dikwels op jou voorkop, of aan die bokant van jou hande en arms. Dit kom dikwels ná 55 voor. Maar anders as wat die naam sê, het dit niks met jou lewer en min met jou ouderdom te doen. Die son is die oorsaak. As dit groter word, of van vorm of kleur verander, jeuk, bloei of pynlik is, raadpleeg jou dokter. Dra van jongs af ’n goeie sonskerm. (www.mothernature.com)

Wat jou oë verklap . . .

  • Dowwe geel, vetterige neerslae rondom die binnehoeke van jou ooglede: Dit kan ’n waarskuwing wees dat jou cholesterolvlakke hoog is.
  • Die wit van jou oë is geel: Dis dalk ’n simptoom van geelsug, wat onder meer deur ’n lewerinfeksie soos hepatitis veroorsaak kan word.
  • Oë wat effens uitpeul: Het jy ook simptome soos hartkloppings en verloor jy gewig? Jy het dalk ’n ooraktiewe skildklier.
  • Donker kringe om jou oë: Dit verskyn gewoonlik as jy baie moeg is of ’n siekte of allergie ontwikkel. Of dalk het jy baie gewig verloor. Donker kringe word deur vergrote bloedvate veroorsaak en is op hul eie skadeloos. Jy kan dit met grimering bedek. Of kontak met die allergeen probeer verminder (soos stofmyte, stuifmeel). Of maak ’n waslap met koue water nat, droog uit en sit dit vir 10 tot 15 minute op jou oë. (www.mothernature.com)

5. Is jou vingers “manlik” of “vroulik”?
Die verhouding tussen die lengte van jou ring- en wysvinger kan jou teen toekomstige probleme met jou gesondheid waarsku. Dit kan ook karaktertrekke soos aggressie en mededingendheid en talente vir bv. musiek en sport aandui. Só beweer John Manning in The Finger Book (Faber and Faber, 2008). En dis gegrond op goeie navorsing: Die tydskrif New Scientist noem hom ’n pionier in sy veld. Jou vinger-ratio verklap skynbaar wat met jou as baba in die baarmoeder gebeur het. Meer spesifiek - aan hoeveel testosteroon (manlike hormoon) en estrogeen (vroulike hormoon) jy blootgestel is. Manning se navorsing wys mans se ringvingers is in die algemeen langer as hul wysvingers. By vroue is dit gewoonlik dieselfde lengte. Dis omdat mans in die baarmoeder aan meer testosteroon blootgestel word.

  • Mans met ’n “vroulike” vingerratio:
    Manning en sy kollegas het 151 mense ondersoek wat hartaanvalle gehad het. Mans met korter ringvingers (teenoor hul wysvinger) het hul eerste hartaanval tussen 35 en 80 gehad. By mans met ’n “manlike” vinger-ratio, dus langer ringvingers, was dit tussen 58 en 80. Manning glo testosteroon in die baarmoeder beskerm mans teen voortydige hartaanvalle. (Terwyl estrogeen vroue daarteen beskerm.
  • Vroue met ’n “vroulike” vingerratio:
    Borskanker-gewasse is dikwels van estrogeen afhanklik. Manning het ’n teorie dat vroue wat aan baie estrogeen in die baarmoeder blootgestel is (en dus langer wysvingers versus ringvingers het) op ’n vroeër ouderdom (net ná 50) borskanker kan kry. Daar is ook ’n verband tussen ’n “vroulike” vingerratio en sterftes weens kanker van die eierstokke (ook estrogeen-verwant). Vroue met ’n “manlike” vingerratio (dus langer ringvingers) sal borskanker op ’n laat ouderdom (ná 70) kry. Jou vingerlengte is egter maar een faktor wat gesondheid bepaal. Jou gene en omgewing speel ook ’n rol.
  • Bepaal jou vinger-ratio:
    Maak jou regterhand se vingers reguit met die palm na bo (by links- én regshandiges). Meet die lengte van jou wys- en ringvinger. (Meet van die onderste groefie aan die basis van jou vingers.) Verdeel die lengte van die wysvinger (bv. 85 mm) met die ringvinger s’n (75 mm). Dit gee 1,13, wat ’n baie “vroulike” vinger-ratio is. Vroue se gemiddelde ratio is 1,00. (Die vingers is dus ewe lank). Die gemiddelde “manlike” ratio is 0,98.

S.O.S!

Wanneer moet jy dringend dokter toe gaan? Dr. Patrick Kenny van die departement gesinsmedisyne aan die Universiteit van Pretoria verduidelik.

Polsslag Sit die vingerpunte van jou een hand liggies op jou teenoorgestelde pols naby die basis van jou duim. Beweeg dit rond totdat jy jou polsslag kan voel. ’n Volwassene se rustende polsslag (net nadat jy wakker geword het) is gemiddeld 60 tot 100 slae per minuut. Hoe fikser jy is, hoe stadiger is dit. Rook, stres, te veel koffie (kafeïen) en slegte gesondheid maak dit vinniger. Bespreek dit met jou dokter as dit baie vinnig, te stadig, of onreëlmatig is (as dit bv. slae oorslaan).

Borskaspyne: As jy ’n pyn in jou borskas kry, is jou eerste gedagte: hartaanval! En ja, ’n skielik drukkende pyn wat nie binne 15 minute verdwyn nie, kan een wees. Ander tekens is ’n pyn wat van jou bors na jou nek, kakebeen en een of albei skouers en arms versprei (veral aan die linkerkant); sweet; naarheid en vomering; angstigheid; kortasemrigheid en ’n vinnige of ongereelde polsslag. Vroue is meer geneig tot simptome soos kortasemrigheid, sooibrand, naarheid, rugpyn, pyn in die kakebeen en moegheid.  Gereelde borskaspyne as jy oefen, stap of trappe klim, kan angina wees (’n waarskuwing dat jou hartspier te min suurstof kry). Borskaspyn saam met ’n gedurige gehoes, kortasemrigheid en moegheid kan op hartversaking dui. ’n Branderige borspyn saam met ’n bitter smaak in jou mond, veral ná maaltye, kan ’n maagseer wees. Die pyne kan erger of beter word as jy eet. Jy kry ook gereeld sooibrand, veral as jy suur kosse eet. Borskaspyn saam met ’n gedurige gehoes, kortasemrigheid en gewigsverlies kan ’n teken van longsiektes soos tuberkulose of longontsteking wees.