Gerda (skuilnaam) was 43 toe die groot moegheid haar oorval. Sy was vergeetagtig, en ja, daar wás warm gloede. Maar wie dink op dié ouderdom aan die menopouse?

"Ek was net so vreeslik móég. Nadat ek die kinders (7 en 11) soggens by die skool afgelaai het, was my fut uit. Die dag het soos 'n berg voor my gelê. (Sy lag.) Ek het gedink dis minstens 'n breingewas, geen gesonde mens kan só voel nie.

"Ek het goed soos my sleutels verloor. En vergeet om die kinders by die skool op te laai en afsprake na te kom. Dit was die vreemdste ding. Ek sou met 'n vriendin oor die telefoon gesels en 'n afspraak maak. Maar die oomblik dat ek die telefoon neersit, kon ek nie onthou wat ons besluit het nie. Ek kon soms skaars my naam onthou!

"As my man saans by die huis kom, het ek in my onderklere rondgeloop. Dit was só warm, ek het gevoel ek stoom. Ek kon nie klere aan my lyf verdra nie. Dit voel asof jy van binne gloei. Jou ore is rooi, jou wange is rooi. En dan is dit in die middel van die winter. Ek was kwaai en buierig en het soos 'n polisiefluitjie op my man en die kinders gegil. My seuntjie sou sê: 'Mamma, die bure gaan die polisie bel as jy weer so gil.' Die volgende oomblik het ek gehuil. Dan dink ek wat as ek doodgaan weens 'n breingewas en ek is só lelik met my man en kinders. Dan huil ek nóg harder."

Alles het in plek geval toe sy vir haar jaarlikse ondersoek na haar ginekoloog gaan. Die dokter was simpatiek. "Gerda, jy is in jou menopouse." 'n Bloedtoets het bevestig haar estrogeenvlakke was baie laag. Sy is met 'n voorskrif vir 'n estrogeen-gel huis toe en stelselmatig het sy beter begin voel. "Noudat ek weet wat skort, is dit ook sommer makliker om te hanteer." Haar gesin sug van verligting, want hulle óú ma is terug.

**Lees verder in jou April-SARIE oor hoe jy die menopouse makliker kan maak. Lydia van der Merwe vertel meer oor die voor- en nadele van HVT (hormoonvervanginsterapie) en 'n mediese dokter van Pretoria beveel 'n natuurlike "resep" vir die menopouse aan.