Jy ken die foltering van nog ’n dieet wat misluk het. Jy verloor gewig, ja. Maar dis nie lank nie of die skaal trek weer swaar.

Jy weeg dalk nou selfs méér as voor jou dieet. Jy blameer jouself, glo jy het nie wilskrag nie en ’n liefde vir die verkeerde kosse.

Miskien moet jy jouself begin vra: Maak jou dieet – of dieetgewoontes – jou dalk vet? Wetenskaplike navorsing wys toenemend dit is wel die geval. Soos ’n nuwe Finse studie, gepubliseer in die International Journal of Obesity. Daar is na identiese tweelinge gekyk, die een met ’n geskiedenis van dieet, die ander een nie. Die bevinding: Die een wat die meeste op dieet was, het die swaarste geweeg.

Ander studies wys as jy minder as ?4 000 kJ per dag eet, kan jou liggaam tot 45% minder energie verbruik. Want jou liggaam en metabolisme floreer op kos – die regte kos! As jy vas of ?’n kitsdieet volg, raak jou metabolisme stadiger om energie ?te bespaar. Dis soos ’n knetterende vuur. Stook dit aanmekaar met ?genoeg goeie-gehalte-hout en dit brand lekker. Maar raak die hout ?op, gaan dit dood.

Gooi jy weer te ?veel hout op, brand dit buite beheer ?– nes jou middellyn!

Natuurlik is dit soms nodig om te dieet. Dit is dikwels die enigste medisyne vir ’n diabeet wie se bloedsuiker buite beheer is. Of vir iemand wie se hart te swaar trek ?weens oortollige kilogramme. Dalk moet jy gewig verloor om jou rug te “spaar”. Of ander gesondheidsredes.

Jou metabolisme is kompleks, méér as die binnegoed van jou rekenaar. Boonop is elke mens s’n uniek, nes jou gene. Daar is eenvoudige redes waarom dieet jou vet maak.

Hier is ?dit, in ’n neutedop:

[box:full:grey:both]

SO MAAK JOU DIEET JOU VET

[/box]

* ’n Verandering in hoeveel jy eet – meer óf minder – kan ’n invloed op jou liggaam se werking hê. Jou dieet moet dus slim saamgestel word sodat jou liggaam gekul word en nie besef ?jy eet minder nie. Want dan begin hy spiere (vir kos) verbrand.

Aanvanklik verloor jy lekker gewig, maar dis spiergewig. Hoe meer spiere jy het, hoe vinniger is jou metabolisme. Want jou spiere gebruik heelwat meer energie as vet. Minder spiere is dus gelyk aan ’n stadiger metabolisme. Ná jou hongerly-sessie begin jy weer normaal eet. Maar dis te veel kos vir jou (nou stadiger) metabolisme en jy tel gewig op.

* Veranderinge in wát jy eet, kan ook jou metabolisme beïnvloed. As jy bv. koolhidrate heeltemal uitsny, gaan jou bloedsuikervlakke op die kort termyn (7 – 10 dae) daarby baat. Maar op die lang termyn gaan die totale gebrek aan koolhidrate jou metabolisme vertraag en jou lam en tam laat voel.

Dieselfde met vet. Eet jy te min vet, kan jou metabolisme oorkompenseer. Jou liggaam stoor dit dan om seker te maak daar is genoeg beskikbaar vir ?bv. die vervaardiging van hormone. Eet jy te veel vet, stoor jou lyf dit ook.

* As jy aanmekaar sekere kosse ?vermy, kan jy ’n tekort ontwikkel ?aan sekere vitamiene, minerale, belangrike vette en aminosure (boustene van proteïene).

Daarsonder is jou organe minder doeltreffend. Jou skildklier het bv. genoeg jodium, tirosien, selenium, yster en vitamien D nodig om goed ?te werk. Om serotonien, die goedvoel-hormoon, te vervaardig, is koolhidrate, vitamien B-kompleks en aminosure nodig. Te min serotonien beïnvloed jou eetlus en gemoed. (As jy ?“af” voel, eet jy waarskynlik meer!)

* Ongelukkig werk ?’n sekere dieet nie vir almal nie. ’n Lae-GI- ?of laevet-dieet kan jou vriendin se kilogramme laat smelt, maar nie noodwendig joune nie. Die rede is gewoonlik ’n kombinasie van reeds genoemde faktore en jou unieke gene.

* Die stres van “op dieet wees”, en die teleurstelling omdat jy nie daarop kan bly nie, maak jou ook vet. Want dit het ’n emosionele etery tot gevolg. Stres verander ook jou metabolisme en jy word dus vet.

Jy kan ’n eenvoudige kopskuif maak en kies om nie die slaaf van dan dié, dan daardie dieet te wees nie. Hou op dieet – en kies om beter te eet. En jóú “beter eet” is dalk nie heeltemal identies aan jou vriendin s’n nie. Probeer en probeer weer, tot jy die resep kry wat vir jou werk. Maar doen dit sonder om na dieetfoefies te gryp.