‘n Vriendin verjaar. Manlief neem jou uit vir ete. ‘n Naweek weg saam met vriende. Al jou goeie voornemens stukkend in die pad? Nee wat! Hierdie reg-of-weg-dieet-gedagtes verdien geen plek in jou kop, op jou Facebook-muur of in jou lewe nie.

Die partytjie, die ekstra glasie wyn, die bakkie spesiale nagereg na ete by ‘n spesiale geleentheid – dít is deel van die LEWE.

Mens het nie altyd heeltemal beheer oor die feit dat jy 4 uit die 5 dae só moeg en gedaan was, dat jy nevermind BeterEet™–gedagtes, géén gedagtes gehad het rondom dit wat jy by jou mond ingaan nie.

Soms is dinge buite jou beheer.

Wanneer dit so is, klim liewer van die wa af: besluit jy gaan die manier wat hierdie gebeure jou gedagtes, denke en handelinge rondom jou koskeuses, verander.

Daar is soveel faktore wat honger, versadiging, genoeg en genoegsaamheid beïnvloed. Byvoorbeeld het navorsers aan die Universiteit van Maastrich bevind dat die ‘soort’ vet in ‘n maaltyd ‘n rol kan speel in hoe versadig mens voel (lees gerus meer op www.betereet.co.za).

Hoe ‘baie’ ons eet – dus hoe vol die maag is, sal beïnvloed hoe die versadigingsboodskap gestuur word.

Kan jy nie ophou knaag nie– miskien is jou brein-chemie moeg, wat dit bitter moeilik gaan maak om versadig te voel ...

Jy hoef nie in jou ou gedagte-patrone te verval nie. Dis nie nodig om jou sakkie nog swaarder te maak deur jouself te blameer en jou pogings swart te smeer nie. Dis nie ‘n mislukking nie, dis ‘n tert, of ‘n koek, of ‘n aand uit met vriende.

En nee, jy hoef nie net omdat jy nou in die pad sit (of lê) uit moedeloosheid sommer die klippe ook te begin opeet nie. Dis nie nodig om die skade te verdubbel net omdat dit wat in jou lewe gebeur nie heeltemal inpas by jou voorgenome eet-riglyn nie.

Trek jou BeterEet™-veiligheidsgordels aan en klim stadig af.

Hier is ‘n paar wenke:

  • Moenie doodhonger na enige sosiale geleentheid gaan nie – eet iets klein voor jy gaan of maak ‘n vrugte-neute-jogurt-smoothie met bv. Wei-konsentraat of soja-konsentraat. Dit sal jou lekker vol laat voel.
  • Moet nooit op ‘n leë maag suiker, of enige kos wat hoog is in suiker, eet nie. Drink eers 2 koppies tee, en eet dan ‘n stukkie koek.
  • Skep op ‘n bordjie, of sit by die tafel. Pik-pik het jy geen idee wat jy besig is om in te laai nie.
  • Op die dae wat jy weet jy gaan in situasies beland waar jy nie beheer het nie, moenie maaltye ‘ uitlaat’  om op te maak nie. Maak liefs veral jou styselporsies kleiner en eet genoegsame ‘ maer’  proteïene om jou versadig te hou. (Meer hieroor in week 3 van die ‘ EEN NOMMER KLEINER’  projek.
  • Maak nie saak of jy ys eet nie, kou altyd fyn en probeer stadig eet. Altyd.

Môre is nog ‘n dag. Weer en weer en weer probeer is die belangrikste kos-, gewig- en gesondheidsdoelwitte. BETER is die wagwoord en Mnr. Dieet, met sy nare tassie vol uithonger en mislukkig, verdien om van die wa afgestamp te word om jou toe te laat om grasieus weer terug te klim

Jy kan dit doen?

[box:full:red:both]

Die sarie.com-span nooi jou om saam met ons aan BeterEet™ se leefstyl-plan deel te neem en een nommer kleiner te wees oor 6 weke. Jy kan klere uit die SARIE-winkel vir jou nuwe lyf WEN + 'n BlackBerry-selfoon.

[/box]