Jy dink: "Oe, nee, ek kan nie! Dis my behoud. Dit is my maatstaf van sukses. Ek het 5 kg verloor. Ek voel fantasties! Dit is motivering vir die volgende 5 kg. En nog 5... Totdat dit een oggend gaan staan, of stadig minder word, of méér?!

En dan lê jy (miskien letterlik) op die koue badkamervloer langs die middelpunt van jou oggendroetine: die skaal. Verpletter. Moedeloos. Mislukking. Het jy al ooit gehoor van enigiemand wat met dieselfde entosiasme vertel hoe hulle alles weer opgetel het na hulle maraton sukses met ‘n spesifieke dieet? NEE.

Ek het al. Die verrinneweerdes sien ek in my spreekkamer. Die nerwe is af van die selfbeeld. Die metabolisme is stukkend. Die entosiasme is nul.

As jy jouself hierin herken is dit tyd vir ‘n kopskuif: As jy op die skaal klim en dit wys áf, is jy óp! Jy voel goed. Vertel vir almal van jou nuwe ‘fantastiese’ dieet. Dan as die simpel ding nie wil ‘saampraat’ nie, wil jy wegkruip en aansluit by seekoei anoniem?

KOPSKUIF = LYFSKUIF. Die kop en die lyf is aan mekaar vas. Smyt hom weg. Die euwel, die skaal

Hoekom?

Want dit is alles leuens. Blatante bemarking. Mafia-tegniek. Al wat die skaal meet – jou gewig in kilogram of ponde – is die krag waarmee die aarde jou aantrek. Hahaha!

Regtig. Dit is die definisie van gewig waaraan die helfte van die vroulike populasie daagliks – soms meer as een keer per dag hulle selfwaarde, selfbeeld, nut, geluk, skoonheid ensovoorts meet.

Hoe sterk die aarde jou aantrek.

Lag jy?!

Dít is ten minste goed vir gewigsverlies. Daarenteen is die daaglikse weegsessie vir die meeste vroue ‘n stres-sessie, en ons weet almal hopelik teen hierdie tyd dat stress vet maak!

Kom, jy kan! Ek weet dis moeilik maar dit sal jou buitengewoon bemag as jy hierdie slag die doodskoot goed toedien en die skaal nie bêre nie, maar wegsmyt

Te moeilik? dan ten minste uitsmyt. Bêre hom ver in die boonste, verste, hoogste boks bo-op die hoogste rak in die garage. (Dis ‘n vergunning indien jy voel jy mors nou geld. Dis meer effektief om hom regtig uit te smyt.

Dit ‘mors’ met jou menswees is baie duurder as die paar rand wat ‘n skaal kos. Gewig vertel jou nie dat die versteekte vet om jou lewer begin minder word omdat jou bloedsuiker meer stabiel is omdat jy begin het met ‘brokkie’ oefeninge nie. Lees hier: Oefen sonder om 'n vinger te lig.

Gewig vertel jou nie jy word swaarder as jy by die gimnasium aansluit nie.

Gewig vertel jou nie jou lyf is besig om te verander omdat jy meer groente eet en daarom minder inflammasie het wat selle laat ‘oppof’ met water nie.

Gewig vertel jou nie dat jy ‘n pragtige, unieke mens is nie.

Gewig vertel jou nie jy verloor spiere – en jou metabolisme word te stadig as jy te min of verkeerd eet nie.

Hoe meet ek dan my sukses? Of mislukking. Kom ons praat liewer van net gewoon vordering or situasie.

Jy vorder op soveel ander maniere as om ‘minder’ te weeg. Jy vorder as jy dit regkry om elke dag 3 etes te eet en beter koskeuses te maak. Jy vorder as jy die trappe klim in plaas van die hysbak neem. Jy vorder as jy ophou eet as jy versadig voel. Jy vorder as jy nuwe dinge leer oor kos en ou-vrou-stories en mites afstof en ook uitgooi (lees gerus meer elke dag hieroor op Facebook/bettereat).

Lyfgewys kan jy jou ‘vordering’ meet aan ‘n broek of rok wat nie van ‘n rek-soort materiaal gemaak is nie. Nee, nie een wat 2 nommers te klein is nie, een wat jy nou kan dra. Daaraan gaan jy kan voel of dinge beter word al dan nie.

Een oggend gaan jy opstaan en weet jy het dít reggekry. Miskien met hulpmiddele soos ‘n spesifieke aanvulling, maaltydplaasvervanger of behandeling – maar sonder die skaal. Dan is jy, en nie iets of iemand anders, in beheer van jou verhaal.

Ek weet elke vrou kan! Vertel my as jy het nie meer die slaaf is van jou skaal nie! En meet jou suksesse op ander manier wat meer akuraat is.

Kyk gerus ook na middelomtrekmate op www.betereet.co.za

Tot volgende keer – gewigloos en vry!

Mariza van Zyl RD(SA)

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

[box:full:red:both]

GROOT NUUS!

Ons daag jou uit om saam met sarie.com en Bettereat 'n spesiale 6-week-leefstylplan te volg. Dié plan is spesiaal deur ons dieetkundige, Mariza van Zyl, ontwerp en gaan sorg dat jy beslis een nommer kleiner is! Pas dan jou nuwe lyf in pragtige ontwerpersklere uit ons winkel as jy klere ter waarde van R2500 kan WEN!

Klik hier vir al die inligting

[/box]