Het jy al ooit gewonder waarom jy net nie kan volhou met daardie ‘streng’  dieet wat so goed werk nie? Ja – dié soort diëte is gewild so net voor die somer  - en jy hou uit om min van alles te eet, maar jy kan dit net vir só lank volhou.

Dit gaan hier oor vet, of die gebrek daaraan wat jou maklik ‘meer’ laat eet.

Vet.   

Die meeste mense wat al ooit, of steeds of nog altyd, ’n bietjie sukkel met ’n ekstra vetjie om die lyf, dink dadelik: O ja, myne sit om my maag, of my boude, of my heupe. Maar nee, ek bedoel nie daardie vet nie.  Ek praat van die vet wat in kos is – of nié meer daar is nie.

Verlede week het ek vertel hoe gekonsentreerde bronne van koolhidrate jou beste dieetpogings in die wiele kan ry omdat jy nie besef HOEVEEL jy eintlik eet nie, selfs al eet jy sogenaamde LOW GI of LAE vet. Feit bly staan, koolhidrate en VET in jou dieet is interessante dansmaats. Wetenskaplikes is dit eens dat dit byna onmoontlik is om ALBEI hierdie komponente uit jou dieet te skakel.

Ja, party mense kry dit wel reg om vir ’n kort periode bv. geen vet of bitter min vet te eet EN geen of bitter min stysel te eet. Maar op die lange duur SAL jou lus, wat eintlik jou liggaam se behoefte is aan voedingstowwe en energie, jou oorval. Só ’n dieet is net nie smaaklik nie, wat nog te sê van gesond. Mmm... en al die tyd het jy gedink daar’s iets fout met jóú! Nee, glad nie – die fout lê by die dieet!  Ek verduidelik:

Wat gewoonlik gebeur as jy net produkte met LAE VET of VETVRY of VERMINDERDE VET gebruik, is dat jy produkte koop waarop staan dat dit ‘laag in vet’ is. Soms kies jy opsies wat net 3 g vet of 5 gram vet per 100 gram bevat. Onwetend trap jy dan gewoonlik dan in ’n slaggat, want dié opsies bevat dikwels meer koolhidrate of meer bymiddels, of dit is meer smaakloos. Die gevolg? Jy word deel van die statistiek van ‘gefaalde’ gewigsverlies/gewigsbeheer op ’n ‘laevet’-dieet. Want dit is nie volhoubaar nie -  dit proe sleg en dikwels ís dit ook sleg vir jou.

’n Baie eenvoudige simptoom van te min vet is dat jy nie ‘genoeg’ kry nie. Die rede hiervoor is dat vet nodig is om kos ‘smaak’ te gee EN vet druk die ‘versadig’ -knoppies in jou brein. Miskien klink dit bekend: Jy eet ’n hele pak jellie-lekkers sommer tjoef-tjaf op, want dit is mos  vetvry?! Ja, dis vetvry, maar dis BAIE meer sinvol om 4 blokkies sjokolade te eet, want dáárna sal  jy waarskynlik kan sê: Ek het genoeg gehad!

Veel belangriker as ‘hoeveel’  vet is WATTER SOORT vet. Wêreldwyd word die ‘LAE-VET’- dieet al meer gekritiseer. Vir seker is die groeiende aantal mense wat met gewig sukkel ’n bewys van hoe dit NIE gewerk het nie. En dit ten spyte van MILJARDE spandeer aan ‘onderrig’ en ook ‘spesiale’ produkte vir dié soort dieet.

Onthou dus: die SOORT VET is baie belangriker as die hoeveelheid vet. Dis nou as jy bekommerd is oor jóú ‘vet’ en ook jou gesondheid!

Meer hieroor ’n volgende keer.

Lees gerus meer op www.betereet.co.za en wenke vir beter, skoner tog lekker koskeuses op facebook/bettereat.

Mariza van ZylGeregistreerde Dieetkundige Facebook/bettereat

www.betereet.co.za

* LEES AL MARIZA SE DIEET-BLOGS HIER