y borsel soggens getrou ná ontbyt jou tande. Jou gesonde verstand sê eerder dan as vóór ontbyt. Daar is egter mense wat glo jy moet dit voor ontbyt doen, veral as jy suur kosse of vrugtesap vir ontbyt eet. Hoe nou? Só neem jy heeldag besluite wat jou gesondheid raak, soms sonder dat jy dit besef. Daar is heelwat dinge om na op te let vir beter gesondheid. (En ander waarvan jy maar gerus kan vergeet.)

1. Moet ek etenstyd werk of ’n entjie gaan stap?

Gaan stap. Jou kop én lyf het dit nodig. Dit doen jou meer kwaad as goed as jy deur etenstyd werk. Studies toon jy is dan minder produktief in die tweede helfte van die dag. Omdat oefening die bloedvloei na jou brein aanhelp, verbeter jou konsentrasie én produktiwiteit. Dit beskerm jou boonop teen die energie-insinking wat jou in die middel van die dag loom en lui maak. ’n Studie wys as jy net 10 minute lank loop, gee dit jou ’n groter energie-hupstoot as ’n koppie koffie. En loop jy 20 minute lank, kan dit jou stresvlakke tot twee uur daarna verlaag. Kry ’n kollega om saam met jou te gaan stap, dit maak dit makliker om by jou goeie voorneme te hou. Vir Marlene Vermaak, dieetkundige van Pretoria, is dit egter belangriker dat jy gedurende middagete iets eet. As jy dan nog tyd het om te gaan stap, soveel beter.

2. Is 'n middagslapie goed vir jou?



Dit hang af. As jy snags sukkel om te slaap moet jy dit eerder vermy. Dit kan net jou slaaploosheid vererger, veral as dit langer as ’n halfuur is. Kenners glo wel ons liggaam is geprogrammeer om in die middel van die dag ’n uiltjie te knip. Dalk moes dit ons oer-grootjies toeka uit die warm middagson hou. As jy baie geëet het, maak dit dinge nie juis makliker nie. Dis dan nog moeiliker vir jou liggaam om teen die vaak te stry. Hier is goeie redes vir ’n middagslapie (so tussen 15 tot 30 minute lank):

  • Dit verminder stres. Mense in die Mediterreense lande en Latyns- Amerikaners, wat ’n siësta in die middel van die dag neem, vaar beter in stres-toetse as die Amerikaners.
  • Navorsing toon dit verminder jou risiko op hartsiektes. Dit verbeter jou vermoë om aandag aan detail te gee en belangrike besluite te neem. Bron: Power Sleep deur dr. James B. Maas (HarperPerennial, 1998).

3. Is dit ongesond om met nat hare te gaan slaap?

Ongeag of jy met nat hare gaan slaap of nie - as ’n verkouevirus jou liggaam binnegedring het, gaan jy waarskynlik siek word, sê dr. Patrick Kenny van die departement gesinsmedisyne aan die Universiteit van Pretoria. Dit kan jou ook nié hoofpyn gee nie. Ook nie ’n kopvelsiekte nie. Jy kry kopvelinfeksies by besmette bronne, soos mense, besmette haarborsels/kamme en diere.’n Skimmel-infeksie op die kopvel (Tinea capitis, oftewel omloop van die kopvel) kom meestal by kinders voor. Hul immuunstelsel ontwikkel nog en dit maak hulle meer vatbaar vir vel-infeksies.

4. Is speelgoedsonbrille (van plastiek) skadelik vir klein kinders se oë?

Volgens Trish de Jager, oogkundige by Mellins I Style, Table View, Kaapstad, moet ’n sonbril se lens die volgende eienskappe hê:

  • Dit moet jou oë teen UV- en infrarooi-strale en weerkaatsing (glare) beskerm.
  • Dit moenie die lig verwring nie. Om te kyk of dit die lig verwring, draai die bril onderstebo (m.a.w. met die binnekant van die brillense na bo) en hou dit teen ’n fluoressent-lig. Die lig wat daardeur beweeg, moet reguit bly. Jy sal dit kan sien.
  • Beskerm reeds vroeg jou kinders se oë. As hul oë kleintyd beskadig word, kan dit jare later tot oogprobleme lei.
  • Koop sonbrille liefs by ’n oogkundige of ’n geregistreerde sonbrilwinkel, wat die optiese gehalte kan waarborg.

5. Moet ek my tande vóór of ná ontbyt borsel?

Ná ontbyt, sê prof. Flip van Wyk, hoof van die departement gemeenskaptandheelkunde aan die Universiteit van Pretoria. Jy raak dan van plaak en stukkies kos tussen jou tande ontslae, asook enige suiker wat tandbederf kan aanhelp. En die fluoried in jou tandepasta kan dan ook sý towerstaffie swaai en jou tande sterker maak. Maar daar ís mense wat glo jy moet jou tande vóór ontbyt borsel, veral as jy suur kosse (lemoene, pomelo’s) eet en vrugtesap drink. Die argument is dat dit jou tand-emalje sag maak. Borsel jy direk daarna jou tande, kan dit die emalje beskadig en tandbederf veroorsaak.

Flip is egter skepties. Die rukkie wat die vrugtesap met jou tande in aanraking is, is te kort om soveel skade aan te rig. Want gewoonlik eet jy iets (soos ’n eier of pap) ná die glas lemoensap en die suur kry dus nie kans om jou tande te beskadig nie. Sekere vrugtesappe is wel suur genoeg om jou tande te beskadig, maar dit moet lank met jou tande in aanraking wees, sê hy. Te veel energiedrankies kan ook sleg vir jou tande wees - weens die baie suiker daarin. Hy sien dit by rugbyspelers en fietsryers wat dit aanmekaar drink.

6. En wat van ná middagete? Moet ek daarna my tande borsel?

Volgens Flip is dit heeltemal genoeg as jy jou tande soggens en saans deeglik borsel en een keer per dag vlos. As jy dit in die middag kán borsel, doen dit. Maar dis dikwels nie prakties nie. Dis belangrik dat jou borsel sag tot medium is. As dit te hard is, kan dit jou tandstruktuur beskadig.

7. Moet ek soggens of saans oefen?

Daar is nie ’n “regte” tyd om te oefen nie, aldus Karin Visser,’n biokinetikus van Kaapstad. Solank jy net uiteindelik meer kilojoules verbrand as wat jy ingeneem het (as jy gewig wil verloor). As jy tevrede is met jou gewig, moet daar net ’n balans wees tussen wat jy inneem en verbrand. Volgens die webblad www.answerbag.com het albei tye voordele.

As jy soggens oefen:
As jou dag besig raak, het jy klaar geoefen. Navorsing toon mense wat gereeld oefen, doen dit soggens. As jy statistieke moet glo, is die kans dus beter dat jy daarmee gaan volhou. Oefening hou jou brein skerp vir vier tot tien uur daarna. Baie mense wat soggens oefen sê hulle het meer energie daarna. Party mense beweer hulle is ná ’n vroeë oefensessie die res van die dag minder peuselrig.

As jy smiddae of saans oefen:
Dit gaan jou nie uit die slaap hou nie. Navorsers sê jy kan oefen tot so 30 minute voordat jy bed toe gaan - sonder dat dit jou nagrus verstoor. Dit kan jou dalk selfs help om vinniger aan die slaap te raak. Jou spiere is reeds warm en meer soepel voor jy begin oefen. Dit help jou om van die dag se stres ontslae te raak. Maar uiteindelik is die ideale tyd vir oefen wanneer dit vir jóú die beste werk.

8. Wanneer is die ideale tyd om te eet - voor of ná oefening?


Jy weet jy moenie op ’n leë maag oefen nie. Dit beteken egter nie jy moet ’n driegangmaal kort voor ’n oefensessie eet nie. Hoe nader daaraan, hoe minder moet jy eet. ’n Goeie reël is om nie te eet in die twee uur voor jy oefen nie. Anders gaan jy swaar en nie lekker voel nie. Wag ook ’n uur ná oefening voor jy eet.  Iets ligs is wel toelaatbaar, voor en ná die tyd, soos vrugte, jogurt, water en sappe. (Sien ook volgende vraag.) Marlene Vermaak wys tereg daarop dat dit ook afhang van die vlak waarop jy oefen. As jy aan kompetisies deelneem, laat ’n dieetkundige vir jou ’n spesiale eetplan uitwerk.

9. Kan ek op ’n vol maag swem?

Net soos in die geval van ander fisieke oefening moet jy sowat ’n uur wag - veral as dit ’n groot maaltyd was. Meer bloed vloei dan na jou spysverteringstelsel om die kos te help verteer. Jy het dan minder bloed in die grootspiere wat jy gebruik as jy oefen. Die kanse is groter dat jy krampe kry. Op die webblad www.madsci.org word gesê die “ouvrou-storie” dat jy nie op ’n vol maag moet swem nie, het waarskynlik ontstaan omdat jy met jou gesig na onder swem. Dit kan dalk die kanse vergroot dat jy naar word.

10. Moet ek met gewigte oefen vóór my aërobiese oefeninge, of andersom?

Dit hang van jou doelwit af.
Jy wil kilojoules verbrand: Doen eers aërobiese oefeninge en oefen dan met gewigte.
Jy wil aërobiese stamina ontwikkel: Dalk wil jy die Comrades hardloop. Dan kom die aërobiese oefeninge eerste.
Jou doelwitte is gemeng: Jy wil jou spiere meer definisie gee, aërobiese stamina opbou en kilojoules verbrand. Dit maak dan nie juis saak wat jy eerste doen nie. As jy die beste uit albei soorte oefening wil kry, kan jy dit dalk op alternatiewe dae doen. Aërobiese oefeninge Maandag, Woensdag en Vrydag en gewigte Dinsdag, Donderdag en Saterdag.
Jy wil spiere bou: Jou hoofdoel is bultende spiere. Oefen dan eerste met gewigte, omdat al jou energie daarin gepomp word. Jy sal ook meer tyd aan die gewigte bestee as aan aërobiese oefeninge. Dit beteken nie laasgenoemde is nie belangrik nie - dis nodig om jou hart, longe en bloedvate gesond te hou. Jy kan dit dalk doen om op te warm.

Jy wil mooi gedefinieerde spiere hê: Die gewigte waarmee jy oefen, gaan nie so swaar wees soos wanneer jy spiere wil bou nie. Jy kan dit dus vóór of ná jou aërobiese sessie doen. Dis nou as jy nie te hard tydens jou aërobiese sessie werk nie. As jy egter aërobiese oefeninge doen tot jy lê, is dit dalk wyser om eerste met die gewigte klaar te speel - anders gaan jy nie energie hê om die verlangde herhalings te voltooi nie.

Liggaamsritme: Elkeen het sy eie ritme (sommige mense is byvoorbeeld aandmense, ander is oggendmense) en energievlakke verskil. Party mense voel hulle kry meer gedoen as hulle eers aërobiese oefeninge doen en dan met gewigte oefen, en omgekeerd.

Hoe lyk jou program? Te min tyd is die hoofrede waarom mense nie met ’n oefenprogram volhou nie. Die belangrikste is dus om plek in jou besige skedule vir oefening te maak, ongeag wat jy eerste doen. Bron: www.tinajuanfitness.info

11. Wat is die gesondste - tee of koffie?

Daar is bewyse dat tee baie meer voordele vir jou gesondheid inhou as koffie. Veral groentee is ’n bron van kragtige antioksidante. Japanse navorsers het bevind vroue wat minstens vyf koppies groentee per dag drink, verminder hul risiko met ’n derde om aan ’n hartaanval te sterf. Swart tee (dus gewone Engelse tee) hou skynbaar dieselfde voordele vir jou hart in. Navorsers het ’n groep vrywilligers ses weke lank aan stresvolle situasies blootgestel. Dié wat gereeld swarttee gedrink het, het kalmer gevoel as ’n tweede groep. Lg. groep het ’n ander drankie gedrink, met net soveel kafeïen soos tee. Teedrinkers het ook laer vlakke van kortisol, die stres-hormoon wat klaarblyklik ’n belangrike rol by hartsiektes speel. Drink jou tee liefs swart. As jy melk bygooi, meng dit met die antioksidante se werking in. Koffie het dalk nie dieselfde gesondheidsvoordele as tee nie. Maar ’n 20 jaar lange studie het bevind jy kan tot ses koppies ’n dag drink sonder dat dit jou risiko op hartsiektes verhoog. Bron: www.prevention.com

12. Moet ek net ’n toebroodjie (iets ligs) vir middagete eet of ’n behoorlike maaltyd?

Wat ook al vir jou prakties is, sê Marlene. Nie almal kan smiddae by ’n tafel met ’n bord kos gaan aansit nie. Dan is ’n toebroodjie heeltemal genoeg. As jy eet net voor jy gaan slaap, moet jy liewers iets ligters eet. Annelie Smith, dieetkundige van Kaapstad, reken weer dis meestal beter om iets ligs in die middag te eet. ’n Groter maaltyd kan jou soms slaperig laat voel, veral as dit baie koolhidrate bevat. Eet proteïene (hoender, vis, peulgroente, suiwel of vleis) saam met koolhidrate (vrugte, grane en groente). Dit sal jou ook help om nie deur die middag te peusel nie.

13. Wat is die beste, ontbyt-graankos of roosterbrood?

Volgens Marlene maak dit nie regtig saak nie. As jy gewig wil verloor, eet ontbytgraan met ’n hoë veselinhoud en vetvrye melk. As jy nie wil verslank nie, kan jy roosterbrood/rogbrood met ’n gekookte eier of vetvrye maaskaas eet. Plus ’n vrug vir ekstra vesel. Annelie sê ook albei is in die haak, solank dit baie vesel bevat en nie te veel verwerk is nie. Ontbytgrane bevat soms meer vesel en ekstra vitamiene.

14. Moet ek water drink terwyl ek eet?

Drink enige tyd water, dis goed vir jou, sê Marlene. Soms is daar egter ’n mediese rede om minder te drink, bv. by sommige pasiënte met nierversaking. As jy ’n diafragmabreuk het, kan dit jou sooibrand gee as jy te veel water saam met etes drink. Annelie waarsku ook dit kan jou dalk oormatig vol en ongemaklik laat voel.

15. Is dit gevaarlik om kougom in te sluk?

Dis ’n bogstorie. As jy per ongeluk kougom insluk, neem dit nié sewe jaar om te verteer nie! Volgens Marlene sal dit normaal uitgeskei word.

16. En as jy peper eet?

Nee, wat, sê Marlene. Gebruik dit matig, soos alle geurmiddels.