Hoekom kry Karlien van Jaarsveld ’n drup?

Sy is glad nie siek of in ’n hospitaal nie. Inteendeel, die Afrikaanse sanger Karlien van Jaarsveld voel soos ’n nuwe mens. Haar geheim? ’n Weeklikse vitamiendrup.

"Die effek is ongelooflik. Ek voel soos 'n nuwe mens. Ek het nuwe krag en energie en voel gesond en lewendig," het Karlien aan Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur, gesê.

Gister het Karlien ’n foto van haarself op Instagram geplaas waar sy haar "weeklikse drup" ontvang het.

Karlien het dit aangepak oor sy sukkel met haar energievlakke en "deur die dag baie moeg is". "Ek kry dit in dié stadium een keer per week tot ek ses druppe gedoen het. Daarna kry ek dit elke maand," verduidelik sy.

Maar sy is nie al een wat dit laat doen nie. Danielle de Villiers, AB de Villiers se vrou, is ook ’n aanhanger.  

In Suid-Afrika is vitamiendruppe dalk ’n "nuwe" gonswoord en gier, maar in Hollywood is dit al ou nuus. Bekendes soos Madonna, Cindy Crawford, Gwyneth Paltrow, Rihanna en Cara Delevingne gebruik dit, berig The Australian.

'Vitamiene is nie Smarties nie'

Maar SARIE se dieetkundige, Mariza van Zyl, meen jy kan "meer kwaad as goed doen op die lang duur".

"Vitamiene is nie Smarties nie. En op die lang duur kan jy selfs toksisiteit in jou liggaam veroorsaak."

Mariza beveel die vitamiendrup nie aan nie, veral nie vir iemand wat geen vitamientekort het nie of wat nie ernstig siek is nie.

"’n Vitamiendrup is net ’n korttermyn-pleister - dit kan nie ’n gebalanseerde dieet wat uit ’n verskeidenheid kosse bestaan, vervang nie."

Maar volgens dr. Eunice van Wyk, ’n algemene praktisyn by FemMed Health, die Pretoriase kliniek waar Karlien haar behandeling ontvang, is dit nie sommer net ’n gesondheidsfoefie nie - dit toon werklike resultate.

"Almal het ’n mate van inflammasie, in enige stadium van hul lewe, weens stres, ’n ongesonde leefstyl, besoedeling, harde oefening en ’n wanbalans in hormone. Dit sit ons lewer onder geweldige druk en so raak die natuurlike detoksproses minder doeltreffend. Die gevolg? Pasiënte wat moeg is, maar sukkel om te slaap of te veel slaap, lae energie-vlakke en ’n terneergedrukte gemoed."

Dr. Van Wyk meen die volgende resultate kan verkry word:

- Meer energie

- Beter gemoed

- Beter slaappatrone

- Beter vel (oor die detoks wat plaasvind)

- Makliker gewigsverlies (oor jou lewer ondersteun word)

Volgens dr. Van Wyk is hul drup ’n noukeurige resep met 9 bestanddele en dit word net deur dokters toegedien.

"Dit word ook aangepas per individu. Dit werk op fosfolipied-uitruilterapie en fokus sterk op selwandgesondheid sodat die selle doeltreffender funksioneer. Almal het dit nodig, party mense net meer as ander."

Maar dr. Van Wyk sê sodra jy daarmee ophou, sal jou toestand stadig maar seker terugkeer na waar jy voor die behandeling was.

"Jou lyf kan ook net soveel op ’n slag opneem, daarom beveel ons aan dat jy ’n drupskedule voltooi. Dit begin met ’n weeklikse drup vir 4 - 6 weke. Daarna hoef jy net elke 2,3 of 4 weke ’n drup te kry."

Volgens Marisa Ravenscroft, woordvoerder van Skinrenewal, sal elke pasiënt ’n volledige mediese ondersoek moet ondergaan voor die eerste sessie.

Die behandeling is nie geskik vir swanger vroue nie. Dr. Van Wyk, wat self swanger is, het dit voor haar swangerskap gereeld gebruik.

"Vir my, as mamma van ’n 3-jarige en 2-jarige én in ’n nuwe praktyk, het dit ’n groot verskil gemaak. Ek kry môre my derde dogtertjie en ek sien daarna uit om ná die geboorte die behandeling te hervat."

Een drup sal jou R1 200 uit die sak jaag. En vir vier of meer druppe sal dit jou R1 000 per drupsessie kos.

Dr. Dawid Perold, ’n algemene praktisyn van Robertson, sê hy sal nie "sommer enigiets in sy pasiënte se are spuit nie".

"Veral nie sonder mediese navorsing wat dit ondersteun nie."

Maar Karlien glo dié behandeling maak ’n groot verskil in haar lewe en sy sal nie "sonder die druppe gaan nie".

Lees nou

Só het Blake Lively haar bikini-lyf terug gekry!

5 goedvoel-stories