Christelle Taute (43) is op 29 jaar oud met meervoudige sklerose gediagnoseer. Sy blog oor haar reis met dié siekte.

Lees die eerste inskrywing hier

September 2000 – Junie 2002

Dit klink dalk soos ‘n negatiewe opskrif, maar dit is glad nie hoe dit gesien moet word nie.  Ek probeer net ‘n naam vir die twee jaar gee wat dit gevat het tot ek my bevestigde diagnose gekry het.

Na omtrent drie weke kon ek weer perfek sien soos vantevore, daar was niks wat gepla het nie.  Ek het nie siek gevoel nie, het nie siek  gelyk nie.  Tydens die drie weke wat dit gevat het om weer “normaal” te word, het ek saam met vriende Sting se konsert in Johannesburg bygewoon en hoewel die oog bietjie van ‘n irritasie was, het dit my nie gekeer om nog steeds ‘n ongelooflike belewenis te he nie, ek het mos nog ‘n ander gesonde oog gehad!

By die werk het dit beter as ooit gegaan.  Ek het my voete gevind in my verkoopsposisie, afsprake gemaak soos ‘n besetene en rondgery om al die kliente te sien.  In my daaglikse gewoel het ek nie ‘n sekonde gespaar om aan siektes te dink nie en ek het my loopbaan gebou asof dit die alfa en omega van my bestaan was.

Net so hard soos ek gewerk het, net so hard het ek gespeel.  My sosiale lewe het geblom.  Ek het baie mense in my lewe en met dankbaarheid kan ek se dat baie van hulle ook ware vriende is.  My lewe het net aangegaan soos voorheen.  Niks het verander nie, al het my kop vir my gese iets moet.  Daar was iets wat in my agterkop geknaag het, nooit hard aan die skree nie, maar altyd aan die fluister .... wat as?

Ek kan eerlik nie se dat my lewe daadwerklik verander het nie.  Ek kan nie se dat ek ewe skielik my feilbaarheid en die kortstondigheid van die lewe besef het nie, maar ek het gewonder en ek het getwyfel of ek aan die toekoms kon werk, soos ek my voorgestel het dit moet wees.

Google het een van my beste vriende geword.  Ek het na antwoorde gesoek daar iewers in die kuberruim.  Dis gevaarlik.  Simptome kan op meer as een toestand van toepassing wees en met die geringe inligting tot my beskikking het ek tot allerhande gevolgtrekkekings gekom wat glad nie akkuraat was nie.  Daar was ook toestande beskryf wat vir my erger as MS geklink het en ek was verheug dat dit nie was wat die oujongnooi aan my voorgehou het nie, maar daar was ook dit wat baie meer aanvaarbaar geklink het en ek het na al die halmpies begin gryp in my kop.

In my kop se ek, want buite was alles wonderlik.  Ek het die opgewekte, gedrewe, vriendelike, care-free persona wat ek nog altyd was bly voorhou.  Dit was ook nie net toneelspel nie, ek het dit regtig gevoel, ek het nog steeds soos ek gevoel en ek het my voorgeneem om nog steeds die meeste uit die lewe te haal soos ek nog altyd het.

My deursettingsvermoe by die werk het vrugte afgewerp en in 2001 is ek beloon vir my uitstekende resultate met ‘n reis Egipte toe.  Wat ‘n voorreg.  ‘n Nuwe kultuur om te ontdek, nog ‘n land om af te merk.  Dit het weer soos die sorgvrye lewe gevoel toe ek van 1995 – 1997 in London gebly en van daar deur Europa getoer het.  Min het ek geweet dat die intense hitte my baie moeg sou laat voel, by tye sou laat wens ek kan net huistoe gaan, en nog ‘n luikende simptoom wees van die monster wat binne my skuil.

My lewe was fantasties, en dit is nog steeds.  Soms dink ek net terug aan die dae toe ek nie geweet het nie.  Toe my lyf nog saamgespeel het soos wat ek wou he en toe ek net gewonder het of die oujongnooi reg was.

Lees die eerste inskrywing hier